Van plonsput tot botterspinnekop

(Bos stories)

Rondomtaliedraai vertel van die nuwe Wilde Woordeboek wat  kostelike afrikaanse woorde bevat. Terwyl ek die vervangingswoorde vir “longdrop” lees, raak ek nostalgies en onthou mý ondervinding in so ‘n … plaaspardoems.

LONGDROP VOORBEELD - Internet: Rangitoto Iland
LONGDROP VOORBEELD – Internet: Rangitoto Iland

As skoolkind was my besoek aan die dieptroon gewoonlik vroeg, baie vroeg. Voor ligwording, nog voor ons die halwe kilometer tussen die lande na bo moes deurstrompel teerpad toe. Daar sou ons bibberend wag vir die skoolbus om ons op te pik. Menigmaal het ons afgekom op half gevriesde slange in die bospad wat vroegoggend agter warm sonkolletjies aanseil.

Die gemakgat was nie baie gemaklik nie en koud vir die ontblote boude. Want bo die sinkplate wat pa aanmekaar getimmer het was dit oop en kon die wind selfs van onder jou verras. Daarom het ek dié oggend sommer bloots op my hurke gaan sit, bo-op die plonsput.

Dis toe dat ek die fluisterende kielie-kielie op my boboud gewaar.  Ek frons – is dit verbeelding? Dit voel so liggies, saggies, hier in die  halwe skemerlig. Sonder om te dink vat my hand oor die kielie en ek voel die kraak van ‘n yskoue wawielspinnekop wat perfek in die grootte van my hand pas! Al wat ek verder kan vertel is dat ons albei deur die lug geplons het, soos ek soos wind die plonsput agter my verlaat het …

DIE GOUE WAWIELWEBSPINNEKOP  (Argiope cuspidata)

Die Wawielspinnekop se byt is nie giftig nie, alhoewel baie seer. Inteendeel, daar word vermoed dat die poli-amien toksiene potensieël terapeuties kan wees!

KARONGWE WAWIELSPINNEKOP langs die Makutsi rivier.
KARONGWE WAWIELSPINNEKOP langs die Makutsi rivier

Hulle het stewige, lang, ovaal, duidelike geel-en-swart agterlywe wat met verskillende patrone versier is. Met hulle lang bene kan hulle nogal vreesaanjaend voorkom. Dit is egter net die wyfie wat so groot word en koponderste- bo aan goue drade hang.

Die wawielspinnekop het baie natuurlike vyande en verskeie voëls, ander insekte en ook diere soos blouapies vang hulle.

‘n Nuwe spesie is onlangs ontdek wat as ‘n reus beskou word tussen die web-bewoners “Nephilakomaci.”

Hulle is egter baie skaars en is nog net in KwaZulu-Natal aangetref. Niks is bekend oor die gif van die nephilas vir mense nie. Die spinnekop kom min in aanraking met mense aangesien hulle vinnig wegvlug as gevaar dreig.

SPINNEKOPWEB langs die Makutsi 2013 (Foto: Blommie DMD215)
ANKERDRADE van ‘n spinnekopweb langs die Makutsi rivier 2013.  Let op die grootte van die wyfie reg in die middel van die web.   (Foto: Blommie DMD215)

GOUE WAWIEL-WEBNEPHILAS

As jy van naby na ‘n wawielweb kyk, sal jy dalk ‘n baan sigsagdrade van die middel af sien uitstraal – wetenskaplikes noem dit die stabilementum. Hierdie spinnekop is van ons grootste web-bouers wat met goudkleurige sy spin. Die grootte laat menig wildkykers vries omrede die sydrade besonder sterk is en tot klein voëltjies kan vang. Die wyfe sit gewoonlik heel opvallend in die middel en verlaat nooit die webhuis nie. Daar vang sy  daagliks vlieënde insekte op.

Nou ja, kom ons klim die Jeep en gaan soek botterspinnekoppe. Hoe nou? Nee dankie? Niemand wil saam ry nie?

Jeep Karongwe

Gedurende April span die wyfie haar web oor die pad en kan jy nie waag om sonder ‘n groot tak op die oop Jeep die bosse in te rits nie. Die voorste persoon steek dan die tak vooruit, sodat dit die spinnekop en web voor die tyd opvang en die drade of spinnekop nie binne in iemand se hemp beland nie. Chaos!

Glo my – sekere mense (mans ingesluit) is banger vir so ‘n spinnekop binne die Jeep dan ‘n leeu buite die Jeep. Gillend spring hul af of skuif op, en moet die spinnekop eers gevang word voordat hulle dit waag om terug te klim!

PROOIVANGER 'n Wawielspinnekop spin haar vangs toe om later aan te vreet
PROOIVANGER: ‘n Wawielspinnekop spin haar vangs toe om later aan te vreet

Moet dus asb nie volgende keer uit die Jeep spring wanneer hierdie spinnekop jou boud kielie nie. Hulle is pragtig en skadeloos!

Stem jy?

(Fotos geneem deur Blommie – DMD215)

Advertisements

Vullisverwyderaars van die natuur

Rondomtaliedraai se uitstappie oor die Aasvoëls by die slagpale het hierdie ondervinding in herinnering geroep:

“Hi, pssst! Het julle gehoor, die Mega-pride-wyfies het ‘n kameelperd platgetrek langs die Ntsemani loop… “

“Lets go..o..o!”  Ek voel hoe die warm bosveldwind ‘n paadjie deur my hare kloof terwyl opgewondenheid deur are bruis. Toe ons hulle wel vind, is daar ‘n senuagtigheid te speur tussen die trop, wat kort-kort sal opkyk terwyl hulle aan die karkas vreet.  Skielik vries die oerwoud – want van ver kan jy die gegrom hoor van ‘n ander wilde dier wat nader beweeg: Dis die maanhaarkonings van die oerwoud wat ook oppad is hierheen …

'VERSIGTIG JULLE - HIER KOM PA!"  Leeuwyfies met kroos eet aan 'n platgetrekte kameelperd. Leeumannetjies kan vangs afvat by die wyfies.
‘VERSIGTIG JULLE – HIER KOM PA!” Leeuwyfies met kroos vreet aan ‘n platgetrekte kameelperd. Leeumannetjies kan vangs afvat by die wyfies en kleintjies wat in die pad is dood byt.

Opgewondenheid pluk-pluk aan my hart terwyl die verkyker die toneel hier reg voor my stoep laat afspeel. Alhoewel die bedrywigheid redelik diep in die bos afspeel, bring die lens elke aksie nader.

Heelwat later, terwyl die witson weier om kop te gee, is daar ander bewuswordings in die geheimsinnige ruimte. Dis nie net die leeus wat hier koningkraai nie. Agter die bosse flits rooi strepe verby, soos 2 jakkalse koes-koes wag vir ‘n gaps-kans. Hulle het ook honger kleintjies by die huis.

Ek ruik die reuk van witmis en staar op na die grouwordende hemel. Dan trek ek asem in – ja sowaar – die vullisverwyderaars het gearriveer…

Geruisloos omsingel hul die plek. Swart stil beelde, gesprinkel in geraamte bome. Hulle moes op die warm lugstrome ingevlieg gekom het, agter die reuk van die dood aan.

Aasvoëls.

Vir nou miskien die toonbeeld van geduld, wetende dat hul beurt miskien nie vandag sal kom, of dalk more nie, maar daarna – gaan die vere verseker waai!

'KOM ONS DANK SOLANK VIR DIE KOS."  Die biddende figuur van 'n Satara witrugaasvoël langs die H7.
“ONS Sê SOLANK DANKIE VIR DIE KOS.”  Die geduldige biddende silhoeët van ‘n Satara witrugaasvoël langs die H7

OMTRENT AASVOëLS

Aasvoëls is die begrafnisondernemers van die veld. Wanneer ons sien hoe aasvoëls ‘n dooie karkas aan repe skeur noem ons hulle “vuil”, “sies” en “stink”.  Dis egter nie waar nie.

Navorsing toon dat aasvoëls lief is om te reis. Gemerkte voëls opgemerk in Kimberley kom vanaf die Krugerwildtuin.
Karongwe Private Game Reserve witrugaasvoêl naby Hoedspruit langs die R36

Min mense weet dat aasvoëls dikwels bad nadat hulle klaar gevreet het. In die proses soveel water drink dat hulle soms nie kan opvlieg nie. Selfs die kuikens word baie goed versorg en is hulle lief om in groepe saam te kuier.

Vroegoggend, wanneer die son die aarde begin warm bak, begin aasvoëls met behulp van lugstrome vlieg agter dooie reuke aan. Witrugaasvoëls se oë is besonders skerp en sak gewoonlik eerste toe, raap dan vinnig hulle deel op, voordat die ander groter swart-, krans- en Ruppell aasvoëls opdaag. 50 Witrugaasvoëls kan ‘n rooibokkarkas van 23 kg binne 10 min verskeur.

Die bewaring van aasvoëls het ‘n prioriteit in SA geword. Getalle neem gevaarlik af a.g.v. gifstowwe of kragdrade wat hulle doodskop of versuiping in plaasdamme.

Navorsing toon dat aasvoëls lief is om te reis. Gemerkte voëls opgemerk in die Kimberley omgewing kom van sover af as die Kruger Wildtuin.

STOKNESTE

Stokneste word op ontoeganklike plekke gebou. Bo-op takke van hemelhoë bome. Een wit eier van omtret 215g word uitgebroei.
Stokneste word op ontoeganklike plekke gebou. Bo-op die takke van hemelhoë bome. Een wit eier van omtret 215g word  dan uitgebroei

Terug na ons storie:   Daardie week het die leeus amper drie dae om die beurt aan die kameelperd ge-vreet, voordat hul die karkas wat begin ruik het, halfhartig afgestaan het.

Dit was tyd vir begrafnisopruiming.

Witrugaasvoëls is waarskynlik ons volopste soort,  maar word deur talle bedreigings in die gesig gestaar.
“TYD VIR DUIK!”  Wanneer aasvoëls in vlug na benede val kan hul teen 100kpu afduik

Gewoonlik is ‘n mens se aandag so gevange op die roofdiere, terwyl rondom en bo jou vele interessante stories afspeel.

"SO KAMEELPERDBOUD SMAAK DARM VORENTOE! "  'n Trommeldik Satara leeuin lek haarself skoon op die H7.
“SO KAMEELPERDBOUD SMAAK DARM VORENTOE! “ ‘n Trommeldik Satara leeuin lek haarself skoon op die H7.

Later fotos van die trotse twee spogmannetjies wat met ‘n rits karre agteraan direk op ons afgestap gekom het.

(Fotos geneem deur DMD215 – Blommie)

By die waters

Wanneer ons rondrits in die wildernis en iemand sou vra; “Waarheen gaan ons … wat wil julle graag sien?” antwoord ek gewoonlik: “Kom ons gaan sit by die rivier of op die dam se wal – by die waters.”

 Natuurlik is almal nie beindruk met my voorstel nie. Want die manne like mos van 4×4-ploeg of jaag agter Die Groot Vyf aan. (Sug) Agterna val jy rooiboud uit die Jeep en karplaks op die bed neer. Maar die hartseerste nog: geen fotos.

 Nee, nee, nee. By die waters is rus en saligheid en water-geveerdes en dorstige diere en sundowners en … as dit nou moet, die Groot Vyf ook!

Daarom sal ek en Blommie vroeg-vroeg uitsluip – terwyl die mis nog  rookagtig wuifel oor koel waters – en  ons warm slaapplekkies agterlaat om rivier se kant toe te mik. 

(Meeste fotos: Blommie Jul 2013) 

VROEGOGGEND LEWE BY DIE WATERS. Reusereier (Ardea goliath) waterdikkoppies en nylkrokodil
VROEGOGGEND LEWE BY DIE WATERS.  Reusereier (Ardea goliath) waterdikkoppies (voëls) en nylkrokodil

As jou dag so geseënd afskop kuier jy sommer gou-gou water-lekker.

DIS ONS BEURT. Sebrafamilie drink dorstig terwyl hings aan linkerkant  vir roofdiere dophou
DIS ONS BEURT.  Sebrafamilie drink dorstig terwyl hings aan linkerkant vir roofdiere dophou

Dis interessant om te sien hoe diere beurte maak by die drinkplek. Hul respekteer rystaan.

BRRR ... DIS NAT. Skukuza bobbejane vang 'n namiddag swem in die Sabie rivier
BRRR … DIS NAT!  Skukuza bobbejane vang ‘n namiddag swem in die Sabie rivier

By die waters kan soms die mooiste dinge gebeur – soos hierdie troppie bo wat in die salige hitte besluit het om af te koel.  Soos kinders het hul mekaar se koppe onder die water gedruk en het dit soms rof en skreeuend gegaan. Die kleineres is afgeknou en sommige het besluit dis veiliger op die droë rotse.  

"SKUIF OP KROK - EK WIL UITKLIM!" 'n Seekoei soek pad tussen wriemelende krokkedille.
SKUIF OP KROK – EK WIL UITKLIM!”  ‘n Seekoei soek pad tussen wriemelende krokkedille.

Voor die eerste somerreëns raak watervlakke laag en populasie oorvol. Dan wonder jy wie is baas of wie is klaas? 

"DAGSê!"  Aitsa - wie kom slurpswaaiend met 'n groot dors hier aangetrippel?
“DAGSê!”  Aitsa – wie kom slurpswaaiend met ‘n groot dors hier aangetrippel?

Ja,  olifante kan nogal fluister-trippel op sagte kussingpote en kan onverwags agter jou voertuig verskyn as jou aandag op die dam is. ‘n Beter idee is om te  ‘ruik’ of olifante naby is of die voertuig af te skakel en te luister waar die takke breek.  Om te sien hoe olifante baljaar in die water is natuurlik aanskoulik en ‘n glimlag-plesier. Deur hul strootjies spuit hulle mekaar nat en kan die logge liggame soms heeltemal onder die water verdwyn soos hul snorkel. 

"Grote griet - die water is la.a.a.ag"  Skukuza kameelperd met bosluisvoëls op die rug
“GROTE GRIET –  DIE WATER IS  La.a.a.ag!”  Girivana dam  kameelperd  met bosluisvoëls op die rug langs die  S12  (2013)

Om ‘n kameelperd af te neem wat water drink vra geduld. Hulle sal uiters versigtig nader skuifel, lank rondloer en wonder hoe veilig dit is, dan besluitloos om die dam beweeg vir die regte drinkplekkie, uiteindelik bene oopspalk om strek-strek af te sak, net om haastig daarteen te besluit en orent te ruk, terug te draai en weer van voor te begin. En dan, uiteindelik, tyd vir kiek!

 

"Mmmm - ek dink julle het genoeg gekiek en gestaar ..." Nsemane dam seekoei langs die H7
“PSSST! – KORREL VIR DIE BORRELS .  Nsemane dam seekoei langs die H7

Soms in die Krugerwildtuin as die hitte oor 41grade stoot, wens jy  om saam die seekoeie in koel waters borrels te mag blaas. Moet dit egter nooit waag nie – seekoeie is baie gevaarlik en het menig mens al gedood.  

"Laaste krappie gaps voor die son goud word"  Lace panic reier
“LAASTE KRAPPIE GAPS VOOR DIE SON GOUD WORD!”   Lake Panic reier

Die beste tyd by die waters is natuurlik wanneer die son gaan slaap. Dan kry die nagdiere lewe en paddas begin met hul kooroefening. Die atmosfeer vul met goud en selfs die seekoeie klim uit die dam om heelnag om jou tent te kom nurk. 

So ‘n sielvolle dag laat jou vervuld en soet slaap, sonder rooiboude of ‘n slaappil …

Blink in die oog

Die oog van die dier op ‘n foto is gewoonlik dit wat jou aandag gryp en jou siel warm woel.

Ek lees dat indien jy nie die blink in ‘n oog vasgevang kry nie kan jy maar die foto weggooi of in jou emosionele file stoor. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan, want net soos die mens, draai die dier ook sy kop weg teen skerp lig of trek ‘n sluier oor die oog. 

Vanuit die donkerkamer by die huis spring daar soms gelukkies uit. Hierdie oë is vasgevang gedurende April 2014 in die Krugerwildtuin. Die kanse is dus goed dat hulle vandag nog rondloer deur die ruig blare of waterdruppels in hierdie asemrowende wildernis.

Verleidende lang oogwimpers van die kameelperd
Verleidende lang oogwimpers van die kameelperd
 
Die oog van die rooibok is 'n spieël waarin jy kyk
Die oog van die rooibok is ‘n spieël waarin jy kyk

Kyk diep in die oog hier bo, jy sal die voertuig asook ‘n ander bok daarin sien. Let ook op die doudruppel wat vroegoggend nog hang aan ‘n haartjie aan die onderste ooglid.

Bloedsuiers in die kreukels om die oog
Bloedsuiers in  kreukels om die oog

Bosluise ry saam hierdie witrenoster (ceratotherium simum)  in die Satara omgewing. Let ook die vliegie op die boonste lid van die oog.  Dis dus nie net die lens van die kamera wat jagmaak op die blink in die dier se oog nie. Die renoster is gewoonlik hardkoppig en weier soms om op te kyk. Gewoonlik steur hul hulself min aan gebeure rondom hulle en sal ongestoord voortwei.  

Glans in die oog van die seekoei
Glans in die oog van die seekoei

Seekoeie is lief om na jou te staar en lewer gewoonlik goeie skynsels  in oë op.

Satara sebra hings met manjifieke huid en oop gesig
Satara sebra hings met manjifieke huid en oop gesig

Sebra’s is rasserig en baie prikkelbaar. Hul deurdringende gerunnik, kwa-ha! kwa-ha! kan selfs snags in die donker oerwoud gehoor word.

Daar is natuurlik niks so mooi soos die knipoog van die son wat tussen rimpels in die water na jou terugweerkaats nie …

Sabie rivier sonsondergang
Sabie rivier sonsondergang

 

Tuur deurdringend na die oog – dit spreek van die siel se lewe of dood.

(Fotos deur Blommie – April 2014 Kruger)

Kruger – warm op die spoor

Gedurende April 2014 was ons ingeboek in die Kruger Wildtuin vir ‘n langnaweek. Satara is beroemde kat-wêreld en omring deur groot oop grasvelde wat wildkyk avontuurlik maak. 

Oppad kamp toe het ons opgewonde gestaar na die ontelbare wildedier spoorsoorte langs die pad. Ons het geweet: baie spore, baie diere. Bosveldreuke het neusies laat kreukel en adrenalien jou laat regopsit!

Om hierdie luiperd te kon kiek moes ons vir twee ure versigtig vorentoe skuifel. Volgens ‘n “oorvertelstorie” was ons merker ‘n hemelhoë boom ‘n entjie die bos in direk langs die H4-1 naby die Nkuhulu piekniekplek. Spoorsny met die oog was ons voorland. Toe ons hom wel vind was die visueel skaars 1 uit 5. Hoog bo-op die stam tussen ruig blare en kamoeflerende skurwebas het kollekat homself tuisgemaak. Net die lens (of verkyker) kon hom nadertrek.

Alhoewel beraming toon dat daar omtrent 1000 van hierdie pragtige diere in die Park is, is luiperd die taaiste van die Groot Vyf om te sien en kan jy maklik droëbek huiswaarts keer.

 

Skukuza luiperd langs die H4-1
Skukuza luiperd langs die H4-1

Bedags lê luiperds meestal en slaap en slegs wanneer hul opstaan om te strek of om te draai kry jy ‘n vinnige gelukkie. Dit verg geduld en baie fotos later.

Daar was ‘n soet smakie terwyl die wildernis in voluit beleef word.

Luiperdspoor in die sand

Elke dier het sy eie unieke pootvorm.

Wanneer die jagter in die veld rondsluip word spore merkers. Geen spore, geen wild.  Spore oor die algemeen is staanspore, loopspore, drafspore of hardloopspore.

Vars Skukuza katspoor langs die van boksoort
Vars Skukuza katspoor langs die van boksoort

Bo in die klam sand is die stapafdruksel van ‘n luiperd wat ons opgemerk het langs die  H4-1 gedurende April 2014.

Nadat ons die spoor se rigting bepaal en gevolg het, het dit ons ook gelei na kollekat wat heerlik in die rivier op die warm sand gelê en rol het.

Fotos later.