Van plonsput tot botterspinnekop

(Bos stories)

Rondomtaliedraai vertel van die nuwe Wilde Woordeboek wat  kostelike afrikaanse woorde bevat. Terwyl ek die vervangingswoorde vir “longdrop” lees, raak ek nostalgies en onthou mý ondervinding in so ‘n … plaaspardoems.

LONGDROP VOORBEELD - Internet: Rangitoto Iland
LONGDROP VOORBEELD – Internet: Rangitoto Iland

As skoolkind was my besoek aan die dieptroon gewoonlik vroeg, baie vroeg. Voor ligwording, nog voor ons die halwe kilometer tussen die lande na bo moes deurstrompel teerpad toe. Daar sou ons bibberend wag vir die skoolbus om ons op te pik. Menigmaal het ons afgekom op half gevriesde slange in die bospad wat vroegoggend agter warm sonkolletjies aanseil.

Die gemakgat was nie baie gemaklik nie en koud vir die ontblote boude. Want bo die sinkplate wat pa aanmekaar getimmer het was dit oop en kon die wind selfs van onder jou verras. Daarom het ek dié oggend sommer bloots op my hurke gaan sit, bo-op die plonsput.

Dis toe dat ek die fluisterende kielie-kielie op my boboud gewaar.  Ek frons – is dit verbeelding? Dit voel so liggies, saggies, hier in die  halwe skemerlig. Sonder om te dink vat my hand oor die kielie en ek voel die kraak van ‘n yskoue wawielspinnekop wat perfek in die grootte van my hand pas! Al wat ek verder kan vertel is dat ons albei deur die lug geplons het, soos ek soos wind die plonsput agter my verlaat het …

DIE GOUE WAWIELWEBSPINNEKOP  (Argiope cuspidata)

Die Wawielspinnekop se byt is nie giftig nie, alhoewel baie seer. Inteendeel, daar word vermoed dat die poli-amien toksiene potensieël terapeuties kan wees!

KARONGWE WAWIELSPINNEKOP langs die Makutsi rivier.
KARONGWE WAWIELSPINNEKOP langs die Makutsi rivier

Hulle het stewige, lang, ovaal, duidelike geel-en-swart agterlywe wat met verskillende patrone versier is. Met hulle lang bene kan hulle nogal vreesaanjaend voorkom. Dit is egter net die wyfie wat so groot word en koponderste- bo aan goue drade hang.

Die wawielspinnekop het baie natuurlike vyande en verskeie voëls, ander insekte en ook diere soos blouapies vang hulle.

‘n Nuwe spesie is onlangs ontdek wat as ‘n reus beskou word tussen die web-bewoners “Nephilakomaci.”

Hulle is egter baie skaars en is nog net in KwaZulu-Natal aangetref. Niks is bekend oor die gif van die nephilas vir mense nie. Die spinnekop kom min in aanraking met mense aangesien hulle vinnig wegvlug as gevaar dreig.

SPINNEKOPWEB langs die Makutsi 2013 (Foto: Blommie DMD215)
ANKERDRADE van ‘n spinnekopweb langs die Makutsi rivier 2013.  Let op die grootte van die wyfie reg in die middel van die web.   (Foto: Blommie DMD215)

GOUE WAWIEL-WEBNEPHILAS

As jy van naby na ‘n wawielweb kyk, sal jy dalk ‘n baan sigsagdrade van die middel af sien uitstraal – wetenskaplikes noem dit die stabilementum. Hierdie spinnekop is van ons grootste web-bouers wat met goudkleurige sy spin. Die grootte laat menig wildkykers vries omrede die sydrade besonder sterk is en tot klein voëltjies kan vang. Die wyfe sit gewoonlik heel opvallend in die middel en verlaat nooit die webhuis nie. Daar vang sy  daagliks vlieënde insekte op.

Nou ja, kom ons klim die Jeep en gaan soek botterspinnekoppe. Hoe nou? Nee dankie? Niemand wil saam ry nie?

Jeep Karongwe

Gedurende April span die wyfie haar web oor die pad en kan jy nie waag om sonder ‘n groot tak op die oop Jeep die bosse in te rits nie. Die voorste persoon steek dan die tak vooruit, sodat dit die spinnekop en web voor die tyd opvang en die drade of spinnekop nie binne in iemand se hemp beland nie. Chaos!

Glo my – sekere mense (mans ingesluit) is banger vir so ‘n spinnekop binne die Jeep dan ‘n leeu buite die Jeep. Gillend spring hul af of skuif op, en moet die spinnekop eers gevang word voordat hulle dit waag om terug te klim!

PROOIVANGER 'n Wawielspinnekop spin haar vangs toe om later aan te vreet
PROOIVANGER: ‘n Wawielspinnekop spin haar vangs toe om later aan te vreet

Moet dus asb nie volgende keer uit die Jeep spring wanneer hierdie spinnekop jou boud kielie nie. Hulle is pragtig en skadeloos!

Stem jy?

(Fotos geneem deur Blommie – DMD215)

42 thoughts on “Van plonsput tot botterspinnekop”

  1. Ek dink soos jy al agtergekom het, vrek ek oor spinnekoppe en als in die natuur. Baie beter geselskap as meeste mense. 😆 Fantastiese pos en ek het lekker gelag toe ek die stukkie lees van die plonsput. Jy skryf baie goed en die foto’s is absoluut stunning! 😀

    Like

      1. Dis ‘n plesier en ja, ek’s maar een van die ‘weird’ lotte wat hou van die goedjies. 😆 Ten minste weet jy hoe om ordentlike en mooi kommentaar te los en ek waardeer dit. Ek vrek oor die natuur en als wat daarmee te paard gaan maar is nie lief om rond te ry nie en verkies om by die huis te wees.

        Ongelukkig is die toeriste aantrekking hier by ons ook so groot dat mens party naweke in elk geval nêrens heen kan gaan nie, want dan lyk die verkeer hier soos in ‘n stad en ek kan dit nie hanteer nie. En die plekke waarnatoe mens kan gaan om diere te kyk soos die Cheetahs, Bush-babies, Olifante, ens. ens. is so vrek duur dat net die toeriste dit kan bekostig, so ek was nog nie by een van hulle nie. Net die slangpark is bekostigbaar. 😆

        So ja, dis vir my lekker om foto’s te sien van al die ander groot diere in die natuur. Ek sien ons gaan lekker kuier ja. 😀

        Liked by 1 person

  2. Ja!? Ongelooflik. En tog, klink dit … logies. Arme spinnekoppe. Ek sien per toeval gisteraand op TV ‘n blou-aap wat slaappille ingekry het en van ‘n dak probeer afklim! Zombie. Eintlik erg as jy dink mense neem sulke medikasie … nie dat ek teen medikasie is, maar verkies om weg te bly daarvan.

    Liked by 1 person

  3. Dankie vir jou inloer en welkom hier Gobetween! ‘n Nuwe gesiggie bly ‘n inspirasie. Hiehie, kan al sien hoe jy arms wild swaai en jou lyf slaan … (gaan bietjie loer wat jy in jou blog aanvang…)

    Like

  4. Ek is bly jy skryf hier.Ek het destyds toe jy by SêNet sulke oulike natuurgoed geplaas het,gehoop jy sal liewer blog.Die spul daar het dit nie waardeer nie,net gekyf oor politiek,taal en godsdiens.
    Blommie se foto’s is ongelooflik.Spinnekoppe is van my gunsteling natuurbewoners.

    Liked by 1 person

    1. Hiehiehie perdebytjie. Ek het gewonder of jy kan onthou dat ek Trienie van die Sênet briewe was. Uitgevang! Ek was toe al erg oor jou. Gerespekteer vir jou sieninge, al het ons nie altyd saamgestem. Daardie manne het my goed opgewerk en jy het my vrou alleen tussen hulle gelos! Sies. (Glimlag) Maar, die kennis was goed… Ja, jy het my toe al bemoedig om oor te gaan na ‘n ‘blog’ – ek het gedink dit is te moeilik. Ek het baie jou blogs gelees, het altyd jou spoor probeer opsoek…
      Dankie jou kommentaar. Waardeer jou.

      Like

      1. Ek het lankal geweet jy is Trienie..vanaf jou eerste pos hier..hehe!
        Ek hou baie van jou denkwyse en ons het baie raakpunte,behalwe godsdiens.Hier op die blogs is nie ruimte vir verskil en skel nie,net deel van idees en allerdaagse interessante gebeurtenisse in ons lewens.Lekkerrrr!

        Liked by 1 person

  5. Nou lekker gesmile vir jou ondervinding by die “plonsput” Spokie, en jou vertel en fotos van die wawielwebspinnekoppe net so geniet. Hulle is regtig groot en die web baie sterk, het n paar keer vinke dood in die webbe gesien daar in Hoedspruit se wereld.

    Liked by 1 person

    1. Ag dankie jou volledige kommentaar, waardeer. Sjoe, kon jul fotos neem van die vinke in die webbe? Ekself het dit nog nooit aanskou nie. Ons wil juis bietjie wegbreek die naweek na Hoedspruit se kant, is lus vir Graskop se Gods window en asemrowende watervalle.

      Liked by 2 people

      1. Ongelukkig was ek daai tyd nog student Spokie, nie geld gehad vir kamera-films nie… Die plaaspad het al langs n wildheining en telefoonlyn geloop, die spinnekopee het tussen die 2 hul enorme webbe gespin en die vinke so gevang.

        Die Blyde Canyon is nog een van ons gunsteling wegbreekplekke, ek glo met die lente nou in volle swang gaan dit pragtig wees. Geniet dit!

        Liked by 2 people

    1. Ai, dis altyd vir my so lekker om jou pienk blommetjie te sien. Ek geniet nog steeds jou plonsput, dieptroon en gemakgat. Te oulik! Hou asb aan om vir my mooi nuwe afrikaanse woorde te stuur …

      Like

  6. Ek hardloop my bene stompies!

    Enige iets wat soos ‘n gogga lyk freak my uit. Ons het reenspinnekoppe (weet nie of dit rerig is nie, maar dis wat die mense hier hulle noem) in ons huis. Baie. Maar ons los hulle. Ek maak hulle nie dood nie, maar soms slaap ek met een oog oop as ek een op die plafon gewaar!

    Maar soos ek sê, ons los hulle, hulle kan ons niks doen nie.

    Dis net GRILLERIG!!!!

    Like

      1. Vrek, ja nee! Ek hardloop saam… Spokie, onthou jy die werkers op oom Oosthuizen se plaas, het my “Spinnekoppie” genoem, en dan was ek vrek skaam van maergeid hie😄hie😂! Kan ek maar weer “Spinnekoppie” wees op hierdie blog, of verkies jy “Tolbossie” soos in ‘n vorige e-pos aan jou?

        Liked by 2 people

  7. Daar was vajaar honderde ( lees buitengewoon baie) can hulle in my tuin op Struisbaai naby d Suispunt v Agulhas. Opvallend is die pragtige goue web, asook die ingewikkelde simmetriese patroon. Na n sekere aantal dwars draadjies is daat n spasie. Dis elke keer dieselfde getal draadjies. Dit kan ook duidelik op jou foto gesien word. Hierdie spinnekoppe kan tel en is wiskundiges( en ingenieurs)!

    Liked by 1 person

    1. Hi, Seegogga, ons kom vanaf Bredasdorp – daar naby julle! Nou sit ons hoog en droog (of eerder nat en koud) hier in Kanada. Hier sien ek nie sulke groot spinnekoppe nie, maar hulle oorleef die winters hier (tot ten minste -40 grade C), want die sneeu het nog nie klaar gesmelt nie, dan is hulle in jou huis! -vanwaar “Gehazi”?!

      Like

Gesels asseblief saam ...