Vreesbevange druk Timo hande teen sy ore: “I am too young to die! I am too young to die!” Adrenalien skiet deur my kop en ek voel hoe die riviersand die Jeep se wiele spinnend vasgryp. Ek ruk terug, net betyds om te sien hoe die stormende leeu se gespierde lyf strompelend oor ‘n dooie boom vou…
Zero. Koning van Karongwe. Dié dag sou hy weer gekroon word. ‘n Splinternuwe VHF collar trots om sy koninklike nek vasgeknip word.

DIE WAPEN
Weer en weer word die pylgeweer getoets. Niks mag skeefloop. Agter ons kom daar klokslag ‘n radioboodskap vanaf die veldwagter deur wat van vroeg af al op die leeus se spore loop. Zero is gewaar in die Makutswe omgewing en mik rivier se kant toe.

Alhoewel ons opgewonde, tog senuagtig in die ongerepte bosveld vir mekaar fluister, besef ek maar te goed: Hierdie is ‘n ander speelveld!
DIE COLLAR
Langs my tril Blommie (hierdie blog se fotograaf) opgewonde. Dis ‘n rooiletter dag vir haar. Die formidabele wille koning, wat se krag en statuur vele respek afdwing – by dier en mens – gaan nou-nou platgetrek word. ‘n Voorreg wat miskien nooit weer gesmaak sal word nie.

Vir nou is daar baie glimlaggies en sports. Speels hang Blommie die belt om haar pa se nek. As skenker van hierdie waardevolle stukkie hardeleer met ingeplante radiobeheerde monitor, kom die eer hom vir n paar sekondes toe.
Almal wip toe die radio skielik praat: “Julle moet inbeweeg …”
Dis tyd! Haastig spring ons op die oop besigtigingsvoertuie en stoot die neuse rivier se kant toe.
In die doodse stilte wat heers voel ek hoe die bosveld wind aan my hare krap. Of is dit my maag wat draai?
“Daars hy!” fluister iemand en ek gryp my stoel vas. Voorwaar – daardie aantreklike swart maanhare tussen die goue highligts kan net aan één koning behoort: die alfamannetjie van hierdie woeste stuk oerwoud.

Ek vergaap my aan bultende spiere, massiewe slap pote wat ritmies vorentoe skop. Verbaas om te dink dat hierdie imposante dier eintlik gesien word as ‘n saggeaarde en goeie pa wat die beste bloubloed welpies gooi. Sy trop beskerm hy met nael-en-tand.
Weer trek ons asem in…

Agter hom stap ‘n ander vors, waarvan die jong baardhare duidelik stukkies swart begin vertoon. “Is dit sy seun?” snak iemand. “Ja, dis Mpho, ‘n moontlike troonopvolger.”
SPOKIE SNY SPOOR
Vir ‘n uur agtervolg ons die leeus op die klippad. Wetende dat hul enigetyd kan uitswaai rivier se kant toe. Dis net waarvoor ons wag.

Die leeus is onbewus daarvan dat hul omsingel is. Die rivierbedding word gesien as die ideale plek om ‘n dier in plat te trek, aangesien dit oop is. Gevaar kan agter enige bossie in hierdie ongetemde bosveld skuil waarin die Groot Vyf en ander wilde diere vrylik rondbeweeg.
DIE KONING IS PLAT
Vir nou word Mpho die vyand. Nadat die pylveer sy pa platgetrek het, probeer hy getrou aan sy sy bly en moet gereeld met ‘n droë stok of klip weggejaag word. Digby, net agter die riete kruip hy weg vanwaar hy alles dophou…

Tot hier verloop alles klopdisselboom. Banggat speel ek fotograaf en hou my lyf veilig en hoog op die Jeep.

Blommie sou nooit kon droom dat sy eendag Zero se vel onder haar vingers mag streel nie. Deel mag wees van ‘n kroning wat sal standhou vir die volgende 5 jaar.
Agterna wys sy my ‘n paar lang swart hare. Dié het sy vinnig uitgepluk terwyl zero geslaap het. ‘n Soewenier. Ek is verras oor die dikte en sterkte daarvan.
Rustig kiek ek voort terwyl die reuk van olifantmis en katpiepie my neus begin kreukel.
Die rivier is warm en droog. Soos ‘n dooie lê Zero oop-oog en staar na …’niks’. Om te voorkom dat sy oë uitdroog druk die veearts ‘n salfie daarin en vou ‘n pers handoekie om die kop vir koelte.

.
DIE KONING WORD WAKKER
Agterna het ek baie oor my “wat as …” getop. Julle weet mos: “wat as…” iets skeefloop. In my gedagtes het ek voorbereidings getref en besluit om die groot coolerbox langs my vorentoe te gooi vir ingeval van ‘n noodgeval. Agterna het ek gedink dat dit eintlik ‘n puik idee was. Want om die fotos te kon neem was ek by die Jeep se laagste openingskant en kwesbaar.
Terwyl Zero wakker word en in ons rigting storm, is ek werklik braaf genoeg om nog hierdie foto te neem. Wat met die kamera later gebeur het, weet ek nie, maar was ek duidelik bewus van my vingers wat om die koel werklikheid van die coolerbox se handvatsels geklem het.

Terwyl die afrikaanse Timo gil “I am too young to die!” trek oom Koos spinnend weg en ek voel hoe die Jeep diep in die riviersand vasval. Kletterende klippies en stof warrel in my neusgate en skielik wonder ek waar Mpho is. Vandag is hier groot sports.
Want ‘n halwe klap van só ‘n deurmekaar leeu kan jou maklik bokveld toe stuur. Gelukkig is daar ‘n dooie boom in die rivierloop en terwyl ek my oë hier sluit, sien ek weer hoe hy pootjie en hoe die tuimelende figuur van ‘n koning vernederd en diep ploeg, binne in die warm sand van die Makutswerivier.
Mpho is dadelik by!

GROOT SPORT
Die res van die geselskap, wat veilig aan die oorkant van die river as toeskouers gesit het, het geskater van die lag. Vir hulle was dit groot sports.
Maar nog nooit was ek só bly om die agterkant van ‘n leeu te sien nie!
(Hierdie stukkie is ook ingeskryf vir Scrapydo se challenge: https://scrapydo2.wordpress.com/2015/01/22/toeka-tokkel-5-sport-en-volgende-5-onderwerpe/ )