Pa en die gespikkelde fenomeen

Die eerste poelpetater het laag oor die heining aangevlieg gekom. Op die plaaswerf het ek en pa in verwondering bly staan. Die voël was vreemd en het senuagtig en wankelrig ingesweef soos ‘n Boeing met wiele vorentoe geskop wat na vlerkbalans soek.

“Pa!” kraai ek opgewonde, “kyk die voël se blou rubber om sy nek.”

Pa het saggies gelag en sy wysvinger op my lippe gehou. “Sjuut – dis ‘n bosveldhoender.”

En so het ek kennis gemaak met die pers-grys pêrel-tarentaal. Pa het daagliks van die hoenders se gebreekte mielies vir die tarentale op die grondpad gestrooi. Terwyl hul pik, sou die wit-spikkels-op-swart my fassinerend betower. Ek het gebrand om die kolletjies van naby te sien of aan te vat, maar pa sou net ingedagte opmerk:

“Hulle wil vry wees …”

TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2012)
TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2013)

Die res van die tarentaal-familie het vermeerder. Tydens mielietyd tel pa my tot bo-op die 200Lt dieseldrom en leer my só omtrent geveerdes. Geduldig wag hy dan tot my 4-jarige lippe die woord duidelik vorm voor hy nuwes gee.

Vandag nog, kan ek die koue harde sade en pitte tussen my woelende vingers voel, diep in die kos-emmertjie. En alhoewel my strooi-armpie te kort was, het pa my gelos. Lang-lip sou ek toekyk hoe pa die gebreekte sade soos reënboogstrepe oor die dor aarde saai. Tot dáár waar die gesnawelde hongeriges trippelend rondspring.

Tarentaal Kop en nek 1‘n Paar jaar later, begin ék egter pa inlig omtrent hierdie gespikkelde fenomeen: “Het pa geweet: hulle is baie lief vir insekte, en bosluise is poeding. As ons Boela luisvry wil hou, moet ons sorg dat hy rustig naby hulle gaan lê.”

Ander keer was pá weer een voor: “Daar is ‘n interessante legende oor die naam van ons bekende Madagaskar-tarentaal. Hy word ook Numida meleagris genoem. Meleager was ‘n figuur in die Griekse mitologie en die seun van Odeus. Toe Meleager dood is, was sy suster so bedroef dat sy verander het in ‘n voël waarvan die vere met trane bedrup was. Hierdie voëls was die tarentaal.”

HOEPELROKKIES OP DIE WERF

Tussen die daaglikse tortelduifies, mossies en mak hoenders, was die tarentale met hul gespikkelde vere die aantreklikste en mees interessantste. Ek het begeer om die wit kolletjies te vryf of aan die gehelmde blou en rooi rubber te trek.

DIE VERE OM DIE LYF 'N TIPIESE HOEPELROK MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES
HOEPELROK-VERE MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES EN  HOëHAKSKOEN-POTE

.

Maar voor my grypende kinderhand het hulle wild gebly en nooit mak geword soos die hoenders nie. Hulle kon woester skrop, vinniger pik, ratser weghol en wild wegkoets agter bossies.

Dan sou die vlerke soos dames se rokke optrek sodat dit nie in die stof sleep nie. So sou hul hardloop met vlerke wat ‘n kenmerkende boog op die rug vorm.

Maar soms, wanneer hul voor my grypende handjie wegtol, sou daar tog iets agterbly:

Tarentaalveer swart-en-wit
Internet Flickr Foto

‘n Dwarrelende veer waarvan die spikkels aan my soveel kleiner vertoon het, want die stof van die aandwind sou alreeds die blink daarvan beroof het …

GESKAPE VIR NOSTALGIE
Maar natuurlik was die tarentaal geskape vir ‘n veel hoër doel. Ek onthou nog pa se woorde soos gister. Want saam het ons verknog geraak aan die grond en verlief op die gewemel en vrugbaarheid van die plaaswerf. Die gespikkelde fenomeen het ook húl kosbare vrug bygedra met gestreepte kuikens wat al pikkende en skroppende in ma se voetspore rondhop. Nooit wou hul maats maak met die mak hoenders nie, nog minder toelaat dat ek hul rondra of perfekte kolletjies afkrap.

Frustreerd en uitoorlê sou ek opruk en tranerig die huis instorm …

Nes pa gesê het is die tarentaal vry, en so sou hy bly, in ‘n klas van sy eie.

Tarentaal Slide 3(Fotos: Mafunyane 2013 – Blommie)

44 thoughts on “Pa en die gespikkelde fenomeen”

  1. My ongoddelike broer het een slag met 4 van hulle eiers by die huis aangekom en hulle is onder ‘n hoenderhen uitgebroei en hulle het ewe lekker saam met die hoenders in die hok gewoon. Soggens as daar baie goggas in die tuin was het hul eenvoudig oor die draad gevlieg om Fees te vier maar teen donker was hul al weer terug in die hok Ongelukkig is die haantjie dood van een of ander siekte en die hennetjies is weggelok deur een of ander wilde haantjie en ons het hul nooit weer gesien nie.

    Liked by 1 person

    1. Lekker om jou hier te sien, Tokeloshe. Ek dink die bosveldhoender is meer ‘n saamgestelde woord, maar pas mooi by ‘n tarentaal. Dankie.

      Like

  2. Dit en kransduiwe is my gunsteling voels. Spokie, jy moet sien hoe loop tarentaal se kind hier in my buurt rond. Gewoonlik is hulle klein swermpies van so tussen 8 en 10, maar ek het al groter groepe gesien wat dalk na 20 se kant toe staan. My bynaam vir hulle is “politiek” want wraggies, daar’s alewig politiek onder die spulletjie lyk dit my. As hulle nie kamakasi met mens speel in die pad nie dan jaag hulle mekaar of hulle bad in hul sandgate dat die stof staan. Shame, ek sien as dit baie warm is dan staan hulle ook maar onder die koeltebome, dan los hulle die “politiek” eers vir so bietjie. ;). Die foto’s is regtig baie mooi! Ek’s bly dat jy jou kinderjare so goed kan onthou, het die storie van die voels met die blou rubber baie geniet!

    Liked by 1 person

    1. Aaag, so lekker om met iemand te gesels wat dieselfdes liefdes deel. Kransduiwe is net so pragtig. Hul versier en vrolik ons lewe op. Baie dankie jou besoek aan die tarentale.

      Like

  3. Jy gaan nou maak dat ek meer oplettend na tarentale kyk as wat ek voorheen gedoen het. Ek kyk mos partykeer maar sien nie rêgtig nie. Pragtig geskryf.

    Liked by 1 person

    1. Hallo Kameel-kie – bly om jou te sien! Ja, ons is geneig om na sekere diere te kyk en nie raak te sien nie. Ek sê net gister vir iemand; Kyk net die pragtige mossies, en niemand wil hul eers afneem nie … tog is dit pragtige voëltjies.

      Like

    1. Ja nee, ek dink dit is hoekom verskillende soort voëls maar net nooit maats sal maak nie – dit gaan oor ‘n geveg vir die mielies. Lekker om jou rooi gesiggie hier te sien, Olga!!

      Like

    1. Is jy veilig terug? So bly!! Ons het jou gemis. Ek het net gister oor jou gewonder…

      Wit tarentale? Ongelooflik. Kon jy fotos neem? Ek het nooit gedink hoenders en tarentale sou paar. Klink amper …. spookagtig. Want toe is die kolletjies seker weg?

      Like

    1. Hiehiehie Blommie. Moet nou nie my vrese vir ‘n hoenderhaan hier weggee nie! En ja – ek vang liewer ‘n tarentaal voor ek toelaat dat ‘n hoenderhaan my weer storm. Gelukkig is ek nie meer 4 jaar oud nie … hierdie keer skop ek hom terug!

      Like

  4. Pragtige foto’s.

    Dit is seker die verskil tussen ‘n plaaskind en ‘n dorps/stadskind. Daar is nie ‘n kans dat ‘n dorps/stadskind aan ‘n wilde tarentaal sal wil vat nie. Netnou ‘byt’ hy. 😉

    Liked by 1 person

    1. Hiehiehie! Jy het my dag gemaak met hierdie kommentaar. Nooit so daaraan gedink nie. Alhoewel … dit pas nie by die betekenis van jou naam “Xena Phoenix” nie! (Speel net)

      Dankie, het jou opmerking geniet.

      Like

        1. Ok!? My koppie is nou nie mooi by nie, maar sal ek wel op jou blog nog agterkom hoekom jy so … voel. Olga moet ook maar help as ek nie agter die kap van die byl kan kom nie.

          Jy gesels lekker!. Dankie.

          Like

  5. Baie mooi fotos. Ons woon naby n riviertjie en op n stadium was hulle ook in die omgewing, helaas nie meer nie. Ek neem hule nie kwalik dat hulle van mense wegvlug nie.

    Like

    1. Ja, die mens bly maar die dier se grootste vyand. En jongseuns is maar lief om na hulle te skiet op plase. Dankie die inloer.

      Like

    1. Ag dankie Carol, vir die lees, sommige kyk net fotos en lees nie die storie self ook nie. Moet sê, ek het nogals gesoek na tarentaal fotos, mens is mos geneig om hul nie af te neem of meer raak te sien tussen die ander groter wild nie …

      Liked by 1 person

Leave a reply to nowathome Cancel reply