Toon my jou Hart

Ons naweek-wegbreekplekkie in Magoebaskloof is ‘n reënwoud van misslierte, bergpieke en welige plantegroei. Elke blom daar dra ‘n hart en as jy fluisterluister sal jy dit sien klop en bloei. Net soos die mens, is sommige se kwesbare blomblare gevreet en sou deur die ervare fotograaf of wêreld verwerp word.

(Hiermee vra ek my blogvriende om my vir die volgende 2 maande te verskoon. Ek is volgeboek met kampe en konferensies en om as spreker oor naweke uit te reik en nog voltyds te werk, is baie harde werk. Maar onthou – ek gaan na die stukkende vroukies/blare toe. Dis waar ek moet wees.)

Dit is snaaks dat wanneer iemand stukkend is, sy hart juis duideliker na vore tree …

Hierdie blomme is oor Paastyd afgeneem, nadat ek moeg geklouter was in die kloof agter skoenlappers aan wat my flapperend bly ontwyk. (Toemaar, ek sal hulle nog kiek!)

Geniet dit, terwyl jy die merke van die lewe aanskou.

Magoeba Blom 1

Magoeba Blom 2

Magoeba Blom 3

Magoeba Blom 4

Magoeba Blom 5

Magoeba Blom 6

Magoeba Blom 7

Magoeba Blom 8

Magoeba Blom 9

Magoeba Blom 10

Magoeba Blom 11

Magoeba Blom 12

Liefde in jou hart moet opreg wees
Verafsku wat sleg is en hou vas aan die goeie

Tot ons weer sien
Liefdetjies
Spokie

Advertisements

Riekinkie

My ouma is bosbevange. Olifantmis gee haar adrenalien. Sy hou daarvan om spoor te sny agter wilde diere aan en onder ‘n sterrehemel te kamp. Maak nie saak of daar warm badwater is nie, solank naguiltjies haar en oupa bekoor, is hul sielsgelukkig.

Foto: Internet
Foto: Internet

My pa en ma is stadsjapies. Hulle haat kamp en ‘n koue bad. Hul verkies om deur netjiese geriewe omring te word en dra my pa ‘n wit jas as hy chef speel. Sy Jamie Oliver potte is blink gepoets terwyl my ouma se driepootpot op die vuur swart roet stook.

My ma en pa is sielsgelukkig wanneer die atmosfeer met roosreuk, sekuriteit en dettol bedruip is. Hulle meen die bos is onveilig en wild en kreukel neus vir renostermis.

OUMA SE HOUTHUISIE IN DIE BOS
OUMA EN OUPA SE CABIN IN DIE BOS

My ouma plant madeliefies rondom die krans wat haar houthuisie omsoom en ril nie vir moddernaels of slierthare in misreën nie.

My pa hou van IT-werk en tegnologie en verkies geskropte naels en ‘n stywe kuif. Hy dink ouma is lotjie-getik. Sy Toyota se malvarooi word blink gepoets en ruik na sta-soft en my ouma se 4×4 ploeg in die kloof rond en ruik na olie en rooistof.

Maar wat het dit met mý te doen? Baie! Pa en ma kan nie wag om my perfek gestrykte hempies oop te vou nie en ouma kan nie wag om my kaalboud in modderpoele saam vlinders langs wattervalletjies te laat rondwoel nie. (Sug.) Pa rol oë. Hier kom sports!

My ma en oupa verkies om nie kant te kies nie. Peetma-Blommie besef daar is geen bridge te vind over troubled waters.

14 WEKE
14 WEKE

Aangename kennis: My naam is Riekert. Op 12/3/15 was ek 14 weke oud.  My voetjie 1.47 cm lank en my hartklop 154bpm.

“Rerig?” vra ouma geskok. Dis nou oor die bpm.

“Stadig Riekinkie,” kommer ouma. “Dis normaal,” troos ma. Tegnologie slaat ouma dronk.

My pa noem my ‘n wonderwerk. ‘n Dief wou my steel en my ouers onvrugbaar laat.

Eendag het ouma, wat al jare wag om Oumie te word, my pa en ma gegryp, hul voor ‘n Godsman gestoot en pa gewys om te praat. My pa skrik en vertel die man alles wat die dokters sê. Toe plaas hy sy hand op my ma se maag en bid vir haar. Sy opdrag was dat ons ‘n seisoen moes wag of hom moet epos as niks gebeur. Toe gebeur dit net so!

Dit het my ma en pa se siening omtrent God verdiep. Ouma glimlag in die geheim. My pa dra hierdie prent op sy Facebook hoofblad:

Lighuis

Amper was ek nie gewees nie …