Paaie, ‘n gety van genesing

( I Scrap 2  se uitdaging oor PAAIE )

Iewers anderkant die Strydomtonnels stop ek en die boskinders by ‘n manekis-stalletjie met die gebruiklike riet-afdak en rotsbankies om pôpôs te koop.

Manekis rots

Die versameling Afrikakuns in die Toyota se agterbak groei mooi aan:  Made in Africa. Sandstone. Ndebele Art. Game skins. African artifacts.

AFrika kuns

Hier in die bergpaaie is ‘n vredigheid. Ek wil langbeen oor die rots se mos sit en wag totdat die yskasklip deur my wese syfer en ek een word met bergvygies en wildevywortels wat teen die skurwe krans opgroei, om so asem na bowe te skep.

Graskop wortelboom

Maar die paaie om te kom, is nog baie. Berlynwatervalle, Gods window, pannekoek op Graskop en tronkfotos op Pelgrimsrus … al die lekkerte waarvoor ‘n bleekvel stadsjapie hom waarskynlik sal skaam.

Graskop Tronkfoto

Vir ons wat uit die era van woonwavakansies met Rondalia-plakkers en karton-laerskooltasse vol coke-plakkers kom, is dit ‘n kosbare terugstap op vergange dae se nostalgiese paaie.

In die mis vat die boskind die grondpad na die watervalle. Daar kom vra ‘n swerm versamelvoëls om ons voete vir broodkrummels en steur hul nie aan blinkdruppels wat met geweld klou aan Aalwynblare en Varkoorkelke nie.

Druppels op alwyn

By Gods window se uitkykpunt rol ek die koffiekatoetertjie uit sy vadoekjasie en deel blikbekers uit. Die boskinders breek droëwors strepe af en maak kougomstukke daarvan.

Nou kronkel die afdraaipaaie  gevoelloos deur verweerde krans en kloof. My oë tuur oor die berg se rondings om sin agter wegkruipertjie misslierte te probeer maak.

Misslierte oor berg

Die enkele rooiblom wat ons deur die doringdraad duskant bobbejaanskrans teëgekom het, is nog vars in my geheue. Dit was asof nie een van ons vier die werklikheid van hierdie rooivlam wonderwerkie kon registreer nie.

Toe ek ‘n paar honderd meter later huiwerig vra: “het ek nou net ‘n rooiblom gesien?”, besef ek dat ons almal eers my woorde nodig gehad het om die fyne dingetjie in ons binneste te kon staanmaak.

Die boskind het brieke aangeslaan en soek-soek op ons spoor teruggery. En sowaar! Dapper in die vetgesuipe swartgrond van die Oos Transvaalse platorand, troon hy stewig geanker. Sy enigste geselskap die geel blommetjies van ‘n drietoonduwweltjie en swartgebrande stronke om hom gestrooi, as teken van ‘n onlangse veldbrand.

Rooiblom

“Dis ‘n ope brief vanaf die Heelal se Skepper,” glimlag ek en hurk plat in die modderveld om foto’s te neem. “Genadegewer,” pleit ek, “mag ons altyd stadig genoeg reis op asemrowende paaie waar ‘n enkele rooiblom nog ongeskonde tussen ‘n gebrande veld oorleef staan, om so alles om hom in ‘n reënboog te tower.”

Ek adem beesmis en kamferplantreuk in.

Tussen rotskeur en skurweklip luister ‘n reptiel nuuskierig na die bergkinders se geknars bokant hom.

Akkedis

Ons is heeltyd bewus van ‘n gerammel in die oneindigheid soos donderwolke roei en stoei vir ‘n oombliksplekkie. Hier kom piets-reën! Die mens kan enigiets verwag op sy reispaaie.

Wolkekraber

By Pelgrimsrus drink die boskinders skuim-milo en trek streeppajamas aan om 1933 tronkfotos te neem.

Op die voorstoep van Mrs Mac’s General Dealer koop jy Ndebele beadedwerk en aardsjewelry teen 20% afslag.

NDEBELE KUNS OP DIE STOEP VAN .... BY PELGRIMSRUS

Vir ‘n oomblik skommel ons gedagte-paaie terug na vergange dae se goudmynvelde, ossewa houtwiele en koekepan tjoek-tjoeks. By die vergeelde swart-en-wit fotos raak die atmosfeer ongelooflik stil … om te dink She haElohim het met sy lewe betaal.

Pelgrimsrus

Dis toe dat die tyd sy misvlerke toevou en soos ‘n groot witgans vir altyd anderkant hierdie wegbreekpaaie begin kopwegsteek.

Om op sulke paaie se vlerke te reis word dan ‘n gety van genesing vir die spirituele binnemens.

Teerpad in die mis

Mag jou paaie altyd soet wees.

Spokie

28 thoughts on “Paaie, ‘n gety van genesing”

  1. Elke foto spesiaal. Elke herinnering spesiaal.
    Ek love die tronkvoëls! Tog wonderlik hoe vinnig die veld herstel na ‘n brand! Oee en die kleurvolle vroue met hulle krale…

    Like

  2. Wil ek nou wragtig nostalgies raak oor die foto’s! Toe berispe ek myself streng. Ek, hoef mos net te gaan ry. Dis mos my wereld. Ari gedori vir meer as ‘n dekade het ek dikwels na harde en of aanhoudende reEn snags by my agterdeur gestaan en luister hoe die water bulder by Berlin waterval.

    Like

  3. Baie mooi vertelling so saam met die pragtige foto’s Spokie. Die graskop tronkfoto is te oulik en die alwynblare met die druppels op is regtig so mooi. Dankie vir die lekker reis. 😀 ♥

    Like

    1. Jinne – maar jy’s vinnig! Skaars die “publish”-knoppie gedruk, en jy’s hier. Nog nie eens kans gekry om jou te laat weet van die skrywe nie … (glimlag)
      Noem hul dit beheerneem of flink of flukse juffrou?
      Dankie Scrapy, dit was in elk geval baie lekker om deel te neem.

      Like

Leave a reply to scrapydo2.wordpress.com Cancel reply