Water wat wink

Oktober, 2013.

Kameelperde knibbel langtand aan dor herfsblare, smagtend na eerste sappige bloeisels.

TYDENS UITERSTE DROOGTE VERTOON DIERE DIESELFDE KLEUR AS DIE BLEEK VELD (5 Okt 15 - 007)
WANNEER EERSTE REëNS KOPPIG WEGBLY SMELT DIEREKLEURE SAAM DIE BLEEK VELD.  (5 Okt 13, 007)

Rooistof klou aan buffelsweet terwyl die savannah haar grassade diep in die skoot koester.

Selfs die koning laat sy goue kroon onrustig sluimer. Saam die salige hitte wag sy gemoed op die dreun van die eerste donder. ‘n Belofte wat die groot dors kan les.

Leeu in hitte

Die renoster proe die bitter alg van stinkende modderpoele …

Renoster drink

voordat hy ‘n modderbad van die maerte daarvan maak.

Renoster modderbad

Die water kom!

Wanneer die hemel haar vensters oopgooi stoot stortreëns kabbelende voortjies na damme en riviere.

Kameelperd drink

Die kameelperd buig makliker terwyl ‘n saalbek-ooievaar hap-hap na die lewe in die water.

Buffels klouter na benede, terwyl waterlelies se spruite ontkiem en biesies met denamiet in sade spog.

Buffels in dam

Die saalbek se hap-hap vorm waterrimpels  wat al wyer-en-wyer hoepels kabbel.

Voël in water

Olifante stoom en rol en spuit koel water-strooitjies na mekaar.

Olifante bad

Buffels skep water met hul holtes en hoor die klotsing van bruisende golfies.

Buffels rol in water

Nou wonder ek … waarom het elke dam ‘n dooie boom? is dit juis van te veel water of die droogte?

Boom droog in water
SEEKOEIE ONDER ‘N DROë BOOM DROOM VAN SEISOENE WAARIN HULLE IN DIEP WATERS KAN WEGSINK.

Geen mens of dier kan sonder die water van die lewe nie.

(Hierdie stukkie is ingeskryf vir Scrappy2 se uitdaging oor WATER/BADTYD)

40 thoughts on “Water wat wink”

  1. Ja, dis wat ek ook altyd wonder as ek die dooie stomp sien hier by ons in die dam. LOL! Geen blaartjie te sien, maar dit staan daar en is ‘n uitstekende rusplek vir die watervoëls. Dis miskien hoekom dit daar staan. 😀

    Uitstekende fotos van hierdie pragdiere. Sjoe! Jy mag maar! Dankie vir die deel. ♥

    Like

      1. Plesier en dankie vir die terugvoer. Die stuk stomp is al daar vandat ek kan onthou, so ek dink dit het al gefossileer of so iets. LOL!

        Like

  2. Siestog, die buffel wat so lê, lyk waarlik moedeloos… Het jy die klein voëltjie langs hom opgemerk, wat net sy kans afwag? Daardie buffels wat so lekker “baai” in die water, laat sommer my tone krul van lekker kry!

    Like

    1. Hallo! Ja – ek verkyk my ook altyd aan die bosluisvoëltjies wat orals op die diere se rug saamry. Hulle maak soms pragtige fotos as hulle opvlieg net as jy kiek. Hier by ons is dit ‘n baie droë jaar, hoop dit gaan beter daar oorsee …

      Like

    1. Ja – ek kry maar die diere jammer as die water so skaars raak. En dit lyk vir my of hierdie jaar nog erger gaan wees! Toemaar, ek het vir Dries hierbo gevra omtrent die dooie bome. Ek wil ook weet … sal sien wat hy terug skryf…

      Liked by 1 person

    1. Ja dankie perdebytjie. Die buffels wat so rol was baie spesiaal. Mens sien dit nie elke dag nie. Terwyl ek met die artikel besig was , het ek aan jou gedink en die 1000de fotos waardeur mens moet blaai om 10 uit te kan trek vir ‘n storie. Nogals nie maklik nie … Ek delete natuurlik baie, soos ek deurblaai, mens moet net die bestes hou … (net jammer die emosies werk nie altyd saam, mens is mos jammer vir jou fotos…al is dit flops)

      Liked by 1 person

Gesels asseblief saam ...