Toneelspelers van die Natuur

Daar is geen bloed om te wys, maar van hierdie oomblik af behoort Piggy aan Tilo.

Alhoewel my hart brand, sal ek dit nie waag om haar by hom af te vat nie. Vlymskerp naels mag my lewe kos.

Tilo en Piggy

(Sien Scrapydo2 se uitdaging oor Toneelspelers)

Die wildernis se toneelspelers is gehard. Genadeloos. Hulle glo nie aan fiksie nie en kan die rol in ‘n oogwink ruil van jagter na gejagte. Die spel wat afspeel is nie vir sensitiewe gehore en sal slegs die vinnigste of slinkste speler die oorwinning smaak.

Ontmoet Tilo – die kollekat wat se gluur koue rillings teen jou ruggraat laat afgly as jy skielik op hom moet afkom. Die hoofkarakter met ‘n kenmerkende swart spikkel in die oog.

Tilo gluur

Op die toneel hang die reuk van olifantmis terwyl Piggy roerloos voor Tilo se kloue lê. Die dowwe gordyn van die dood alreeds besig om die sluier oor haar blink te trek. Ek ril: “Maggies – wat soek ek hier!”

Piggy roerloos

In die volgende toneel vlei Tilo homself neer onder ‘n groot koelteboom. Die hitte is salig. ‘n Rukkie later spring hy weer op. Is dit sy verbeelding of is daar vlokkies wat vanuit die hemel op hom neerdaal? Dalk Piggy se gees?

Sy oë soek na bo …

Tilo kyk op

Dis Maggie. Die blouaap wat hierdie omgewing soos die lengte van haar stert ken.

Ongemerk laat sy stukkies boombas deur die ruig blare val om kollekat se rus te steur. Sou sy dit aspris doen?

Aap Maggy

Ek frons – waarom die verwildering? Tilo is tog dik gevreet en geen gevaar? Die roofdier het egter genoeg gehad en sluip weg om ‘n vredevolle koelte te gaan opsoek.

Voor my rol ‘n wit bolletjie wol onder die donker bos uit.  Ek glimlag. Natuurlik! – Maggie se albino-kind. Hy is vir nog ‘n dag gespaar.

Albino apie

Terwyl ons aanstoot boskamp toe, wonder ek of ons die spook-apie weer sou sien. In hierdie woeste bos is dit gevaarlik vir ‘n toneelspeler om ‘n sneeuvlokkie pakkie te dra.

In hierdie reeks vertolk Tilo die karakter van ‘n intelligente dog aantreklike luiperd. Maar is sy goudkleurige rosette wat oor sy vaartbelynde lyf blink, geen aangetrekte pakkie nie.

Tilo tevrede

Terwyl ons die laaste toneel inbeweeg, voel ek hoe die son sy krag verloor. Hoe bosgeluide terugkeer: die deurdringende roep van die visarend hoog teen die blou lug. Die gehuil van die jakkals wat smag na ‘n happie vir die nag.

Terwyl Tilo plat word saam die aarde, weet ons almal dat vrede net sal terugkeer …

Tilo lê

Toneelspelers:

TILO – Kollekat van Karongwe reservaat.

PIGGY – Vlakvarkie van Karongwe reservaat.

MAGGIE – Blouaap vanuit die Kruger Wildtuin.

ALBINO-KIND – Uitsonderlike inwoner van die Kruger Wildtuin.

(Dankie aan Blommie wat al die pragfotos geneem het  – http://bosveldnimf.wordpress.com/ )

37 thoughts on “Toneelspelers van die Natuur”

  1. Pragtig geskryf Spokie en pragfoto’s van Blommie. Jy weet darem hoe om met jou woorde te speel hoor! Dit het gevoel asof ek na een van my TV series kyk. 😆

    Die natuur is niks wreder as die mensdom nie en die empatie wat ons met die natuurkinders het, maak dat ons hartseer voel as een moet doodgaan om ‘n ander te voer. Dis maar menslik. Ons voel darem nog iets vir hulle. Daar is mense wat dit net vir pret en plesier doen en ander wat dit toelaat net om geld te maak. Nou dis wreed.

    Dankie vir die lekker deel. ♥

    Like

        1. Hy het beslis. Ek sal hom sommer vir my vat en grootmaak. 😆

          Dit is ‘n jammerte ja en alhoewel ons aapkinders nie so veilig is nie, het hulle dit darem beter af as die ou klein dingetjie.

          Like

  2. Ouderdomsbeperking….. en beslis nie vir sensitiewe kykers 🙂 Pragtig gedoen Spokie…. maar ai, die natuur bly maar vir my wreed. Soos jy sê, eers wanneer die gordyn sak.

    Liked by 1 person

    1. Ja Frannie, die luiperd is pragtig! Ek gaan bietjie loer oor “Klawervier”. Dalk kan dit my help met die volgende uitdaging oor “Kinderstories” Miskien kan ek dit “match”. Baie dankie.

      Like

    1. Dankie vir die inloer hier, Tina. Soek jy ook deur so baie fotos wanneer jy jou Vrydag byskrifte saamstel? Mens moet dit self geniet, anders sal jy dit nooit doen nie. (Vat nogals baie tyd.)

      Maar ja, ek geniet dit baie!

      Liked by 1 person

Gesels asseblief saam ...