Trane en Turksvye

Sy rill … tot binne in haar siel.  Sien weer die honger swartkopdogtertjie wat deur die verbode doringdraad wurm om by die winkende soet nektar uit te kom.

Opgewonde pluk sy. Die vrugte laat haar mond water en maak sy sommer van haar rokkie se skoot ‘n mandjie. Terug by die draad moet die kosbare vrag eers neergegooi word, dan weer opgetel word, voordat sy vinnig kan terugvlug huistoe.

Sy voel hoe honderde onsigbare doringkies hul suiers diep in haar brose velletjie insteek. Selfs haar sagte binnebeen plekkies onder die kosbare vrag begin kriewel. Maar sy  weier om haar oes weg te smyt. Voel dan hoe die sout van haar trane die dorings wat op haar bolip vergader, aan die brand steek …

turksvy-vrug-2

“Gaan ons turksvye pluk?” dring manlief weer en my oë vlieg oop.

“Nee dankie!” Ek skrik vir die drif.  Skielik voel dit of my hande oortrek word met hordes onsigbare stekels.

Almal spring op die Jeep. Ek wuifel: “Goed goed, ek gaan saam, maar net om fotos te neem  …”

turksvy-deur-draad

Weereens wink die buurman se vye deur die draad na my. Maar hierdie keer is daar oorgenoeg aan die binnekant.

Deur die lens vergru die vyand:  “Rerig?” snork ek liggies, geen wonder – die stamdorings van die turksvy steek wild en wragtig na alle kante en is nie skaam om hulle prik te pronk nie.

turksvy-stamdorings

Die Opuntia tuna is deel van die kaktus familie en is die dorings en distels  op hierdie plante eintlik “verskrompelde blare” wat vir ’n ander doel toegerus is.

Pynlike ondervinding vanuit my kinderjare leer:  Maak eers vir jou ‘n jamblikkie ordentlik vas aan ‘n lang paal. Pluk dan nét daarmee! En moet ook nie onder die wind staan waarheen die dorings waai nie, anders “sit jy met ‘n turksvy.”

MANLIEF PLUK VAN DIE SOETSTE EN LEKKERSTE
MANLIEF PLUK VAN DIE SOETSTE EN LEKKERSTE MET DIE TUISGEMAAKTE PLUKSTOK

Dan word die vrug in ‘n emmer met water gedompel en goed geroer sodat die dorings kan begin loswoel.

KYK HOE DRYF DIE DUIWELTJIES HIER BO-OP AL ROND
KYK HOE DRYF DIE VERVLOEKSTE DUIWELTJIES BO-OP DIE WATER ROND

Turksvye is van Suid-Amerika na Suid-Afrika gebring, en word oor die algemeen as ‘n pes en bedreiging beskou.

Ek glimlag vir die sebra’s agter my wat nuuskierig nader staan. Selfs húlle wonder waaroor die commotion gaan.

turksvy-zebras

Nou is dit die dames se beurt.

BLOMMIE MEEN HAAR OOG IS MEER INGESTEL OP DIE SOETES
BLOMMIE MEEN HAAR OOG IS BETER INGESTEL OP DIE SOETES

Terwyl sy oes sing die sonbesies: “Die oes is groot maar die arbeiders is min!”  Ons raak vrolik want niks is so lekker soos ‘n yskoue turksvy vanuit die yskas nie.

DIE ELANDE MET KLEINTJIES DINK DIS VEILIGER OM LIEWER PAD TE GEE
DIE ELANDE MET HUL KLEINTJIES DINK DIS VEILIGER OM LIEWER PAD TE GEE

By die Jeep word die vye weer oorgeskep in ‘n ander houer.

BY DIE VOERTUIG WORD DIE VYE IN 'N ANDER HOUER UITGESKEP.

Ek adem die omgewing in. Hier tussen veldblommetjies en miskruiers kan mens ontspan. Dis lekker om te weet dat die swartkopdogterjie haar vrese oorwin het.

Sy was maar net deel van die spel-van-grootword in die woeste wildernis.

32 thoughts on “Trane en Turksvye”

  1. Ek het ook ‘n bekvol turksvy gekry desjare in Suidwes op die plaas. My ouma het botter gesmelt en my mond laat spoel met dit. Ek kan nie onthou hoe lank daardie proses aangegaan het nie – ek weet net dit was vrek lank vir ‘n 5-jarige 😦
    Maar ja, yskoud (en geskil! ) is dit héérlik 😀

    Like

  2. Oe lekker lekker…. ek ken turksvye van plaastyd as kind. Behalwe vir ‘n verdwale doring het ons lekker geeët want my oupa het ons geleer om met die blikkie turksvye te pluk. Ons het hulle dan in die sand gerol om van die dorings ontslae te raak.

    Liked by 1 person

  3. “nie skaam om hulle prik te pronk nie” 🙂 oulik
    My suster as stadsjapie (en nie-perdryer) het gaan perdry op my oom se plaas. Die perd het vasgesteek voor ‘n plaat turksvye en sy het binne in dit beland. Dit was nie pret gewees nie!

    Liked by 2 people

Gesels asseblief saam ...