All posts by Spokie sny spoor

Wat is jou superpower?

(Sien lê-jou-eier uitdaging)

Ek glo dat baie van ons (selfs jy wat hier lees) skatryk na die graf gaan. Die begrafplaas (nie die rykmansbuurt) is die welgesteldste en mees begaafde superpower-opset op aarde.

Terwyl ek almal se blogs geniet, kom daar hartseer. Hoe kan iemand meen: “ek het nie superpowers nie”? Die inskrywings het egter al hoe interessanter geword – want elkeen se persoonlikheid en superpowers is so uniek!

ALMAL van ons besit drie stelle superkragte. ELKEEN van ons is ryk aan skeppingsvermoëns in al drie dimensies/vlakke van ons menswees. Sommige hiervan word ons mee gebore, ander ontwikkel oor tyd en ander powers kan “op-die-oomblik” ontvang word, wanneer nodig.

Hester noem dat jou superpower die vermoë besit om gebeure se verloop te beinvloed. Dis waar – superpowers word geskenk om ander mee te “dien”. Ek alleen kan egter besluit of die skeppings-powers wat ek aanbied goed of sleg, negatief of positief, sal meewerk. Dis my keuse.

Superpowers is onberoulik, maw vir EWIG. En gewoonlik broei dit binne my deur ‘n skeppingsdrang wat ‘n uitlaatklep soek. Dit is gewoonlik dié dinge wat ek van hou om te doen.

Internet

Wanneer word superpowers positief of negatief aangewend? Daar is “powers of the dark” en daar is “powers of the light”. Jy sal dit aanvoel in jou gees. Jy kies kant. Hierdie skrywe praat meer oor die powers wat LIG en LEWE in mense genereer. Alle goeie dinge kom vanaf die Skenker- en Gawegewer.

Eerstens besit ons superpowers van die LIGGAAM. As voorbeeld gebruik ek my atletiesie-aanslag. Tydens Bokkesport op skool behaal ek gereeld die eerste of tweede plek, maar val gou uit by die nasionale byeenkomste. Hoekom? My ouers het nie my superkrag hierin ontwikkel of raakgesien nie.  Wat ‘n waste of superpower! Hierdie vermoë gaan saam my graf toe. (Sorry – biologiese superpower.)

Internet

Tweedens is daar die powers van ons SIEL. My siel se funksies is my wil, emosies en intellek. Hier is van julle wat rondloop met ‘n IK wat super vindingryk is. Talente of vermoëns vra ook gewoonlik om ontwikkeling of verbreeding in jou siels-kreatiwiteit.

My pa kon 14 verskillende instrumente bespeel sonder enige musiekonderrig of skooling. Hy was uiters musikaal. Het hy dit ontwikkel tot op die vlak van wêreldbekendheid of mense beinvloeding? Miskien, miskien nie. (Sorry – pa is graf toe met hierdie kosbare skat en het niks op papier of DVD-vorm agtergelaat)

Internet

Sommige vaar beter. Vat vir Storieklong. Die skryfkuns wat uit sy pen vloei is onbeperk. Hy moet eintlik ingehok word. Sy kreatiwiteit bevat ‘n skryfkrag wat ander mense se sieninge of lewens drasties kan verander. Ek glo hy het al ‘n boek neergesit? So ook Toortsie wat ‘n voorbeeld is van iemand wat haar bak-en-brou kreatiwiteit in boekformaat nou neersit – om ander te bedien en te help. So ook Scrapydo2 – al gaan sy na die graf, los sy iets van haar superpowers agter op aarde. Sy het aan soveel kinders op skool ingebou. ‘n Toonbeeld van positiewe superkrag aan ons nageslag.

Internet

Die laaste maar nie minste word aangetref in ons GEES. Ons het ALMAL superpowers in ons gees, maar gaan die meeste potensiaal graf toe. Ek praat nie hier oor godsdiens of die kerk of jou “geestelike lewe” nie (dit is jou Leraar se werk), maar wel die superpowers waarmee jy vandag begaafd mee rondloop.

Hier is drie van ons bloggers as voorbeeld. Die ander is ook gelees en neergeskryf, maar glo nie julle wil ‘n hele koerant  daaroor lees nie.

  1. Tannie Frannie bring haar siels-kreatiwiteit mooi na vore. Haar “verbeeldingsvlug” van om ‘n kamer in ‘n boomhuisie te omskep toon die vindingrykheid van haar brein. Sy bring selfs die emosie daarin deur te beskryf hoe dit haar laat “voel”. Dan duik sy af na haar gees met dié woorde: “oë agter my kop”. Ons siel besit nie 5 sintuie soos die liggaam nie, maar my gees wel. Ek kan met my gees dinge ‘sien ‘ of ‘weet ‘ of ‘onderskei’ of ‘aanvoel’ – selfs agter my kop.
  2. I Scrap 2 bring ook die superpowers van haar gees, siel en liggaam in haar stukkie na vore: “mense met ysterhande” – spreek van liggaamlike superpowers. Haar stelling “my geaardheid” spreek van haar karakter wat gesetel is in die siels dimensie. Maar dan noem sy haar “fyn aanvoeling” vir sekere dinge en die “kat uit die boom kan kyk” – hierdie is haar gees se superpowers. Ander mag dit sien as ‘n “woord van wysheid” of ’n “woord van kennis” terwyl ander dit sien as fortuinvertellery.
  3. Laaste na Toortsie. Sy kan “op haar voete dink” – dit bring die superkrag van haar siels intellek na vore. Om “oplossings” te vind, toon die denamiek van haar ingebore leierskap (bediening) en om “in beheer te wees” toon haar gesonde emosionele intelligensie.

Ek gaan darm nie met al my superpowers graf toe nie. My atletiese liggaamsbou het my al baie gered, vernaam tydens tienerkampe as daar saam gehiep-hop moet word. My siels-superpower van musikaliteit (soos my pa) wend ek vandag aan om manlief in sy sang optredes te begelei.

Internet

En laastens kan enige  iemand enige tyd ‘n mikrofoon in my hand stop en op ‘n “stage” voor honderde mense gooi:

Oehoe – gees-superpowers en adrenalien galore!!!

Ons ALMAL besit drie stelle superpowers. Almal is uiters begaafd en uniek. Het jy joune al ontdek?

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

Advertisements

Lê-jou-eier: Vir wat is jy bang?

(Skryfkompetisie)

Ek weet nie of ek hieroor moet lag of huil nie. Maar daar is niks soos ‘n parmantige hoenderhaan met blou-pers stertvere wat my nekhare laat kriewel en my lyf vol sweet laat uitslaan nie. Manlief het my al gespot hieroor. Indien ‘n haan wel my pad kruis sal ek ongemerk ‘n ander pad kies, sonder dat iemand anders of die haan dit agter kom.

Waar kom hierdie fobie vandaan? Dis iets vanuit my “kan dit net-net-onthou” jare:

Die vorige dag was alles nog rustig op die plaaswerf. Die jakkals onder die doringbos het gelê en loer na die kuikens, die patriarg-haan het oor sy familie gepronk, die veghane in die hok het mekaar gekoggel, die skroppende henne het rond gekloek tussen die gras- en kampferbossies en die tjierpende kuikens het kort-kort veilig onder ma se donskombers ingeduik.

Op hierdie spogplaas, tussen Duiwelskloof se bergpieke en spookagtige misslierte, het ouers en kinders laer opgeslaan vir ‘n kerkkamp naweek. Hul was opsoek na ‘n Redder.

Want waar pa is, is altyd kerk. Dan het die kinders die plaas ingevaar, ouers geglimlag en sommige my aangegluur met dié woorde: “Hier is daardie wilde pastoriekind al weer!”

Dan sou die grootmense kerk hou, ure aanmekaar. Pa tokkel die trekklavier, ma en die susters bid dat die kranse antwoord gee en pa preek dat die spoeg spat en as die Gees begin werk was daar selfs gekoordans.

Die groter kinders het kleilatgooi, rotse-spring, watervalduik en piesangstoor-vry, gedoen.  Ons snotkoppies mag nie deelneem nie en karring maar agter die grootkinders aan.

Skielik sweef ‘n onheilspellende donker skaduwee oor die plaaswerf. Dit word doodstil. Maar dan spat alles uitmekaar!

Internet

Die Haan kraai-skree na veiligheid. Kuikens skiet uitmekaar. Die henne vlieg orent en soek hul kuikens. Die veghane in die hok staak hul gekoggel. Die jakkals spring op – nou is sy kans!

Internet

Chaos tril deur my 4-jarige lyf. Wat nou!? Ek word bewus van ‘n atmosfeer gelont met adrenalien.

Toe skraap die jakkals die kuikens, die henne pik en spat agterna, die haan jaag die henne op ‘n hoop en ek duik die jakkalshond. Alles remoer.

Internet

Eensklaps is alles oor. Die oomblik verby. Die skaduwee het gewyk. Die jakkalshond kruip druipstert onder die doringbos in, die haan skuur vlerk en pa se preekstem warrel vanuit die sitkamervenster oor die werf.

Ek vries. My ore tel ‘n groot benoudheid op. Dis die smeekgebede van ‘n hen in nood – haar kuikens het deurgekruip tot binne in die veghane se hok en is die parteie wreed geskei.

Internet

Haar oë smeek verbouereerd na my terwyl haar kop woes en wild deur die ogiesdraad pluk, net om vas te sit dat die vere waai. Dan hardloop sy teen die draad op en af met die kuikens aan die oorkant agterna, dog bly hul geskei, vir ewig. Ek voel hoe my moedershart inskop. Siestog. Hoe wreed!

Sy is opsoek na ‘n Redder.

My 4-jarige wilde-lyfie wurm onderdeur drade, spook bo-oor voerbakke maar bly gefokus op die kuikens wat vlerk-klappend om hulp gil. Uiteindelik bereik ek die eerstes en keer hul in die hoek vas.

Die volgende oomblik skop iets teen my kop en ‘n skerp nael sny regor my slaap. Die kuiken spat uit my handjies. Ek stol. Dis die veghaan – iemand het sy gebied oortree en hy is woedend! Weer storm hy.

Internet

Oorlewing gryp in ek ek voel hoe hierdie wilde dogtertjie se voet vorentoe skiet. Die haan se borsvere voel glad onder my voet. Hy huiwer – maar storm weer. Ek skop weer. Langs my kop streep ‘n straaltjie bloed. Ek begin hardop gil …

“Pa, pa! Help help!” Die huis se agterdeur bars oop. Pa storm uit.

Want die wilde dogtertjie het ‘n Redder nodig.

Ek sien hoe pa oor die hek spring. Die haan koes eenkant toe. Pa was ‘n man van min woorde. Daardie dag het hy niks voor sy gemeentelede gesê nie maar ek dink sy vloekwoorde was iets soos:

“Doen dit weer aan my kind en … ”

Internet

Copy & Paste die volgende paragraaf onderaan jou blog:

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

 

Geelkoppie word groen

(Skryfkompetisie)

Geelkoppie is ‘n vla-pampoentjie.

Die dag toe die woudkabouter met ‘n swart pen toor, skilder hy vir Geelkoppie ‘n gesiggie. Sy het dadelik begin lewe!

Versigtig vou ek haar toe in Barbie se kombersie en smeek mamma om haar nie te kook nie. Mamma glimlag en knik.

Kosmaaktyd saam Geelkoppie is ‘n woeste avontuur. Dan skuifel mamma my veilig tot teenaan haar – bo-op die groentetafel – en stoot gladde Geelkoppie speels tussen my knieë rond. Geelkoppie kraai en swaai hoog die lug in op terwyl mamma die groentesop roer.

“Kyk,” sou mamma straal en vir Geelkoppie armpies maak van ertjieblare met ‘n murgpampoen-lyfie. Vreugde koer in die atmosfeer. Dan belowe Mamma as ek al my groentes eet, sal ek eendag net so ‘n blonde krulledos soos sy en vla-pampoentjie dra.

Die rasper raas na my. “Moenie vat!” waarsku mamma, “dit maak kleindogtertjies se vingers bloei en Geelkoppie sal ook nie daarvan hou nie.” Dit is so, want nadat rooirisse gerasper is, spoeg ek dit bitterbek rond en laat mamma gryp na die vadoek.

Eendag is Geelkoppie weg. Ek dink sy dryf in my sop. Warm trane spat oor my knieë terwyl mamma my troostend regskuifel op die tafel.

“Kyk wie is terug!…” speel mamma en druk ‘n vars vla-pampoentjie tussen my bene. Ek giggel. Die woudkabouter is terug in groenteland. Die avontuur is woes. Ek frons – waarom sou Geelkoppie groen geword het?

Copy & Paste die volgende paragraaf onderaan jou blog:

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

 

10 Beste Potretfotos vir Maart 17

Om potretfotos van wilde diere in Die Kruger te neem, is ‘n riller.

Hul staan nie stil nie – al smeek jy,  hul kyk nie in jou rigting nie – al skree jy, en swaai jy suutjies die lens, duik hul weg. Ek noem dit pleinweg – moedswillig!

Om te kwalifiseer vir ‘n effektiewe potretfoto benodig jy ten minste ‘n “kopskoot” of die mens/dier moet in die rigting van die kamera kyk. Vang jy nog die blink in ‘n oog vas, het jy ‘n wenfoto … sug.

Gelukkig kwalifiseer dit nie vir stadsjapies wat vrydagmiddag jaag om Die Kruger se hek betyds oop te vang vir die naweek nie.

Ek moes hard sny aan hierdie fotos om hul nader te bring, dis egter plesierig.  Baie  kwaliteit gaan verlore maar is dit lekker om in die oë van die dier weg te raak. Geniet dit (die emosie van die oog) saam my:

” HI, VANWAAR IS JULLE KLOMP NOU WEER? “

 

“GEE PAD – EK WIL DEURKOM!”

 

“SAPPIGE 1OUUR ONTBYT”

 

” MOENIE OOGKNIP NIE ASB.”

 

“VREDE VASGEVANG IN ‘N RAAM”

 

” MOENIE DIE KOSTELIKSTE TUSSEN DIE GROOT 5 VERGEET NIE “

 

” OOG-STREEP-PLESIER “

 

” ‘N BOSLUIS INRUIL VIR ‘N MOESIE?’

 

“MENSEOOG VASGEVANG IN ROOI”

 

” DIE LUIPERD HET DIE LAASTE TUUR”

Skillie Skop Stof

Die Kruger Wildtuin is groen. Tangle-groen.

Satara Maart 2017

Selfs die langbeen-diere sukkel om kop bo gras te hou. Ek sug – die kans vir kolle in die sand of agter welige blare, is skraal. Die bosveld ruik egter vol avontuur.

My oë brand van al die stipkyk, soveel so dat die stoomende stofkol wat in die grondpad na ons aangerol kom spookerig voorkom.

Dis Skillie. En op ‘n mission! Hy marsjeer reguit op my af.

Die kar briek. Skillie bars in my lens in. Donker priemende kraalogies tuur tot diep binne in my siel.

“Waar is die marshmallows?”

“Wat?” skrik ek en tuur terug. Het die kruger-diere hul respek vir mense verloor?

Tandloos en papbek hap hy na my – en wag – en hap weer.

Ek vererg my vir die arrogansie. Ek meen – soek hy dalk ‘n pienke of ‘n witte? Realiteit skop egter in en ek antwoord beslis: “Jammer, ons is gehoorsame burgers, ons voer nie.”

Ons oë gom. Hy wag beslis, ek kliek gewis.

“Is jy verwant aan ‘n denosourus?” vra ek en verkyk my aan sy growwe skilferdobvel.

“Wel … ” skommel hy en lig sy skub-bedekte voorklou, “eet ‘n denosourus marshmallows?”

“Sorry, geen marshmallows,” snork ek en zip die kosmandjie toe.

“Sorry, geen fotos, ” wip hy en zip weg onder sappige groen gras.

Die Kruger is nat en die damme vol.  By die volgende laagwaterbrug woon ‘n mega-skilpadfamilie saam hul aangenome krok-ma.

Ons stop en begin kliek. My lens sien tot binne in die hart van ogies.

“Waars die marshmallows?” koor dit.

“Wat!?” blaas ek verontwaardig. Wat gaan aan met die Kruger diere. Nes die politiek ruk dinge handuit.

Dit voel of 20 paar oë my deurboor. Naby my, heelvoor troon die patriarg.

Hy is aantreklik en glibberig. Spog met 2 geel pêrels op sy onderlip. Deur die lens sien ek hoe die borrels uit sy ronde snoetgate stoot:

“Kom ek vertel jou die geheim …” brom hy onskuldig en swaai sy  volle lyf na my. Ek aanskou dit ondersoekend en skrik vir die vetterige rou wond deur sy dop wat na my gaap. Ek sluk.

“Die geheim is,” kom dit manipulerend, “as die marshmallows volop val, byt die krokodil nie na doppe nie.”

Ek hyg! Rondom raak die veld stil. Die krokodil knipoog na my. Op haar rug gewaar ek ‘n blinkding wat skree: “Help, help!”

Is dit wat mens ‘n Kruger-“bribe” noem? Ek smyt die kamera neer.

En voel  hoe my vingers diep in die sagte marshmallows woel.  Skielik hunker ek na die pienksoet daarvan op my bitter tong …

Trane en Turksvye

Sy rill … tot binne in haar siel.  Sien weer die honger swartkopdogtertjie wat deur die verbode doringdraad wurm om by die winkende soet nektar uit te kom.

Opgewonde pluk sy. Die vrugte laat haar mond water en maak sy sommer van haar rokkie se skoot ‘n mandjie. Terug by die draad moet die kosbare vrag eers neergegooi word, dan weer opgetel word, voordat sy vinnig kan terugvlug huistoe.

Sy voel hoe honderde onsigbare doringkies hul suiers diep in haar brose velletjie insteek. Selfs haar sagte binnebeen plekkies onder die kosbare vrag begin kriewel. Maar sy  weier om haar oes weg te smyt. Voel dan hoe die sout van haar trane die dorings wat op haar bolip vergader, aan die brand steek …

turksvy-vrug-2

“Gaan ons turksvye pluk?” dring manlief weer en my oë vlieg oop.

“Nee dankie!” Ek skrik vir die drif.  Skielik voel dit of my hande oortrek word met hordes onsigbare stekels.

Almal spring op die Jeep. Ek wuifel: “Goed goed, ek gaan saam, maar net om fotos te neem  …”

turksvy-deur-draad

Weereens wink die buurman se vye deur die draad na my. Maar hierdie keer is daar oorgenoeg aan die binnekant.

Deur die lens vergru die vyand:  “Rerig?” snork ek liggies, geen wonder – die stamdorings van die turksvy steek wild en wragtig na alle kante en is nie skaam om hulle prik te pronk nie.

turksvy-stamdorings

Die Opuntia tuna is deel van die kaktus familie en is die dorings en distels  op hierdie plante eintlik “verskrompelde blare” wat vir ’n ander doel toegerus is.

Pynlike ondervinding vanuit my kinderjare leer:  Maak eers vir jou ‘n jamblikkie ordentlik vas aan ‘n lang paal. Pluk dan nét daarmee! En moet ook nie onder die wind staan waarheen die dorings waai nie, anders “sit jy met ‘n turksvy.”

MANLIEF PLUK VAN DIE SOETSTE EN LEKKERSTE
MANLIEF PLUK VAN DIE SOETSTE EN LEKKERSTE MET DIE TUISGEMAAKTE PLUKSTOK

Dan word die vrug in ‘n emmer met water gedompel en goed geroer sodat die dorings kan begin loswoel.

KYK HOE DRYF DIE DUIWELTJIES HIER BO-OP AL ROND
KYK HOE DRYF DIE VERVLOEKSTE DUIWELTJIES BO-OP DIE WATER ROND

Turksvye is van Suid-Amerika na Suid-Afrika gebring, en word oor die algemeen as ‘n pes en bedreiging beskou.

Ek glimlag vir die sebra’s agter my wat nuuskierig nader staan. Selfs húlle wonder waaroor die commotion gaan.

turksvy-zebras

Nou is dit die dames se beurt.

BLOMMIE MEEN HAAR OOG IS MEER INGESTEL OP DIE SOETES
BLOMMIE MEEN HAAR OOG IS BETER INGESTEL OP DIE SOETES

Terwyl sy oes sing die sonbesies: “Die oes is groot maar die arbeiders is min!”  Ons raak vrolik want niks is so lekker soos ‘n yskoue turksvy vanuit die yskas nie.

DIE ELANDE MET KLEINTJIES DINK DIS VEILIGER OM LIEWER PAD TE GEE
DIE ELANDE MET HUL KLEINTJIES DINK DIS VEILIGER OM LIEWER PAD TE GEE

By die Jeep word die vye weer oorgeskep in ‘n ander houer.

BY DIE VOERTUIG WORD DIE VYE IN 'N ANDER HOUER UITGESKEP.

Ek adem die omgewing in. Hier tussen veldblommetjies en miskruiers kan mens ontspan. Dis lekker om te weet dat die swartkopdogterjie haar vrese oorwin het.

Sy was maar net deel van die spel-van-grootword in die woeste wildernis.

Piesangs aan Pote

Toe die skoot klap, laat los die aapskind. Skreeuend gryp haar ma haar aan die hare en sleep haar die bos in. Daarna het ek nie weer die hartsgesiggies gesien nie. Dis asof die tarzantoue en kranse hulle ingesluk het.

Onder my skaats en brul die 4×4.  Magoebaskloof is mistig, die rooipad seepglad en die koue geweerloop wat ek tussen my bene vasknyp stuur rillings my ruggraat op. Die wapen is net ‘n afskrikmiddel, maar bly gevaarlik. Hier is ‘n oorlog aan die gang, tussen mens en dier, om eerste die nektar van die langwerpige groen gebuigde vingers te mag oes.  piesangs-aan-pote-2

By die stoor word die trosse  gedoop in ‘n diep enamelbad – dit verhaas die rypmaakproses – en dan aan hulle pote opgehang.  Die sagtevrug (genus musa) is baie gewild in Suid Afrika en ‘n genotvolle genieting.

Iets wink na my. Dit kom vanuit die eensame piesanghoek waar die oorryp uitskot weggegooi word. Ek skil die geelgoud los van die vrugvlees. Dit proe glad en verrassend soet! ‘n Ryp-gladde-smaak wat net aan dié behoort wat dit sal waag om die swart gedeeltes uit te spoeg.

piesangs-oes-2

Ek voel jammer vir die werkers. Die tropiese hitte suig taai aan jou  lyf en is die deurhandvatsel waaraan ek klou nat gesweet. Daar is geen genade terwyl ou swaer die wit esel in die piesangland inwurm om die trosse in te samel.

Die piesangplant is nie werklik ‘n boom nie, maar lyk soos ‘n klomp toegevoude blare en kan selfs tot 10m hoog groei. Nadat die tros gepluk is word die hele tak afgekap om plek te maak vir ‘n nuwe suier vanuit die wortelstok.

Ek hou asem in terwyl die oorlaaide 4×4  sy kosbare vrag stoor toe stoei. Langs my voel dit of die afgrond ons insluk en die bakkie se snoet bly neuk verkeerde kant toe.

piesang-2

Hier groei die piesangs goud en gesond en proe soos hemelsgoed. Bo my kop in die palmboom koer twee duifies: “kom tot rus, kom tot rus” en voer hul liefdes-ritueel uit.

Later die dag is ek veilig terug by my houthuis-nessie wat in die skoot van Magoebaskloof koester. Ek sug en adem die bekoring van die reënwoud in, ruik die reuk van lietjieblom en proe al die vlees van avokado’s.

magoeba-sonhoekie

Soos ou swaer, het ek nie groenvingers nie,  maar is die watervalletjies my genadig en skep self natuurlike inheemse tuintjies rondom my uilhoekie. ‘n Plekkie om die soet vrugte-oes van die liefde te vier.

Nostalgie skop flou

Agnee! As ek nog eenkeer in my blog moet vaskyk teen verroeste fotos – skree ek! Daar is niks vars. Miskien is dit tyd vir kamera afstof en fotokaart skoonvee, voor Desember vakansie aanbreek:

“Wow – geel-oog, waar was ek die dag toe jý geskape is?”

geel-oog-1

Foto’s, foto’s, foto’s! Alle floppies moet delete word.

“Sê wie?” Nostalgie leer dat jy nie maklik fotos wegsmyt binne die eerste maand na ‘n vakansie nie. Gedurende ‘n eerste sifting kry ek darm so 20% delete.

buffel-des-15“Oehoe – wat van ‘n soen op ‘n nuuskierige sopperige snoet?” Moet  hierdie foto asblik toe? Ok – daar is in elk geval horde buffel-fotos. Vir nou kan ‘n paar van hulle nog vaskleef op die kaart. Manlief skud kop.

sebra-2015Hierdie sebras se swart strepe omhels  ‘n sahara-geel agtergrond. Iets in die samesmelting wink na my.

“Ek soek ook sulke oorbelle! Hierdie kiekies moet bly …”wia-voel-5saalbek-2

 

 

 

 

 

 

 

Nostalgie word vasgevang op die skerm met ‘n vakansie brandend in die hart, net om 10 maande later te besef dat die fotokaart stof opgaar en vergete rus tussen paperclips en penne op jou werkstafel …

renoster

Skielik klop herinnering flou, soveel so dat jy maklik van ‘n verdere 50% ontslae raak.

“Kyk!” stamp ek liggies aan manlief die aand terwyl sluimer kou, “onthou jy hierdie ou het nie aan wortels gevreet, wel ‘n rooibokkie uitmekaar geskeur … ?”

bobbejaan-vreet Mmm – dis soos om wreedheid in prag vas te vang.

En die roofvoël verdien ‘n raam in poeierblou:voel

“Wag, hier kom ‘n wenfoto! Die olifant spuit ‘n boog …”  Nee dit is nie, die kolos stoot boude na die kamera. Floppie!  Tydmors?

Sug – so word 1500 fotos afgegradueer na skaars 50?  Om wat mee te maak?

Jippie, daar is vreugde in die lug: dis Oktobermaand. Ek ruik renostermis, want ons Krugervakansie kruip alweer nader. Tenminste het roesfotos nostalgie aangevuur.

natuur-aand

Nou praat jy! Moenie vergeet, die kaarte moet skoon en batterye gelaai.

Manlief sug – ek glimlag. Hierdie keer neem ek nét wen-fotos!

Waar stoor jy jou fotos?

Danie kuier by Mafunyane

“Tannie, ek wil graag eendag ‘n Finansiële Bestuurder word.”

Ek glimlag, dog knip geen oog.  Die jongeheer met die blonde kuif wat voor my sit se oë is ernstig, dog beslis.  Ek ken ietsie van sy swaarkry. Hoe hy as kind in ‘n enkelouer huis dalk nie elke dag botter op die tafel gehad het nie.

Sy drome is veel groter dan botter.  Hy weet waarheen hy oppad is.  Eendag is eendag, dan hoef sy ma nie meer stilweg trane weg te pik of haar te kommer oor hom en sy sussie nie …

Buite het Blommie alreeds die wildsbesigtigingsvoertuig gepak met ys, chips en koeldrank. Dis tyd om spoor te sny agter die Groot 5 aan.  Ekself bly by manlief, na sy ongeluk is hy nog nie mobile genoeg vir ‘n woeste rit deur die bos nie.

Danie se lang vingers krul versigtig om my kamera.  Die  lens rus perfek in sy palm. “Wow Tannie – mag ek maar fotos neem?  Eendag koop ek vir my ook so een.” Ek knik. Ek weet die jongeheer sal dit mooi oppas …

Hier is van Danie se fotos.  Die spreuke is vir sy mannemoed:

Danie Sebra Drome

 

Danie Onbekende pad

 

Danie Nyala takke

 

Danie seekoei streling

 

Danie Neeushoring

 

Danie Vrede

 

Danie Waterbok vriende

 

Danie Voel

 

Danie sebra Kennis

 

Danie seekoei rus

 

Danie waterskilpad

 

Danie Waterbokke oor self

 

Danie seekoei jonkheid

Danie het voorwaar ‘n oog vir ‘n kamera en ‘n drif vir sy toekoms. Ek glo as hy wyse besluite maak, sal sy drome bewaarheid word.

Sterkte.

Toneelspelers van die Natuur

Daar is geen bloed om te wys, maar van hierdie oomblik af behoort Piggy aan Tilo.

Alhoewel my hart brand, sal ek dit nie waag om haar by hom af te vat nie. Vlymskerp naels mag my lewe kos.

Tilo en Piggy

(Sien Scrapydo2 se uitdaging oor Toneelspelers)

Die wildernis se toneelspelers is gehard. Genadeloos. Hulle glo nie aan fiksie nie en kan die rol in ‘n oogwink ruil van jagter na gejagte. Die spel wat afspeel is nie vir sensitiewe gehore en sal slegs die vinnigste of slinkste speler die oorwinning smaak.

Ontmoet Tilo – die kollekat wat se gluur koue rillings teen jou ruggraat laat afgly as jy skielik op hom moet afkom. Die hoofkarakter met ‘n kenmerkende swart spikkel in die oog.

Tilo gluur

Op die toneel hang die reuk van olifantmis terwyl Piggy roerloos voor Tilo se kloue lê. Die dowwe gordyn van die dood alreeds besig om die sluier oor haar blink te trek. Ek ril: “Maggies – wat soek ek hier!”

Piggy roerloos

In die volgende toneel vlei Tilo homself neer onder ‘n groot koelteboom. Die hitte is salig. ‘n Rukkie later spring hy weer op. Is dit sy verbeelding of is daar vlokkies wat vanuit die hemel op hom neerdaal? Dalk Piggy se gees?

Sy oë soek na bo …

Tilo kyk op

Dis Maggie. Die blouaap wat hierdie omgewing soos die lengte van haar stert ken.

Ongemerk laat sy stukkies boombas deur die ruig blare val om kollekat se rus te steur. Sou sy dit aspris doen?

Aap Maggy

Ek frons – waarom die verwildering? Tilo is tog dik gevreet en geen gevaar? Die roofdier het egter genoeg gehad en sluip weg om ‘n vredevolle koelte te gaan opsoek.

Voor my rol ‘n wit bolletjie wol onder die donker bos uit.  Ek glimlag. Natuurlik! – Maggie se albino-kind. Hy is vir nog ‘n dag gespaar.

Albino apie

Terwyl ons aanstoot boskamp toe, wonder ek of ons die spook-apie weer sou sien. In hierdie woeste bos is dit gevaarlik vir ‘n toneelspeler om ‘n sneeuvlokkie pakkie te dra.

In hierdie reeks vertolk Tilo die karakter van ‘n intelligente dog aantreklike luiperd. Maar is sy goudkleurige rosette wat oor sy vaartbelynde lyf blink, geen aangetrekte pakkie nie.

Tilo tevrede

Terwyl ons die laaste toneel inbeweeg, voel ek hoe die son sy krag verloor. Hoe bosgeluide terugkeer: die deurdringende roep van die visarend hoog teen die blou lug. Die gehuil van die jakkals wat smag na ‘n happie vir die nag.

Terwyl Tilo plat word saam die aarde, weet ons almal dat vrede net sal terugkeer …

Tilo lê

Toneelspelers:

TILO – Kollekat van Karongwe reservaat.

PIGGY – Vlakvarkie van Karongwe reservaat.

MAGGIE – Blouaap vanuit die Kruger Wildtuin.

ALBINO-KIND – Uitsonderlike inwoner van die Kruger Wildtuin.

(Dankie aan Blommie wat al die pragfotos geneem het  – http://bosveldnimf.wordpress.com/ )

Water wat wink

Oktober, 2013.

Kameelperde knibbel langtand aan dor herfsblare, smagtend na eerste sappige bloeisels.

TYDENS UITERSTE DROOGTE VERTOON DIERE DIESELFDE KLEUR AS DIE BLEEK VELD (5 Okt 15 - 007)
WANNEER EERSTE REëNS KOPPIG WEGBLY SMELT DIEREKLEURE SAAM DIE BLEEK VELD.  (5 Okt 13, 007)

Rooistof klou aan buffelsweet terwyl die savannah haar grassade diep in die skoot koester.

Selfs die koning laat sy goue kroon onrustig sluimer. Saam die salige hitte wag sy gemoed op die dreun van die eerste donder. ‘n Belofte wat die groot dors kan les.

Leeu in hitte

Die renoster proe die bitter alg van stinkende modderpoele …

Renoster drink

voordat hy ‘n modderbad van die maerte daarvan maak.

Renoster modderbad

Die water kom!

Wanneer die hemel haar vensters oopgooi stoot stortreëns kabbelende voortjies na damme en riviere.

Kameelperd drink

Die kameelperd buig makliker terwyl ‘n saalbek-ooievaar hap-hap na die lewe in die water.

Buffels klouter na benede, terwyl waterlelies se spruite ontkiem en biesies met denamiet in sade spog.

Buffels in dam

Die saalbek se hap-hap vorm waterrimpels  wat al wyer-en-wyer hoepels kabbel.

Voël in water

Olifante stoom en rol en spuit koel water-strooitjies na mekaar.

Olifante bad

Buffels skep water met hul holtes en hoor die klotsing van bruisende golfies.

Buffels rol in water

Nou wonder ek … waarom het elke dam ‘n dooie boom? is dit juis van te veel water of die droogte?

Boom droog in water
SEEKOEIE ONDER ‘N DROë BOOM DROOM VAN SEISOENE WAARIN HULLE IN DIEP WATERS KAN WEGSINK.

Geen mens of dier kan sonder die water van die lewe nie.

(Hierdie stukkie is ingeskryf vir Scrappy2 se uitdaging oor WATER/BADTYD)

Die vere maak die voël

Maak nie saak hoe kleurvol Afrika se modegier, ons kan maar veer opsteek by ons eie land se extravaganza van fleur en kleur.

Die vere maak die voel spotprent
Internet

Net soos die mannekyn blinkgepoets vanuit die modebotiek pronk, netso sal die geveerde modeheertjies ook daagliks bad en poets en knibbel en stryk om hulle pragvere hoog in die mode en aantreklik te hou.

Scrapy daag ons uit om oor MODE te skryf en hier sal jy sien dat geen voël voel ooit vere vir sy eie besondere modekleur of verelyn nie.

Is aardse kleure jou modesmaak?

HIERDIE AREND
KRUGER WILDTUIN 2012.  HIERDIE AREND SPOG MET TAANKLEURRIGE BRUINE TOT ‘N ROOMWIT BORS.

.

Baie mense  meen dat Aasvoëls stink  en ‘n morsige roofvoël is. Dis egter nie waar nie. Na ‘n maaltyd bad Aasvoëls gereeld en versorg hul voorkoms soos enige modejuffer dit sou doen.

KRUGER 2012
KRUGER WILDTUIN KRANSAASVOëL 2012 TOON SY VEREDOS

.

Is jy meer aangetrokke tot helder kleure in ‘n modegier?

GLINSTERRENDE
GLINSTERRENDE REëNBOOGKLEURE VERSIER HIERDIE KUIFKOPVISVANGER

Net soos die mens wissel van modes, so sal voëls ook gereeld verveer om te sorg dat hulle modepakkies perfek versorg bly.

Die pappa Neushoringvoël werp eers sy vere af nadat die broeityd verby is.

KRUGER 2012
NEUSHORINGPAAR MET DONSSAG VERE EN UNIEKE VOORKOMS

 

Sommige modebase verkies ‘n eksie-perfeksie voorkoms.

REIER
‘N REIER TOON SY PERFEKTE VEERPUNTE GEDIP IN SWART.

 

DIE .... EEND VERTOON SY AANTREKLIKE ONDERVERE. (Polokwane dam 2012)
“JIPPIE! – NIKS LEKKERDER DAN WATER TUSSEN DIE VERE NIE.” (Polokwane dam 2012)

 

Die grootlangtoon spog met ‘n ryk kastaiingbruin lyf, swart agternek en geel onderbors.

Visvoëls
GROOTLANGTOON MET HUL KENMERKENDE BLEEKBLOU SNAWELS EN HOOG IN DIE MODE SONBRILLETJIES.

 

Sommige modebase hou van ‘n aantreklike berghaan-voorkoms van vleesrooi tot pikante bosskakerings van saadbruine en  blinkswartvere wat teen ‘n blou Afrika-lug sweef…

KRUGER 2012
‘N KRUGER WILDTUIN BERGHAAN STRYK EN KNIBBEL AAN SY VLERKE VOOR HY DIE VOLGENDE DUIKSESSIE AANPAK.

.

Is jy lus vir ‘n nuwe modebloesie?  Wat van wit kolle op swart? Hierdie tarentaal het ek 3 weke gelede in Die Kruger opgemerk.

Tarentaal

So, watter tipe persoon is jy? Hou jy van aardse kleure of reënboogkleure of is jy ‘n strepe met kolletjies mens?

Herinneringe sonder grens

(Scrapy se Toeka-Tokkel uitdaging oor Herinneringe )  

Ek voel hoe ‘n warm traan oor my wang biggel. Snaaks – ek ken myself nie so emosioneel nie? Inteendeel, ‘n vriendin het net laas week my ‘n “eiland” genoem. Miskien omdat ek so baie met ánder se gevoelens en trauma moet werk …

Hierdie herinnering sal egter klou. Dis kraakvars in my hart ingepriem en proe soos heuning.  Want om ‘n koer..rende Oumie te wees, is ontwrigtend, of eerder: ‘n wasige droomwêreld.

Rieker Darling

Vat nou maar hierdie foto van Riekinkie. Sien jy dit ook? Oumie sweer dit is ‘n eerste glimlag vanaf Riekinkie – spesiaal aan Oumie. Nee, sê iemand anders, dis nog nie moontlik vir ‘n baba skaars 4 weke oud  nie.  Dalk eerder ‘n maagkramp. Gedorie – kry die dinge-tjie dan ‘n kramp as hy sy Oumie sien?

Maar die volgende oggend is daar nuus! Riekinkie het vir mamma geglimlag en begin gie-gie-gie, toe sy hom vroeg by haar in die bed getel het. Ek sal ook glimlag as my ma my in haar snoesige bed troetel. Pappa moet maar opskuif of af…skuif. As die kot te klein is vir hom, moet hy maar ‘n matras op die vloer gooi.

Sien – Ouma’s is net voordelig. Hulle leer babas hoe om hulle glimlag- of krampspiere te ontsluit en watter slaapplek die bestes vir pappas is.

Daddy

Wat ‘n wonderwêreld leef ons in. ‘n Plek vol herinneringe en lof!

Dankie Riekinkie.

Oumie is lief vir jou.

Paaie, ‘n gety van genesing

( I Scrap 2  se uitdaging oor PAAIE )

Iewers anderkant die Strydomtonnels stop ek en die boskinders by ‘n manekis-stalletjie met die gebruiklike riet-afdak en rotsbankies om pôpôs te koop.

Manekis rots

Die versameling Afrikakuns in die Toyota se agterbak groei mooi aan:  Made in Africa. Sandstone. Ndebele Art. Game skins. African artifacts.

AFrika kuns

Hier in die bergpaaie is ‘n vredigheid. Ek wil langbeen oor die rots se mos sit en wag totdat die yskasklip deur my wese syfer en ek een word met bergvygies en wildevywortels wat teen die skurwe krans opgroei, om so asem na bowe te skep.

Graskop wortelboom

Maar die paaie om te kom, is nog baie. Berlynwatervalle, Gods window, pannekoek op Graskop en tronkfotos op Pelgrimsrus … al die lekkerte waarvoor ‘n bleekvel stadsjapie hom waarskynlik sal skaam.

Graskop Tronkfoto

Vir ons wat uit die era van woonwavakansies met Rondalia-plakkers en karton-laerskooltasse vol coke-plakkers kom, is dit ‘n kosbare terugstap op vergange dae se nostalgiese paaie.

In die mis vat die boskind die grondpad na die watervalle. Daar kom vra ‘n swerm versamelvoëls om ons voete vir broodkrummels en steur hul nie aan blinkdruppels wat met geweld klou aan Aalwynblare en Varkoorkelke nie.

Druppels op alwyn

By Gods window se uitkykpunt rol ek die koffiekatoetertjie uit sy vadoekjasie en deel blikbekers uit. Die boskinders breek droëwors strepe af en maak kougomstukke daarvan.

Nou kronkel die afdraaipaaie  gevoelloos deur verweerde krans en kloof. My oë tuur oor die berg se rondings om sin agter wegkruipertjie misslierte te probeer maak.

Misslierte oor berg

Die enkele rooiblom wat ons deur die doringdraad duskant bobbejaanskrans teëgekom het, is nog vars in my geheue. Dit was asof nie een van ons vier die werklikheid van hierdie rooivlam wonderwerkie kon registreer nie.

Toe ek ‘n paar honderd meter later huiwerig vra: “het ek nou net ‘n rooiblom gesien?”, besef ek dat ons almal eers my woorde nodig gehad het om die fyne dingetjie in ons binneste te kon staanmaak.

Die boskind het brieke aangeslaan en soek-soek op ons spoor teruggery. En sowaar! Dapper in die vetgesuipe swartgrond van die Oos Transvaalse platorand, troon hy stewig geanker. Sy enigste geselskap die geel blommetjies van ‘n drietoonduwweltjie en swartgebrande stronke om hom gestrooi, as teken van ‘n onlangse veldbrand.

Rooiblom

“Dis ‘n ope brief vanaf die Heelal se Skepper,” glimlag ek en hurk plat in die modderveld om foto’s te neem. “Genadegewer,” pleit ek, “mag ons altyd stadig genoeg reis op asemrowende paaie waar ‘n enkele rooiblom nog ongeskonde tussen ‘n gebrande veld oorleef staan, om so alles om hom in ‘n reënboog te tower.”

Ek adem beesmis en kamferplantreuk in.

Tussen rotskeur en skurweklip luister ‘n reptiel nuuskierig na die bergkinders se geknars bokant hom.

Akkedis

Ons is heeltyd bewus van ‘n gerammel in die oneindigheid soos donderwolke roei en stoei vir ‘n oombliksplekkie. Hier kom piets-reën! Die mens kan enigiets verwag op sy reispaaie.

Wolkekraber

By Pelgrimsrus drink die boskinders skuim-milo en trek streeppajamas aan om 1933 tronkfotos te neem.

Op die voorstoep van Mrs Mac’s General Dealer koop jy Ndebele beadedwerk en aardsjewelry teen 20% afslag.

NDEBELE KUNS OP DIE STOEP VAN .... BY PELGRIMSRUS

Vir ‘n oomblik skommel ons gedagte-paaie terug na vergange dae se goudmynvelde, ossewa houtwiele en koekepan tjoek-tjoeks. By die vergeelde swart-en-wit fotos raak die atmosfeer ongelooflik stil … om te dink She haElohim het met sy lewe betaal.

Pelgrimsrus

Dis toe dat die tyd sy misvlerke toevou en soos ‘n groot witgans vir altyd anderkant hierdie wegbreekpaaie begin kopwegsteek.

Om op sulke paaie se vlerke te reis word dan ‘n gety van genesing vir die spirituele binnemens.

Teerpad in die mis

Mag jou paaie altyd soet wees.

Spokie

Welkom, Riekinkie!

Liewe Riekinkie

Riekinkie Teddie 2

Nie meer is jy net ‘n pers vlindertjie op mamma se troukoek of ‘n gedagte in pappa se hart nie.

Riekinkie Troukoek

Ook nie meer ‘n ongevormde klont-bondeltjie saamgeweef in mamma se skoot nie.

Riekinkie 1Scan Maar het jy vir Oumie ‘n kosbare wonderwerkie geword.

Wanneer Oumie skelm onder die snoesige kombersie loer, wonder ek hoe jy moes voel toe die eerste flitslig jou styftoe ogies  wou deurpriem.

Toe warm vliese om jou skeur en jy die koue werklikheid ingly.

Gelukkig was mamma se warm arms daar om jou te troos en ontvang.

Riekinkie ontvangs

Oumie het so l..a..n..k. op jou gewag, maar dra jy alreeds die geur van genade en seën.

Riekinkie liefdetjies

Oumie

Dierewyshede wat ons bemoedig

My vriendin Blommie, het nou haar eie blog. Hier is haar link: https://bosveldnimf.wordpress.com/

Haar fotos oor wildediere is vars en nuut en behoort jy dit baie te geniet. Dankie jou ondersteuning. 

Die fotos hier onder bevat ‘n spreuk wat ek spesiaal aan jou gegriffel het. Mag dit vandag iets vir jou beteken.

Seekoei spreuk Geregtigheid

Koedoes spreuk stap jou

Voeltjie spreuk Wind mag

Seekoei spreuk Dit behaag die

Vark spreuk wysheid word

Kameelperd spreuk Vrede

Sebra spreuk strepe bou

Koedoe spreuk Herkou die

Seekoei spreuk Proe dat

Sebra spreuk 'n Gebrek

Koedoe spreuk Die verlede

Natuur spreuk Rus

Mag jou dag vol liefdetjies en seën wees

Spokie

Toon my jou Hart

Ons naweek-wegbreekplekkie in Magoebaskloof is ‘n reënwoud van misslierte, bergpieke en welige plantegroei. Elke blom daar dra ‘n hart en as jy fluisterluister sal jy dit sien klop en bloei. Net soos die mens, is sommige se kwesbare blomblare gevreet en sou deur die ervare fotograaf of wêreld verwerp word.

(Hiermee vra ek my blogvriende om my vir die volgende 2 maande te verskoon. Ek is volgeboek met kampe en konferensies en om as spreker oor naweke uit te reik en nog voltyds te werk, is baie harde werk. Maar onthou – ek gaan na die stukkende vroukies/blare toe. Dis waar ek moet wees.)

Dit is snaaks dat wanneer iemand stukkend is, sy hart juis duideliker na vore tree …

Hierdie blomme is oor Paastyd afgeneem, nadat ek moeg geklouter was in die kloof agter skoenlappers aan wat my flapperend bly ontwyk. (Toemaar, ek sal hulle nog kiek!)

Geniet dit, terwyl jy die merke van die lewe aanskou.

Magoeba Blom 1

Magoeba Blom 2

Magoeba Blom 3

Magoeba Blom 4

Magoeba Blom 5

Magoeba Blom 6

Magoeba Blom 7

Magoeba Blom 8

Magoeba Blom 9

Magoeba Blom 10

Magoeba Blom 11

Magoeba Blom 12

Liefde in jou hart moet opreg wees
Verafsku wat sleg is en hou vas aan die goeie

Tot ons weer sien
Liefdetjies
Spokie

Riekinkie

My ouma is bosbevange. Olifantmis gee haar adrenalien. Sy hou daarvan om spoor te sny agter wilde diere aan en onder ‘n sterrehemel te kamp. Maak nie saak of daar warm badwater is nie, solank naguiltjies haar en oupa bekoor, is hul sielsgelukkig.

Foto: Internet
Foto: Internet

My pa en ma is stadsjapies. Hulle haat kamp en ‘n koue bad. Hul verkies om deur netjiese geriewe omring te word en dra my pa ‘n wit jas as hy chef speel. Sy Jamie Oliver potte is blink gepoets terwyl my ouma se driepootpot op die vuur swart roet stook.

My ma en pa is sielsgelukkig wanneer die atmosfeer met roosreuk, sekuriteit en dettol bedruip is. Hulle meen die bos is onveilig en wild en kreukel neus vir renostermis.

OUMA SE HOUTHUISIE IN DIE BOS
OUMA EN OUPA SE CABIN IN DIE BOS

My ouma plant madeliefies rondom die krans wat haar houthuisie omsoom en ril nie vir moddernaels of slierthare in misreën nie.

My pa hou van IT-werk en tegnologie en verkies geskropte naels en ‘n stywe kuif. Hy dink ouma is lotjie-getik. Sy Toyota se malvarooi word blink gepoets en ruik na sta-soft en my ouma se 4×4 ploeg in die kloof rond en ruik na olie en rooistof.

Maar wat het dit met mý te doen? Baie! Pa en ma kan nie wag om my perfek gestrykte hempies oop te vou nie en ouma kan nie wag om my kaalboud in modderpoele saam vlinders langs wattervalletjies te laat rondwoel nie. (Sug.) Pa rol oë. Hier kom sports!

My ma en oupa verkies om nie kant te kies nie. Peetma-Blommie besef daar is geen bridge te vind over troubled waters.

14 WEKE
14 WEKE

Aangename kennis: My naam is Riekert. Op 12/3/15 was ek 14 weke oud.  My voetjie 1.47 cm lank en my hartklop 154bpm.

“Rerig?” vra ouma geskok. Dis nou oor die bpm.

“Stadig Riekinkie,” kommer ouma. “Dis normaal,” troos ma. Tegnologie slaat ouma dronk.

My pa noem my ‘n wonderwerk. ‘n Dief wou my steel en my ouers onvrugbaar laat.

Eendag het ouma, wat al jare wag om Oumie te word, my pa en ma gegryp, hul voor ‘n Godsman gestoot en pa gewys om te praat. My pa skrik en vertel die man alles wat die dokters sê. Toe plaas hy sy hand op my ma se maag en bid vir haar. Sy opdrag was dat ons ‘n seisoen moes wag of hom moet epos as niks gebeur. Toe gebeur dit net so!

Dit het my ma en pa se siening omtrent God verdiep. Ouma glimlag in die geheim. My pa dra hierdie prent op sy Facebook hoofblad:

Lighuis

Amper was ek nie gewees nie …

Leef met hart en siel

Soms kan die donkerkamer soveel unieke fotos oplewer, dat mens eenvoudig net iets met dit moet doen.

Hierdie fotos kom vanuit ons Jan 15 besoek aan Die Kruger, en word my hart opgewonde as ek besef dat hierdie diere heel moontlik vandag nog daar rondtrippel!

Geniet dit:

Bontvisvanger laat hoor sy lied.
Bontvisvanger laat hoor sy lied.

 

Kreukel lyne van 'n olifantkoei 2015
Kreukel lyne van ‘n olifantkoei 2015

 

Wakker oog van die Sebra hings 2015
Wakker oog van die Sebra hings 2015

 

Seker voetstappe van 'n olifantbul 2015
Seker voetstappe van ‘n olifantbul 2015

 

Bloedrooi-en-swart van die Bromvoël 2015
Bloedrooi-en-swart van die Bromvoël 2015

 

Satara Koedoebul toon sy trotse horings 2015
Satara Koedoebul toon sy trotse horings 2015

 

Vriendelike groet van die skilpad 2015
Vriendelike groet van die skilpad 2015

 

Stewige greep van die Langtoon 2015
Stewige greep van die Langtoon 2015

 

Hamerkop staan by kabbelende waters en wag vir 'n uitspringhappie
Hamerkop staan by kabbelende waters en wag vir ‘n uitspringhappie

 

Pasgeborene wys sy unieke haarstyl 2015
Pasgeborene wys sy unieke haarstyl 2015

 

Mag jou dagie bestaan uit Liefde en Omgee
Onthou – die lewe is te kort om bitterheid toe te laat
Sien elke dag as ‘n nuwe begin!
Liefdetjies
Spokie

5 Days of Black and White – Day 5 – Big Five

Ek kan aan geen formidabeler dier dink dan die koning van die oerwoud, om hierdie uitdaging mee af te sluit nie.

The two rules of this challenge are easy to follow:
1) Post a black & white photo daily for 5 days.
2) Invite someone different to participate each day.

Die laaste blogger wat ek nomineer is: http://neteknogsteeds.wordpress.com/
Die rede: Sy kan soms die diepste dog interessante fotos op haar blog plaas. Alhoewel sy soms stil voorkom, het sy ‘n baie spesiale plekkie in my hart.

B & W challenge Leeu 2Ook baie dankie aan Blommie (ons fotograaf) wat die meeste pragfotos op hierdie blog verskaf. Hierdie leeu het diep onder riete ver oorkant in die rivier gelê. Haar ge-oefende oë het hom egter uitgehaal.

Die fotos van die leeu was baie swak, amper deleted. Maar het haar vernuf, geduld en ‘n goeie program die lens se kwaliteit na vore bring.

Geniet jou dagie.