Category Archives: Geveerdes

Die vere maak die voël

Maak nie saak hoe kleurvol Afrika se modegier, ons kan maar veer opsteek by ons eie land se extravaganza van fleur en kleur.

Die vere maak die voel spotprent
Internet

Net soos die mannekyn blinkgepoets vanuit die modebotiek pronk, netso sal die geveerde modeheertjies ook daagliks bad en poets en knibbel en stryk om hulle pragvere hoog in die mode en aantreklik te hou.

Scrapy daag ons uit om oor MODE te skryf en hier sal jy sien dat geen voël voel ooit vere vir sy eie besondere modekleur of verelyn nie.

Is aardse kleure jou modesmaak?

HIERDIE AREND
KRUGER WILDTUIN 2012.  HIERDIE AREND SPOG MET TAANKLEURRIGE BRUINE TOT ‘N ROOMWIT BORS.

.

Baie mense  meen dat Aasvoëls stink  en ‘n morsige roofvoël is. Dis egter nie waar nie. Na ‘n maaltyd bad Aasvoëls gereeld en versorg hul voorkoms soos enige modejuffer dit sou doen.

KRUGER 2012
KRUGER WILDTUIN KRANSAASVOëL 2012 TOON SY VEREDOS

.

Is jy meer aangetrokke tot helder kleure in ‘n modegier?

GLINSTERRENDE
GLINSTERRENDE REëNBOOGKLEURE VERSIER HIERDIE KUIFKOPVISVANGER

Net soos die mens wissel van modes, so sal voëls ook gereeld verveer om te sorg dat hulle modepakkies perfek versorg bly.

Die pappa Neushoringvoël werp eers sy vere af nadat die broeityd verby is.

KRUGER 2012
NEUSHORINGPAAR MET DONSSAG VERE EN UNIEKE VOORKOMS

 

Sommige modebase verkies ‘n eksie-perfeksie voorkoms.

REIER
‘N REIER TOON SY PERFEKTE VEERPUNTE GEDIP IN SWART.

 

DIE .... EEND VERTOON SY AANTREKLIKE ONDERVERE. (Polokwane dam 2012)
“JIPPIE! – NIKS LEKKERDER DAN WATER TUSSEN DIE VERE NIE.” (Polokwane dam 2012)

 

Die grootlangtoon spog met ‘n ryk kastaiingbruin lyf, swart agternek en geel onderbors.

Visvoëls
GROOTLANGTOON MET HUL KENMERKENDE BLEEKBLOU SNAWELS EN HOOG IN DIE MODE SONBRILLETJIES.

 

Sommige modebase hou van ‘n aantreklike berghaan-voorkoms van vleesrooi tot pikante bosskakerings van saadbruine en  blinkswartvere wat teen ‘n blou Afrika-lug sweef…

KRUGER 2012
‘N KRUGER WILDTUIN BERGHAAN STRYK EN KNIBBEL AAN SY VLERKE VOOR HY DIE VOLGENDE DUIKSESSIE AANPAK.

.

Is jy lus vir ‘n nuwe modebloesie?  Wat van wit kolle op swart? Hierdie tarentaal het ek 3 weke gelede in Die Kruger opgemerk.

Tarentaal

So, watter tipe persoon is jy? Hou jy van aardse kleure of reënboogkleure of is jy ‘n strepe met kolletjies mens?

Advertisements

Pa en die gespikkelde fenomeen

Die eerste poelpetater het laag oor die heining aangevlieg gekom. Op die plaaswerf het ek en pa in verwondering bly staan. Die voël was vreemd en het senuagtig en wankelrig ingesweef soos ‘n Boeing met wiele vorentoe geskop wat na vlerkbalans soek.

“Pa!” kraai ek opgewonde, “kyk die voël se blou rubber om sy nek.”

Pa het saggies gelag en sy wysvinger op my lippe gehou. “Sjuut – dis ‘n bosveldhoender.”

En so het ek kennis gemaak met die pers-grys pêrel-tarentaal. Pa het daagliks van die hoenders se gebreekte mielies vir die tarentale op die grondpad gestrooi. Terwyl hul pik, sou die wit-spikkels-op-swart my fassinerend betower. Ek het gebrand om die kolletjies van naby te sien of aan te vat, maar pa sou net ingedagte opmerk:

“Hulle wil vry wees …”

TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2012)
TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2013)

Die res van die tarentaal-familie het vermeerder. Tydens mielietyd tel pa my tot bo-op die 200Lt dieseldrom en leer my só omtrent geveerdes. Geduldig wag hy dan tot my 4-jarige lippe die woord duidelik vorm voor hy nuwes gee.

Vandag nog, kan ek die koue harde sade en pitte tussen my woelende vingers voel, diep in die kos-emmertjie. En alhoewel my strooi-armpie te kort was, het pa my gelos. Lang-lip sou ek toekyk hoe pa die gebreekte sade soos reënboogstrepe oor die dor aarde saai. Tot dáár waar die gesnawelde hongeriges trippelend rondspring.

Tarentaal Kop en nek 1‘n Paar jaar later, begin ék egter pa inlig omtrent hierdie gespikkelde fenomeen: “Het pa geweet: hulle is baie lief vir insekte, en bosluise is poeding. As ons Boela luisvry wil hou, moet ons sorg dat hy rustig naby hulle gaan lê.”

Ander keer was pá weer een voor: “Daar is ‘n interessante legende oor die naam van ons bekende Madagaskar-tarentaal. Hy word ook Numida meleagris genoem. Meleager was ‘n figuur in die Griekse mitologie en die seun van Odeus. Toe Meleager dood is, was sy suster so bedroef dat sy verander het in ‘n voël waarvan die vere met trane bedrup was. Hierdie voëls was die tarentaal.”

HOEPELROKKIES OP DIE WERF

Tussen die daaglikse tortelduifies, mossies en mak hoenders, was die tarentale met hul gespikkelde vere die aantreklikste en mees interessantste. Ek het begeer om die wit kolletjies te vryf of aan die gehelmde blou en rooi rubber te trek.

DIE VERE OM DIE LYF 'N TIPIESE HOEPELROK MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES
HOEPELROK-VERE MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES EN  HOëHAKSKOEN-POTE

.

Maar voor my grypende kinderhand het hulle wild gebly en nooit mak geword soos die hoenders nie. Hulle kon woester skrop, vinniger pik, ratser weghol en wild wegkoets agter bossies.

Dan sou die vlerke soos dames se rokke optrek sodat dit nie in die stof sleep nie. So sou hul hardloop met vlerke wat ‘n kenmerkende boog op die rug vorm.

Maar soms, wanneer hul voor my grypende handjie wegtol, sou daar tog iets agterbly:

Tarentaalveer swart-en-wit
Internet Flickr Foto

‘n Dwarrelende veer waarvan die spikkels aan my soveel kleiner vertoon het, want die stof van die aandwind sou alreeds die blink daarvan beroof het …

GESKAPE VIR NOSTALGIE
Maar natuurlik was die tarentaal geskape vir ‘n veel hoër doel. Ek onthou nog pa se woorde soos gister. Want saam het ons verknog geraak aan die grond en verlief op die gewemel en vrugbaarheid van die plaaswerf. Die gespikkelde fenomeen het ook húl kosbare vrug bygedra met gestreepte kuikens wat al pikkende en skroppende in ma se voetspore rondhop. Nooit wou hul maats maak met die mak hoenders nie, nog minder toelaat dat ek hul rondra of perfekte kolletjies afkrap.

Frustreerd en uitoorlê sou ek opruk en tranerig die huis instorm …

Nes pa gesê het is die tarentaal vry, en so sou hy bly, in ‘n klas van sy eie.

Tarentaal Slide 3(Fotos: Mafunyane 2013 – Blommie)

Wyshede

WELKOM BY WOORDE VAN WYSHEID

Hier onder is sommige van die foto’s op spokiesnyspoor.wordpress.com met wysheidspreuke

Die meeste gedagtes gaan oor ‘n NUWE BEGIN.  Want voor ons nie leer om te leef vanuit hart en siel, sal die lewe nooit sin maak nie

Indien ‘n spreuk jou hart tref, laat dit toe …  Plak dit op ‘n plekkie totdat die verborge wysheid daarin vervat, jou lewe vorm en lig laat voortspruit

(Fotos deur Blommie)

Blogwysh lovebirds 1

Blogwysh Voels los vlerkeBlogwysh Olifant kleintjie

Blogwysh Koedoe tree in geloof

Blogwysh Volstruis mik hoog

Blogwysh leeu sterkBlogwysh Zebra lat

Blogwysh Bobbejaan deurgedra

Blogwysh Luiperd 1

Blogwysh Voels eie vlerke

Blogwysh Olifante liefde

Blogwysh Jakkals lokval

Blogwysh Sonsopk vier einde

Word vervolg

Kyk gerus onder die hoofbladsy “WYSHEDE” vir nuwe toevoegings

Bontrugwewer

(Veldfeite)

Die Bontrugwewer (Ploceus cucullatus) kan maklik verwar word met die swartkeelgeelvink, maar verkies hierdie geveerde meer subtropiese gebiede.

Twee weke gelede het ons hierdie een opgemerk in die Polokwane Reservaat waar hy ernstig begin swoeg het aan ‘n nuwe nes. Om die twee anker takkies teenmekaar te kon weef, het voorwaar vernuf en stamina vereis.

Toe wys hy vir ons die ‘split’ en die ‘strek’ en die ‘rondomtaliedraai’, onbewus dat elke beweging op film vasgelê word.

Wewer Plk Gallery 2Soms het hy onderstebo gehang maar vlytig bly weef aan die nes-in-wording. Tussendeur word die vlerke pronkerig gewaai soos die hofmakery ook deel van die bouery uitmaak.

Hulle roep is ‘n lieflike, borrelende tjieee tjieee sjrrr, wat met ‘n ongewone hees klank onderbreek word.

BONTRUGWEWER in Polokwane Reservaat Nov 2014
BONTRUGWEWER in Polokwane Reservaat Nov 2014

Vullisverwyderaars van die natuur

Rondomtaliedraai se uitstappie oor die Aasvoëls by die slagpale het hierdie ondervinding in herinnering geroep:

“Hi, pssst! Het julle gehoor, die Mega-pride-wyfies het ‘n kameelperd platgetrek langs die Ntsemani loop… “

“Lets go..o..o!”  Ek voel hoe die warm bosveldwind ‘n paadjie deur my hare kloof terwyl opgewondenheid deur are bruis. Toe ons hulle wel vind, is daar ‘n senuagtigheid te speur tussen die trop, wat kort-kort sal opkyk terwyl hulle aan die karkas vreet.  Skielik vries die oerwoud – want van ver kan jy die gegrom hoor van ‘n ander wilde dier wat nader beweeg: Dis die maanhaarkonings van die oerwoud wat ook oppad is hierheen …

'VERSIGTIG JULLE - HIER KOM PA!"  Leeuwyfies met kroos eet aan 'n platgetrekte kameelperd. Leeumannetjies kan vangs afvat by die wyfies.
‘VERSIGTIG JULLE – HIER KOM PA!” Leeuwyfies met kroos vreet aan ‘n platgetrekte kameelperd. Leeumannetjies kan vangs afvat by die wyfies en kleintjies wat in die pad is dood byt.

Opgewondenheid pluk-pluk aan my hart terwyl die verkyker die toneel hier reg voor my stoep laat afspeel. Alhoewel die bedrywigheid redelik diep in die bos afspeel, bring die lens elke aksie nader.

Heelwat later, terwyl die witson weier om kop te gee, is daar ander bewuswordings in die geheimsinnige ruimte. Dis nie net die leeus wat hier koningkraai nie. Agter die bosse flits rooi strepe verby, soos 2 jakkalse koes-koes wag vir ‘n gaps-kans. Hulle het ook honger kleintjies by die huis.

Ek ruik die reuk van witmis en staar op na die grouwordende hemel. Dan trek ek asem in – ja sowaar – die vullisverwyderaars het gearriveer…

Geruisloos omsingel hul die plek. Swart stil beelde, gesprinkel in geraamte bome. Hulle moes op die warm lugstrome ingevlieg gekom het, agter die reuk van die dood aan.

Aasvoëls.

Vir nou miskien die toonbeeld van geduld, wetende dat hul beurt miskien nie vandag sal kom, of dalk more nie, maar daarna – gaan die vere verseker waai!

'KOM ONS DANK SOLANK VIR DIE KOS."  Die biddende figuur van 'n Satara witrugaasvoël langs die H7.
“ONS Sê SOLANK DANKIE VIR DIE KOS.”  Die geduldige biddende silhoeët van ‘n Satara witrugaasvoël langs die H7

OMTRENT AASVOëLS

Aasvoëls is die begrafnisondernemers van die veld. Wanneer ons sien hoe aasvoëls ‘n dooie karkas aan repe skeur noem ons hulle “vuil”, “sies” en “stink”.  Dis egter nie waar nie.

Navorsing toon dat aasvoëls lief is om te reis. Gemerkte voëls opgemerk in Kimberley kom vanaf die Krugerwildtuin.
Karongwe Private Game Reserve witrugaasvoêl naby Hoedspruit langs die R36

Min mense weet dat aasvoëls dikwels bad nadat hulle klaar gevreet het. In die proses soveel water drink dat hulle soms nie kan opvlieg nie. Selfs die kuikens word baie goed versorg en is hulle lief om in groepe saam te kuier.

Vroegoggend, wanneer die son die aarde begin warm bak, begin aasvoëls met behulp van lugstrome vlieg agter dooie reuke aan. Witrugaasvoëls se oë is besonders skerp en sak gewoonlik eerste toe, raap dan vinnig hulle deel op, voordat die ander groter swart-, krans- en Ruppell aasvoëls opdaag. 50 Witrugaasvoëls kan ‘n rooibokkarkas van 23 kg binne 10 min verskeur.

Die bewaring van aasvoëls het ‘n prioriteit in SA geword. Getalle neem gevaarlik af a.g.v. gifstowwe of kragdrade wat hulle doodskop of versuiping in plaasdamme.

Navorsing toon dat aasvoëls lief is om te reis. Gemerkte voëls opgemerk in die Kimberley omgewing kom van sover af as die Kruger Wildtuin.

STOKNESTE

Stokneste word op ontoeganklike plekke gebou. Bo-op takke van hemelhoë bome. Een wit eier van omtret 215g word uitgebroei.
Stokneste word op ontoeganklike plekke gebou. Bo-op die takke van hemelhoë bome. Een wit eier van omtret 215g word  dan uitgebroei

Terug na ons storie:   Daardie week het die leeus amper drie dae om die beurt aan die kameelperd ge-vreet, voordat hul die karkas wat begin ruik het, halfhartig afgestaan het.

Dit was tyd vir begrafnisopruiming.

Witrugaasvoëls is waarskynlik ons volopste soort,  maar word deur talle bedreigings in die gesig gestaar.
“TYD VIR DUIK!”  Wanneer aasvoëls in vlug na benede val kan hul teen 100kpu afduik

Gewoonlik is ‘n mens se aandag so gevange op die roofdiere, terwyl rondom en bo jou vele interessante stories afspeel.

"SO KAMEELPERDBOUD SMAAK DARM VORENTOE! "  'n Trommeldik Satara leeuin lek haarself skoon op die H7.
“SO KAMEELPERDBOUD SMAAK DARM VORENTOE! “ ‘n Trommeldik Satara leeuin lek haarself skoon op die H7.

Later fotos van die trotse twee spogmannetjies wat met ‘n rits karre agteraan direk op ons afgestap gekom het.

(Fotos geneem deur DMD215 – Blommie)