Haar flanke tril bewend. Daar hang bloedreuk, sweet en rooistof in die bosveld ruimte. Die skok: die warm druppels op haar nek, dis haar eie! Hartseer snork sy oor die vrug wat nog in haar skoot woel, dit wat haar maagdelikheid ontneem het, nog voor sy dit aan die savanna kon offer.

So begin die verhaal van ‘n gestreepte skoonheid wat se vel meedoënloos afgeslag is, sodat die mens in onnodige weelde kan leef.
DIE UITDAGING
Scrapydo daag ons uit om oor klere of modes te skryf. Egte leer- en velprodukte kom net dié toe met ekstra pond in die sak. Sebravel is gewild omrede van hul aantreklike en uitsonderlike streep-patrone en sterk blink haredos.
My eie pa het trots op die plaas rondgeloop met ‘n cowboy-hoed waarom ‘n breë sebrabelt vasgemaak was. Vandag is my broers grootwildjagters, terwyl ek meer veg vir die ‘bewaring’ van hierdie prag diere.
STREPE IN DIE BOS
Elke keer wanneer ons sebras kiek, is daar iemand wat opgewonde fluister: “Wow – kyk net hiérdie een se strepe!” Nie een sebra se lyne is dieselfde nie. Soos die mens se vingerafdruk, is hul almal uniek en verskillend.

.
Maar waarom is die sebra (Hippotigris sebra) se vel wit-en-swart gestreep?

Daar is verskeie hipoteses. Sieninge soos:
1. Kamoeflering mag die hoofoorsaak wees. Tussen donker takke en ligte sandkolle mag die leeu nie die sebra se kleure gou raaksien nie.
2. Ander wetenskaplikes meen dit het te doen met die paringsritueel tussen die hings en merrie.
3. ‘n Paar jaar gelede het navorsers met ‘n teorie vorendag gekom dat die strepe steekvlieë weghou.
4. Dr Brenda Larison van die Universiteit van Kalafornië in Los Angeles het 16 plekke in Afrika besoek waar sebras voorkom. Navorsing toon hoe warmer die gebied hoe meer strepe het die sebra.
STREEP DIE SEBRA HOMSELF KOELER?

Haar teorie is dat die lug vinniger beweeg oor die son-absorberende swart strepe en stadiger oor die wit strepe en sodoende ’n verkoelende lugstroom veroorsaak. Voorwaar ‘n selfingeboude lugverkoeler vir die sebra.

JONGELING DRA GOUD IN DIE MORESTOND
Vir my is daar geen pragtiger kleintjie dan ‘n sebra-perdjie nie. Hulle sagte boudkroesies en welige maanhare streel en bekoor my oë elke keer.

KOERANTBERIG:
Klere-verwar-diere-in-britse-dieretuin
‘n Britse dieretuin het gister aangekondig dat ‘n verbod geplaas word op die dra van klere waarop luiperd- of sebra-motiewe gedruk is, aangesien dit die diere verwar. Volgens die dieretuin was die diere oorvriendelik met mense wat dierhuid motief klere dra.
Die diere het ook weggehardloop vir mense wat klere aan het wat soos roofdiere se vel lyk. Die dieretuin het klere beskikbaar gestel wat meer gepas is. (Internet)

Het jy enige dierevelklere in jou huis? Vertel gerus meer.
Lees ook die uitdaging oor klere/modes hier: https://scrapydo2.wordpress.com/2015/02/05/toeka-tokel-7-kleremode/