Tag Archives: bergpieke

Piesangs aan Pote

Toe die skoot klap, laat los die aapskind. Skreeuend gryp haar ma haar aan die hare en sleep haar die bos in. Daarna het ek nie weer die hartsgesiggies gesien nie. Dis asof die tarzantoue en kranse hulle ingesluk het.

Onder my skaats en brul die 4×4.  Magoebaskloof is mistig, die rooipad seepglad en die koue geweerloop wat ek tussen my bene vasknyp stuur rillings my ruggraat op. Die wapen is net ‘n afskrikmiddel, maar bly gevaarlik. Hier is ‘n oorlog aan die gang, tussen mens en dier, om eerste die nektar van die langwerpige groen gebuigde vingers te mag oes.  piesangs-aan-pote-2

By die stoor word die trosse  gedoop in ‘n diep enamelbad – dit verhaas die rypmaakproses – en dan aan hulle pote opgehang.  Die sagtevrug (genus musa) is baie gewild in Suid Afrika en ‘n genotvolle genieting.

Iets wink na my. Dit kom vanuit die eensame piesanghoek waar die oorryp uitskot weggegooi word. Ek skil die geelgoud los van die vrugvlees. Dit proe glad en verrassend soet! ‘n Ryp-gladde-smaak wat net aan dié behoort wat dit sal waag om die swart gedeeltes uit te spoeg.

piesangs-oes-2

Ek voel jammer vir die werkers. Die tropiese hitte suig taai aan jou  lyf en is die deurhandvatsel waaraan ek klou nat gesweet. Daar is geen genade terwyl ou swaer die wit esel in die piesangland inwurm om die trosse in te samel.

Die piesangplant is nie werklik ‘n boom nie, maar lyk soos ‘n klomp toegevoude blare en kan selfs tot 10m hoog groei. Nadat die tros gepluk is word die hele tak afgekap om plek te maak vir ‘n nuwe suier vanuit die wortelstok.

Ek hou asem in terwyl die oorlaaide 4×4  sy kosbare vrag stoor toe stoei. Langs my voel dit of die afgrond ons insluk en die bakkie se snoet bly neuk verkeerde kant toe.

piesang-2

Hier groei die piesangs goud en gesond en proe soos hemelsgoed. Bo my kop in die palmboom koer twee duifies: “kom tot rus, kom tot rus” en voer hul liefdes-ritueel uit.

Later die dag is ek veilig terug by my houthuis-nessie wat in die skoot van Magoebaskloof koester. Ek sug en adem die bekoring van die reënwoud in, ruik die reuk van lietjieblom en proe al die vlees van avokado’s.

magoeba-sonhoekie

Soos ou swaer, het ek nie groenvingers nie,  maar is die watervalletjies my genadig en skep self natuurlike inheemse tuintjies rondom my uilhoekie. ‘n Plekkie om die soet vrugte-oes van die liefde te vier.

Advertisements

Paaie, ‘n gety van genesing

( I Scrap 2  se uitdaging oor PAAIE )

Iewers anderkant die Strydomtonnels stop ek en die boskinders by ‘n manekis-stalletjie met die gebruiklike riet-afdak en rotsbankies om pôpôs te koop.

Manekis rots

Die versameling Afrikakuns in die Toyota se agterbak groei mooi aan:  Made in Africa. Sandstone. Ndebele Art. Game skins. African artifacts.

AFrika kuns

Hier in die bergpaaie is ‘n vredigheid. Ek wil langbeen oor die rots se mos sit en wag totdat die yskasklip deur my wese syfer en ek een word met bergvygies en wildevywortels wat teen die skurwe krans opgroei, om so asem na bowe te skep.

Graskop wortelboom

Maar die paaie om te kom, is nog baie. Berlynwatervalle, Gods window, pannekoek op Graskop en tronkfotos op Pelgrimsrus … al die lekkerte waarvoor ‘n bleekvel stadsjapie hom waarskynlik sal skaam.

Graskop Tronkfoto

Vir ons wat uit die era van woonwavakansies met Rondalia-plakkers en karton-laerskooltasse vol coke-plakkers kom, is dit ‘n kosbare terugstap op vergange dae se nostalgiese paaie.

In die mis vat die boskind die grondpad na die watervalle. Daar kom vra ‘n swerm versamelvoëls om ons voete vir broodkrummels en steur hul nie aan blinkdruppels wat met geweld klou aan Aalwynblare en Varkoorkelke nie.

Druppels op alwyn

By Gods window se uitkykpunt rol ek die koffiekatoetertjie uit sy vadoekjasie en deel blikbekers uit. Die boskinders breek droëwors strepe af en maak kougomstukke daarvan.

Nou kronkel die afdraaipaaie  gevoelloos deur verweerde krans en kloof. My oë tuur oor die berg se rondings om sin agter wegkruipertjie misslierte te probeer maak.

Misslierte oor berg

Die enkele rooiblom wat ons deur die doringdraad duskant bobbejaanskrans teëgekom het, is nog vars in my geheue. Dit was asof nie een van ons vier die werklikheid van hierdie rooivlam wonderwerkie kon registreer nie.

Toe ek ‘n paar honderd meter later huiwerig vra: “het ek nou net ‘n rooiblom gesien?”, besef ek dat ons almal eers my woorde nodig gehad het om die fyne dingetjie in ons binneste te kon staanmaak.

Die boskind het brieke aangeslaan en soek-soek op ons spoor teruggery. En sowaar! Dapper in die vetgesuipe swartgrond van die Oos Transvaalse platorand, troon hy stewig geanker. Sy enigste geselskap die geel blommetjies van ‘n drietoonduwweltjie en swartgebrande stronke om hom gestrooi, as teken van ‘n onlangse veldbrand.

Rooiblom

“Dis ‘n ope brief vanaf die Heelal se Skepper,” glimlag ek en hurk plat in die modderveld om foto’s te neem. “Genadegewer,” pleit ek, “mag ons altyd stadig genoeg reis op asemrowende paaie waar ‘n enkele rooiblom nog ongeskonde tussen ‘n gebrande veld oorleef staan, om so alles om hom in ‘n reënboog te tower.”

Ek adem beesmis en kamferplantreuk in.

Tussen rotskeur en skurweklip luister ‘n reptiel nuuskierig na die bergkinders se geknars bokant hom.

Akkedis

Ons is heeltyd bewus van ‘n gerammel in die oneindigheid soos donderwolke roei en stoei vir ‘n oombliksplekkie. Hier kom piets-reën! Die mens kan enigiets verwag op sy reispaaie.

Wolkekraber

By Pelgrimsrus drink die boskinders skuim-milo en trek streeppajamas aan om 1933 tronkfotos te neem.

Op die voorstoep van Mrs Mac’s General Dealer koop jy Ndebele beadedwerk en aardsjewelry teen 20% afslag.

NDEBELE KUNS OP DIE STOEP VAN .... BY PELGRIMSRUS

Vir ‘n oomblik skommel ons gedagte-paaie terug na vergange dae se goudmynvelde, ossewa houtwiele en koekepan tjoek-tjoeks. By die vergeelde swart-en-wit fotos raak die atmosfeer ongelooflik stil … om te dink She haElohim het met sy lewe betaal.

Pelgrimsrus

Dis toe dat die tyd sy misvlerke toevou en soos ‘n groot witgans vir altyd anderkant hierdie wegbreekpaaie begin kopwegsteek.

Om op sulke paaie se vlerke te reis word dan ‘n gety van genesing vir die spirituele binnemens.

Teerpad in die mis

Mag jou paaie altyd soet wees.

Spokie

Toon my jou Hart

Ons naweek-wegbreekplekkie in Magoebaskloof is ‘n reënwoud van misslierte, bergpieke en welige plantegroei. Elke blom daar dra ‘n hart en as jy fluisterluister sal jy dit sien klop en bloei. Net soos die mens, is sommige se kwesbare blomblare gevreet en sou deur die ervare fotograaf of wêreld verwerp word.

(Hiermee vra ek my blogvriende om my vir die volgende 2 maande te verskoon. Ek is volgeboek met kampe en konferensies en om as spreker oor naweke uit te reik en nog voltyds te werk, is baie harde werk. Maar onthou – ek gaan na die stukkende vroukies/blare toe. Dis waar ek moet wees.)

Dit is snaaks dat wanneer iemand stukkend is, sy hart juis duideliker na vore tree …

Hierdie blomme is oor Paastyd afgeneem, nadat ek moeg geklouter was in die kloof agter skoenlappers aan wat my flapperend bly ontwyk. (Toemaar, ek sal hulle nog kiek!)

Geniet dit, terwyl jy die merke van die lewe aanskou.

Magoeba Blom 1

Magoeba Blom 2

Magoeba Blom 3

Magoeba Blom 4

Magoeba Blom 5

Magoeba Blom 6

Magoeba Blom 7

Magoeba Blom 8

Magoeba Blom 9

Magoeba Blom 10

Magoeba Blom 11

Magoeba Blom 12

Liefde in jou hart moet opreg wees
Verafsku wat sleg is en hou vas aan die goeie

Tot ons weer sien
Liefdetjies
Spokie

Rooibok koors

Deur die lens hou ek asem in en sien hoe die rooibokram ritmies en vreedsaam met sy nat snoet in die sappige gras woel. Onbewus van die Luiperd wat hoog vanaf die rotskoppie alles dophou.

Ek begin die swart kolletjies tel wat onder die rooibok se wit lieste vasklem. Bloedsuiers. Shame – wat ‘n irritasie.

ROOIBOKKE WORD DIE MacDonalds GENOEM WEENS DIE SWART 'M' OP HUL AGTERLYWE. DIE STREPE BEHEER BOSLUISE.
ROOIBOKKE WORD DIE MacDonalds GENOEM WEENS DIE SWART ‘M’ OP HUL AGTERLYWE. DIE STREPE IS BELANGRIK WANNEER HUL MEKAAR VERSORG EN OM BOSLUISE TE BEHEER.

 

‘n Slapmotor wieg langs ons in. Onwillig laat sak ek die kamera. Dis ‘n man met ‘n netjiese wit hemp en ‘n kanon van ‘n verkyker. Nuuskierig loer hy binne in ons voertuig in: “Wat sien julle?”

“Rooibokke.” Koor ons.

Verontwaardig kreukel sy neus terwyl sy voertuig weer spoed vang. Die rooibok spat weg en ek lees die man se gedagtes: “Wie stop nou vir rooibokke in die bosveld – die goed is dan vervuil … ”

Rooibokkies Jong in pad
JONGELINGE TRIPPEL ONSEKER OOR DIE PAD TERWYL HUL OP MEKAAR WAG.

Maar dit wat die rooibok aan die natuur en omgewing bied, is uniek. Hulle is groeplewend en vorm dikwels troppe van etlike honderde en word as die hoofprooi van groot roofdiere gesien.

ROOIBOKKE IS GROEPLEWENS. HIERDIE TROP SOEK SKUILING IN DIE HITTE VAN DIE DAG.
BEDAGS SKUIL DIE ROOIBOK HOOFSAAKLIK ONDER KOELTEBOME TEEN DIE HITTE.

 

‘N BOK VAN EERSTES

LIERVORMIGE HORINGS
DIE LIER-VORMIGE HORINGS VAN DIE RAM MET ‘N BLINK ROOIBRUIN HAARKLEED EN WIT KOL OP DIE KEEL.

Die Rooibok is in vele opsigte ‘n bok van eerstes.

Beweeg die wildkyker ‘n reservaat binne, is sy kanse goed om eerste ‘n rooibok te sien. Beweeg die kamper vanuit Die Kruger huistoe, mag dit die laaste dier wees wat hom by die uitgangshek groet.

My broers, almal grootwildjagters, se eerste bok wat platgetrek is was ‘n rooibok. Wanneer hul aanlê en die broek begin bewe  – omrede van die swart tuurende oog in die visier- noem pa dit rooibok-koors. Skiet hulle mis, lag pa net geduldig en maak dit weer af as bok-koors.

TROTSE RAM MET
TROTSE SATARA ROOIBOKRAM MET KENMERKENDE EFFENSE KROM RUG EN DIE STERT WAT STYF TEEN DIE LYF VASGEDRUK WORD.

 

GROOTWILD JAGTERY
Daarom is die eerste bok wat die grootwordende jagter beplan om te skiet, ‘n rooibok. Eers daarna is hy vaardig genoeg om groter en gevaarliker diere te begin jag.

JW OEFEN
JW, (BROERSKIND VAN BLOMMIE ONS FOTOGRAAF) OEFEN VIR SY EERSTE ROOIBOK.

 

5 FEITE OMTRENT DIE ROOIBOK (Aepyceros melampus)

DIE AGTJARIGE JW, TREK SY EERSTE ROOIBOK PLAT
DIE AGTJARIGE JW TREK SY EERSTE ROOIBOK PLAT MET ‘N .243 GEWEER

1. Die ram kan tot 90cm hoog staan.

2. Die rooibok verkies yl boom- of bosveld wêreld naby water.

3. Hulle kan met ‘n enkel elegante sprong tot 3m hoog en 12m ver spring.

4. Alhoewel die rooibok ‘n sagmoedige geaardheid besit, is hy baie wakker – tog ontwykend.

5. ‘n Vinnige hoë snorkgeluid spreek van gevaar en sal die rooibok met ongelooflike spoed en spronge wegspring oor lang grasse, bosse en kleiner bome.

.

JW MET SY TWEEDE ROOIBOK ONDER TOESIG VAN OUPA
JW SKIET SY TWEEDE GROTER ROOIBOKRAM MET ‘N .308 ONDER TOESIG VAN OUPA.

Nadat die kolf JW op die wang geslaat het, was hy maar te bly die jagseisoen is verby. Of spreek dit van bok-koors ?

Spokie en Blommie staan egter aan die bewaringskant. Ons hou daarvan om die mooi van dier en natuur in hul kosbare aard vas te vang op film. Diereliefhebbers eer nie net die  Groot Vyf nie, maar eer ook die Rooibok.

GEVAARLIKE
GEVAARLIKE WEDYWERING TUSSEN RAMME, TYDENS PAARSEISOEN, GAAN MET HARDE SNORKGELUIDE GEPAARD. HORINGGEVEGTE KAN DIKWELS NOODLOTTIG WEES.

 

Die grootwildjagter vergeet nooit sy eerste Rooibok.
Die fotograaf ken die Rooibok se potensiaal.
Die bewaarder meet aan die vettigheid van die Rooibok sy veld.
Die jagluiperd leer by die lam om ‘n ram plat te trek.
Die leeu trek agter die rooibok aan.
Die bronstige bobbejaan skeur en vreet die binnegoed van ‘n rooibok om sy krag aan die trop te vertoon.

Rooibok Slide Soen 2En vir Spokie sny Spoor?
Spreek die Rooibok van:
LIEFDE, FAMILIEBANDE en ONMEETBARE VREDE

Pa en die gespikkelde fenomeen

Die eerste poelpetater het laag oor die heining aangevlieg gekom. Op die plaaswerf het ek en pa in verwondering bly staan. Die voël was vreemd en het senuagtig en wankelrig ingesweef soos ‘n Boeing met wiele vorentoe geskop wat na vlerkbalans soek.

“Pa!” kraai ek opgewonde, “kyk die voël se blou rubber om sy nek.”

Pa het saggies gelag en sy wysvinger op my lippe gehou. “Sjuut – dis ‘n bosveldhoender.”

En so het ek kennis gemaak met die pers-grys pêrel-tarentaal. Pa het daagliks van die hoenders se gebreekte mielies vir die tarentale op die grondpad gestrooi. Terwyl hul pik, sou die wit-spikkels-op-swart my fassinerend betower. Ek het gebrand om die kolletjies van naby te sien of aan te vat, maar pa sou net ingedagte opmerk:

“Hulle wil vry wees …”

TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2012)
TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2013)

Die res van die tarentaal-familie het vermeerder. Tydens mielietyd tel pa my tot bo-op die 200Lt dieseldrom en leer my só omtrent geveerdes. Geduldig wag hy dan tot my 4-jarige lippe die woord duidelik vorm voor hy nuwes gee.

Vandag nog, kan ek die koue harde sade en pitte tussen my woelende vingers voel, diep in die kos-emmertjie. En alhoewel my strooi-armpie te kort was, het pa my gelos. Lang-lip sou ek toekyk hoe pa die gebreekte sade soos reënboogstrepe oor die dor aarde saai. Tot dáár waar die gesnawelde hongeriges trippelend rondspring.

Tarentaal Kop en nek 1‘n Paar jaar later, begin ék egter pa inlig omtrent hierdie gespikkelde fenomeen: “Het pa geweet: hulle is baie lief vir insekte, en bosluise is poeding. As ons Boela luisvry wil hou, moet ons sorg dat hy rustig naby hulle gaan lê.”

Ander keer was pá weer een voor: “Daar is ‘n interessante legende oor die naam van ons bekende Madagaskar-tarentaal. Hy word ook Numida meleagris genoem. Meleager was ‘n figuur in die Griekse mitologie en die seun van Odeus. Toe Meleager dood is, was sy suster so bedroef dat sy verander het in ‘n voël waarvan die vere met trane bedrup was. Hierdie voëls was die tarentaal.”

HOEPELROKKIES OP DIE WERF

Tussen die daaglikse tortelduifies, mossies en mak hoenders, was die tarentale met hul gespikkelde vere die aantreklikste en mees interessantste. Ek het begeer om die wit kolletjies te vryf of aan die gehelmde blou en rooi rubber te trek.

DIE VERE OM DIE LYF 'N TIPIESE HOEPELROK MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES
HOEPELROK-VERE MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES EN  HOëHAKSKOEN-POTE

.

Maar voor my grypende kinderhand het hulle wild gebly en nooit mak geword soos die hoenders nie. Hulle kon woester skrop, vinniger pik, ratser weghol en wild wegkoets agter bossies.

Dan sou die vlerke soos dames se rokke optrek sodat dit nie in die stof sleep nie. So sou hul hardloop met vlerke wat ‘n kenmerkende boog op die rug vorm.

Maar soms, wanneer hul voor my grypende handjie wegtol, sou daar tog iets agterbly:

Tarentaalveer swart-en-wit
Internet Flickr Foto

‘n Dwarrelende veer waarvan die spikkels aan my soveel kleiner vertoon het, want die stof van die aandwind sou alreeds die blink daarvan beroof het …

GESKAPE VIR NOSTALGIE
Maar natuurlik was die tarentaal geskape vir ‘n veel hoër doel. Ek onthou nog pa se woorde soos gister. Want saam het ons verknog geraak aan die grond en verlief op die gewemel en vrugbaarheid van die plaaswerf. Die gespikkelde fenomeen het ook húl kosbare vrug bygedra met gestreepte kuikens wat al pikkende en skroppende in ma se voetspore rondhop. Nooit wou hul maats maak met die mak hoenders nie, nog minder toelaat dat ek hul rondra of perfekte kolletjies afkrap.

Frustreerd en uitoorlê sou ek opruk en tranerig die huis instorm …

Nes pa gesê het is die tarentaal vry, en so sou hy bly, in ‘n klas van sy eie.

Tarentaal Slide 3(Fotos: Mafunyane 2013 – Blommie)

Poort na ‘n paradys

Die rooi grondpad hierbo met die welige boog-van-groen is die laaste een waaronder jy deursweef voordat jy ons koester
houthuisie tussen bergpieke en miswolke
vind

Langs jou en rondom jou kabbel vrolike stroompies,
soos die aardkors vanuit haar oorvol pens
water spoeg

Druk jou oor teen die grond, en jy hoor die grasse en
plante kreungroei soos hulle wortels in diep
vrugbare grond inploeg

Magoeba waterval glad e natGLAD EN NAT

Wil jy ‘n entjie gaan stap in hierdie misterieuse reënwoud?
Moet dan nie vergeet om jou vastrap-tekkies en
stapstok in die hand goed vas te klem nie

Soms voel dit of jy fluister-in-‘n-paradys, want niks mag die katedraal stilte se gewyde atmosfeer steur nie

PIEPKLEIN ORGIDEE wat groei in 'n boomstam
PIEPKLEIN ORGIDEE wat groei in boomstam 2014

WARM VLAMME IN GEEL SONSKYN

Hier gesels die natuur in reënboogkleure
Waar orgideë se orange-vlamme warmer skyn
Terwyl jou voete in ‘n spons-en-blarekombers wegsak

En skoenlappers vrolik fladder buite jou gryp
in die warm stroom bokant die kloof

Magoebaskloof 2013
Magoebaskloof 2014

 SNEEU VIR ‘N BRUID

In Magoebaskloof onder die misreën is die bloeisels
bedruip met liefdes-trane

Dan is ek soos ‘n nimf in ‘n bos, dankbaar om ‘n stukkie paradys
in ons hartland se kloofwêreld te geniet

Geniet jou Kerstyd

Spokie