Tag Archives: Bosstories

Skillie Skop Stof

Die Kruger Wildtuin is groen. Tangle-groen.

Satara Maart 2017

Selfs die langbeen-diere sukkel om kop bo gras te hou. Ek sug – die kans vir kolle in die sand of agter welige blare, is skraal. Die bosveld ruik egter vol avontuur.

My oë brand van al die stipkyk, soveel so dat die stoomende stofkol wat in die grondpad na ons aangerol kom spookerig voorkom.

Dis Skillie. En op ‘n mission! Hy marsjeer reguit op my af.

Die kar briek. Skillie bars in my lens in. Donker priemende kraalogies tuur tot diep binne in my siel.

“Waar is die marshmallows?”

“Wat?” skrik ek en tuur terug. Het die kruger-diere hul respek vir mense verloor?

Tandloos en papbek hap hy na my – en wag – en hap weer.

Ek vererg my vir die arrogansie. Ek meen – soek hy dalk ‘n pienke of ‘n witte? Realiteit skop egter in en ek antwoord beslis: “Jammer, ons is gehoorsame burgers, ons voer nie.”

Ons oë gom. Hy wag beslis, ek kliek gewis.

“Is jy verwant aan ‘n denosourus?” vra ek en verkyk my aan sy growwe skilferdobvel.

“Wel … ” skommel hy en lig sy skub-bedekte voorklou, “eet ‘n denosourus marshmallows?”

“Sorry, geen marshmallows,” snork ek en zip die kosmandjie toe.

“Sorry, geen fotos, ” wip hy en zip weg onder sappige groen gras.

Die Kruger is nat en die damme vol.  By die volgende laagwaterbrug woon ‘n mega-skilpadfamilie saam hul aangenome krok-ma.

Ons stop en begin kliek. My lens sien tot binne in die hart van ogies.

“Waars die marshmallows?” koor dit.

“Wat!?” blaas ek verontwaardig. Wat gaan aan met die Kruger diere. Nes die politiek ruk dinge handuit.

Dit voel of 20 paar oë my deurboor. Naby my, heelvoor troon die patriarg.

Hy is aantreklik en glibberig. Spog met 2 geel pêrels op sy onderlip. Deur die lens sien ek hoe die borrels uit sy ronde snoetgate stoot:

“Kom ek vertel jou die geheim …” brom hy onskuldig en swaai sy  volle lyf na my. Ek aanskou dit ondersoekend en skrik vir die vetterige rou wond deur sy dop wat na my gaap. Ek sluk.

“Die geheim is,” kom dit manipulerend, “as die marshmallows volop val, byt die krokodil nie na doppe nie.”

Ek hyg! Rondom raak die veld stil. Die krokodil knipoog na my. Op haar rug gewaar ek ‘n blinkding wat skree: “Help, help!”

Is dit wat mens ‘n Kruger-“bribe” noem? Ek smyt die kamera neer.

En voel  hoe my vingers diep in die sagte marshmallows woel.  Skielik hunker ek na die pienksoet daarvan op my bitter tong …

Danie kuier by Mafunyane

“Tannie, ek wil graag eendag ‘n Finansiële Bestuurder word.”

Ek glimlag, dog knip geen oog.  Die jongeheer met die blonde kuif wat voor my sit se oë is ernstig, dog beslis.  Ek ken ietsie van sy swaarkry. Hoe hy as kind in ‘n enkelouer huis dalk nie elke dag botter op die tafel gehad het nie.

Sy drome is veel groter dan botter.  Hy weet waarheen hy oppad is.  Eendag is eendag, dan hoef sy ma nie meer stilweg trane weg te pik of haar te kommer oor hom en sy sussie nie …

Buite het Blommie alreeds die wildsbesigtigingsvoertuig gepak met ys, chips en koeldrank. Dis tyd om spoor te sny agter die Groot 5 aan.  Ekself bly by manlief, na sy ongeluk is hy nog nie mobile genoeg vir ‘n woeste rit deur die bos nie.

Danie se lang vingers krul versigtig om my kamera.  Die  lens rus perfek in sy palm. “Wow Tannie – mag ek maar fotos neem?  Eendag koop ek vir my ook so een.” Ek knik. Ek weet die jongeheer sal dit mooi oppas …

Hier is van Danie se fotos.  Die spreuke is vir sy mannemoed:

Danie Sebra Drome

 

Danie Onbekende pad

 

Danie Nyala takke

 

Danie seekoei streling

 

Danie Neeushoring

 

Danie Vrede

 

Danie Waterbok vriende

 

Danie Voel

 

Danie sebra Kennis

 

Danie seekoei rus

 

Danie waterskilpad

 

Danie Waterbokke oor self

 

Danie seekoei jonkheid

Danie het voorwaar ‘n oog vir ‘n kamera en ‘n drif vir sy toekoms. Ek glo as hy wyse besluite maak, sal sy drome bewaarheid word.

Sterkte.

Dierewyshede wat ons bemoedig

My vriendin Blommie, het nou haar eie blog. Hier is haar link: https://bosveldnimf.wordpress.com/

Haar fotos oor wildediere is vars en nuut en behoort jy dit baie te geniet. Dankie jou ondersteuning. 

Die fotos hier onder bevat ‘n spreuk wat ek spesiaal aan jou gegriffel het. Mag dit vandag iets vir jou beteken.

Seekoei spreuk Geregtigheid

Koedoes spreuk stap jou

Voeltjie spreuk Wind mag

Seekoei spreuk Dit behaag die

Vark spreuk wysheid word

Kameelperd spreuk Vrede

Sebra spreuk strepe bou

Koedoe spreuk Herkou die

Seekoei spreuk Proe dat

Sebra spreuk 'n Gebrek

Koedoe spreuk Die verlede

Natuur spreuk Rus

Mag jou dag vol liefdetjies en seën wees

Spokie

Rooibok koors

Deur die lens hou ek asem in en sien hoe die rooibokram ritmies en vreedsaam met sy nat snoet in die sappige gras woel. Onbewus van die Luiperd wat hoog vanaf die rotskoppie alles dophou.

Ek begin die swart kolletjies tel wat onder die rooibok se wit lieste vasklem. Bloedsuiers. Shame – wat ‘n irritasie.

ROOIBOKKE WORD DIE MacDonalds GENOEM WEENS DIE SWART 'M' OP HUL AGTERLYWE. DIE STREPE BEHEER BOSLUISE.
ROOIBOKKE WORD DIE MacDonalds GENOEM WEENS DIE SWART ‘M’ OP HUL AGTERLYWE. DIE STREPE IS BELANGRIK WANNEER HUL MEKAAR VERSORG EN OM BOSLUISE TE BEHEER.

 

‘n Slapmotor wieg langs ons in. Onwillig laat sak ek die kamera. Dis ‘n man met ‘n netjiese wit hemp en ‘n kanon van ‘n verkyker. Nuuskierig loer hy binne in ons voertuig in: “Wat sien julle?”

“Rooibokke.” Koor ons.

Verontwaardig kreukel sy neus terwyl sy voertuig weer spoed vang. Die rooibok spat weg en ek lees die man se gedagtes: “Wie stop nou vir rooibokke in die bosveld – die goed is dan vervuil … ”

Rooibokkies Jong in pad
JONGELINGE TRIPPEL ONSEKER OOR DIE PAD TERWYL HUL OP MEKAAR WAG.

Maar dit wat die rooibok aan die natuur en omgewing bied, is uniek. Hulle is groeplewend en vorm dikwels troppe van etlike honderde en word as die hoofprooi van groot roofdiere gesien.

ROOIBOKKE IS GROEPLEWENS. HIERDIE TROP SOEK SKUILING IN DIE HITTE VAN DIE DAG.
BEDAGS SKUIL DIE ROOIBOK HOOFSAAKLIK ONDER KOELTEBOME TEEN DIE HITTE.

 

‘N BOK VAN EERSTES

LIERVORMIGE HORINGS
DIE LIER-VORMIGE HORINGS VAN DIE RAM MET ‘N BLINK ROOIBRUIN HAARKLEED EN WIT KOL OP DIE KEEL.

Die Rooibok is in vele opsigte ‘n bok van eerstes.

Beweeg die wildkyker ‘n reservaat binne, is sy kanse goed om eerste ‘n rooibok te sien. Beweeg die kamper vanuit Die Kruger huistoe, mag dit die laaste dier wees wat hom by die uitgangshek groet.

My broers, almal grootwildjagters, se eerste bok wat platgetrek is was ‘n rooibok. Wanneer hul aanlê en die broek begin bewe  – omrede van die swart tuurende oog in die visier- noem pa dit rooibok-koors. Skiet hulle mis, lag pa net geduldig en maak dit weer af as bok-koors.

TROTSE RAM MET
TROTSE SATARA ROOIBOKRAM MET KENMERKENDE EFFENSE KROM RUG EN DIE STERT WAT STYF TEEN DIE LYF VASGEDRUK WORD.

 

GROOTWILD JAGTERY
Daarom is die eerste bok wat die grootwordende jagter beplan om te skiet, ‘n rooibok. Eers daarna is hy vaardig genoeg om groter en gevaarliker diere te begin jag.

JW OEFEN
JW, (BROERSKIND VAN BLOMMIE ONS FOTOGRAAF) OEFEN VIR SY EERSTE ROOIBOK.

 

5 FEITE OMTRENT DIE ROOIBOK (Aepyceros melampus)

DIE AGTJARIGE JW, TREK SY EERSTE ROOIBOK PLAT
DIE AGTJARIGE JW TREK SY EERSTE ROOIBOK PLAT MET ‘N .243 GEWEER

1. Die ram kan tot 90cm hoog staan.

2. Die rooibok verkies yl boom- of bosveld wêreld naby water.

3. Hulle kan met ‘n enkel elegante sprong tot 3m hoog en 12m ver spring.

4. Alhoewel die rooibok ‘n sagmoedige geaardheid besit, is hy baie wakker – tog ontwykend.

5. ‘n Vinnige hoë snorkgeluid spreek van gevaar en sal die rooibok met ongelooflike spoed en spronge wegspring oor lang grasse, bosse en kleiner bome.

.

JW MET SY TWEEDE ROOIBOK ONDER TOESIG VAN OUPA
JW SKIET SY TWEEDE GROTER ROOIBOKRAM MET ‘N .308 ONDER TOESIG VAN OUPA.

Nadat die kolf JW op die wang geslaat het, was hy maar te bly die jagseisoen is verby. Of spreek dit van bok-koors ?

Spokie en Blommie staan egter aan die bewaringskant. Ons hou daarvan om die mooi van dier en natuur in hul kosbare aard vas te vang op film. Diereliefhebbers eer nie net die  Groot Vyf nie, maar eer ook die Rooibok.

GEVAARLIKE
GEVAARLIKE WEDYWERING TUSSEN RAMME, TYDENS PAARSEISOEN, GAAN MET HARDE SNORKGELUIDE GEPAARD. HORINGGEVEGTE KAN DIKWELS NOODLOTTIG WEES.

 

Die grootwildjagter vergeet nooit sy eerste Rooibok.
Die fotograaf ken die Rooibok se potensiaal.
Die bewaarder meet aan die vettigheid van die Rooibok sy veld.
Die jagluiperd leer by die lam om ‘n ram plat te trek.
Die leeu trek agter die rooibok aan.
Die bronstige bobbejaan skeur en vreet die binnegoed van ‘n rooibok om sy krag aan die trop te vertoon.

Rooibok Slide Soen 2En vir Spokie sny Spoor?
Spreek die Rooibok van:
LIEFDE, FAMILIEBANDE en ONMEETBARE VREDE

Bloedbad: Lem teen die nek

Haar flanke tril bewend. Daar hang bloedreuk, sweet en rooistof in die bosveld ruimte. Die skok: die warm druppels op haar nek, dis haar eie! Hartseer snork sy oor die vrug wat nog in haar skoot woel, dit wat haar maagdelikheid ontneem het, nog voor sy dit aan die savanna kon offer.

KARONGWE SEBRA SWAAR IN DRAG MET VOLMAAKTE STREPE
KARONGWE SEBRA SWAAR IN DRAG MET KENMERKENDE SWART-EN-WIT STREPE

So begin die verhaal van ‘n gestreepte skoonheid wat se vel meedoënloos afgeslag is, sodat die mens in onnodige weelde kan leef.

DIE UITDAGING
Scrapydo daag ons uit om oor klere of modes te skryf. Egte leer- en velprodukte kom net dié toe met ekstra pond in die sak. Sebravel is gewild omrede van hul aantreklike en uitsonderlike streep-patrone en sterk blink haredos.

My eie pa het trots op die plaas rondgeloop met ‘n cowboy-hoed waarom ‘n breë sebrabelt vasgemaak was. Vandag is my broers grootwildjagters, terwyl ek meer veg vir die ‘bewaring’ van hierdie prag diere.

Sebra klere storie

STREPE IN DIE BOS
Elke keer wanneer ons sebras kiek, is daar iemand wat opgewonde fluister: “Wow – kyk net hiérdie een se strepe!” Nie een sebra se lyne is dieselfde nie. Soos die mens se vingerafdruk, is hul almal uniek en verskillend.

VIR DIE NATUURLIEFHEBBER IS DIE BOS EN SEBRA EEN
VIR DIE NATUURLIEFHEBBER VORM DIE BOS EN SEBRA ‘N ONAFSKEIDBARE EENHEID

.

Maar waarom is die sebra (Hippotigris sebra) se vel wit-en-swart gestreep?

JONG MERRIE MET DIAMANTSTREPE OP VOORKOP
MAFUNYANE JONG MERRIE MET DIAMANTSTREPE OP VOORKOP

Daar is verskeie hipoteses. Sieninge soos:

1.  Kamoeflering mag die hoofoorsaak wees. Tussen donker takke en ligte sandkolle mag die leeu nie die sebra se kleure gou raaksien nie.

2.  Ander wetenskaplikes meen dit het te doen met die paringsritueel tussen die hings en merrie.

3.  ‘n Paar jaar gelede het navorsers met ‘n teorie vorendag gekom dat die strepe steekvlieë weghou.

4.  Dr Brenda Larison van die Universiteit van Kalafornië in Los Angeles het 16 plekke in Afrika besoek waar sebras voorkom. Navorsing toon hoe warmer die gebied hoe meer strepe het die sebra.

STREEP DIE SEBRA HOMSELF KOELER?

AFGEWASTE STREPE WAT UITSONDERLIKE PATROON VORM
AFGEWASTE STREPE MET ‘N UITSONDERLIKE KLAD-PATROON  (Foto: Blommie KNP 2013)

Haar teorie is dat die lug vinniger beweeg oor die son-absorberende swart strepe en stadiger oor die wit strepe en sodoende ’n verkoelende lugstroom veroorsaak. Voorwaar ‘n selfingeboude lugverkoeler vir die sebra.

Sebra kleintjie 2
LIGTER GOUDBRUIN STREPE VAN DIE PASGEBORENE  MET BOSLUISVOEL OP DIE RUG

JONGELING DRA GOUD IN DIE MORESTOND
Vir my is daar geen pragtiger kleintjie dan ‘n  sebra-perdjie nie. Hulle sagte boudkroesies en welige maanhare streel en bekoor my oë elke keer.

Sebra kop final
DIS NET DIE MEESTERONTWERPER WAT HIERDIE SEBRA SO PERFEK KON FORMEER

 

KOERANTBERIG:

Klere-verwar-diere-in-britse-dieretuin
‘n Britse dieretuin het gister aangekondig dat ‘n verbod geplaas word op die dra van klere waarop luiperd- of sebra-motiewe gedruk is, aangesien dit die diere verwar. Volgens die dieretuin was die diere oorvriendelik met mense wat dierhuid motief klere dra.

Die diere het ook weggehardloop vir mense wat klere aan het wat soos roofdiere se vel lyk. Die dieretuin het klere beskikbaar gestel wat meer gepas is. (Internet)

MAFUNYANE HINGS LANGS DIE ...
PRAGTIGE MAFUNYANE HINGS MET PAJAMA-KLERE – April14

Het jy enige dierevelklere in jou huis? Vertel gerus meer.

Lees ook die uitdaging oor klere/modes hier: https://scrapydo2.wordpress.com/2015/02/05/toeka-tokel-7-kleremode/

Stap in die spore van ‘n koning

Vreesbevange druk Timo hande teen sy ore: “I am too young to die! I am too young to die!” Adrenalien skiet deur my kop en ek voel hoe die riviersand die Jeep se wiele spinnend vasgryp. Ek ruk terug, net betyds om te sien hoe die stormende leeu se gespierde lyf strompelend oor ‘n dooie boom vou…

Zero. Koning van Karongwe. Dié dag sou hy weer gekroon word. ‘n Splinternuwe VHF collar trots om sy koninklike nek vasgeknip word.

DIE SPUITSTOF WORD OP DIE WARM RADIATOR LOU GEMAAK
DIE AFGEMETE SPUITSTOF WORD OP DIE VOERTUIG SE RADIATOR LOU GEHOU.

DIE WAPEN
Weer en weer word die pylgeweer getoets. Niks mag skeefloop. Agter ons kom daar klokslag ‘n radioboodskap vanaf die veldwagter deur wat van vroeg af al op die leeus se spore loop. Zero is gewaar in die Makutswe omgewing en mik rivier se kant toe.

TIMO MAG DIE PYLGEWEER VASHOU. HIER GLIMLAG HY BREED VIR DIE FOTO.
TIMO MAG DIE PYLGEWEER VASHOU EN GLIMLAG BREED VIR DIE FOTO. MINWETEND!

Alhoewel ons opgewonde, tog senuagtig in die ongerepte bosveld vir mekaar fluister, besef ek maar te goed: Hierdie is ‘n ander speelveld!

DIE COLLAR
Langs my tril Blommie (hierdie blog se fotograaf) opgewonde. Dis ‘n rooiletter dag vir haar. Die formidabele wille koning, wat se krag en statuur vele respek afdwing – by dier en mens – gaan nou-nou platgetrek word. ‘n Voorreg wat miskien nooit weer gesmaak sal word nie.

'NEE OOM KOOS, DIE NECKLACE BEHOORT AAN 'N ANDER KONING!'
” JAMMER OOM KOOS, DIE NECKLACE BEHOORT AAN ‘N ANDER KONING “

Vir nou is daar baie glimlaggies en sports.  Speels hang Blommie die belt om haar pa se nek. As skenker van hierdie waardevolle stukkie hardeleer met ingeplante radiobeheerde monitor, kom die eer hom vir n paar sekondes toe.

Almal wip toe die radio skielik praat: “Julle moet inbeweeg …”

Dis tyd! Haastig spring ons op die oop besigtigingsvoertuie en stoot die neuse rivier se kant toe.

In die doodse stilte wat heers voel ek hoe die bosveld wind aan my hare krap. Of is dit my maag wat draai?

“Daars hy!”  fluister iemand en ek gryp my stoel vas. Voorwaar – daardie aantreklike swart maanhare tussen die goue highligts kan net aan één koning behoort: die alfamannetjie van hierdie woeste stuk oerwoud.

ZERO DIE KRUISPAD OPPAD NA DIE RIVIER
DIE EERSTE VISUEEL VAN ZERO BY DIE DIE SANDKRUISPAD, OPPAD RIVIER TOE.

Ek vergaap my aan bultende spiere, massiewe slap pote wat ritmies vorentoe skop. Verbaas om te dink dat hierdie imposante dier eintlik gesien word as ‘n saggeaarde en goeie pa wat die beste bloubloed welpies gooi. Sy trop beskerm hy met nael-en-tand.

Weer trek ons asem in…

MPHO - KORT OP DIE HAKKE VAN SY PA
MPHO – KORT OP DIE HAKKE VAN SY PA.

Agter hom stap ‘n ander vors, waarvan die jong baardhare duidelik stukkies swart begin vertoon.  “Is dit sy seun?” snak iemand. “Ja, dis Mpho, ‘n moontlike troonopvolger.”

SPOKIE SNY SPOOR
Vir ‘n uur agtervolg ons die leeus op die klippad. Wetende dat hul enigetyd kan uitswaai rivier se kant toe. Dis net waarvoor ons wag.

OPPAD NA DIE RIVIER
STOP-STOP,  RY-RY, WAG-WAG:  SPOORSNY VERLANG UITERSTE GEDULD.

Die leeus is onbewus daarvan dat hul omsingel is. Die rivierbedding word gesien as die ideale plek om ‘n dier in plat te trek, aangesien dit oop is. Gevaar kan agter enige bossie in hierdie ongetemde bosveld skuil waarin die Groot Vyf en ander wilde diere vrylik rondbeweeg.

DIE KONING IS PLAT
Vir nou word Mpho die vyand. Nadat die pylveer sy pa platgetrek het, probeer hy getrou aan sy sy bly en moet gereeld met ‘n droë stok of klip weggejaag word. Digby, net agter die riete kruip hy weg vanwaar hy alles dophou…

SKIELIK ONTNEEM VAN KRAG DEUR DIE SLIMMIGHEID VAN DIE MENS
DIE KRAG VAN DIE LEEU ONTNEEM DEUR DIE SLIMMIGHEID VAN DIE MENS.

 

Tot hier verloop alles klopdisselboom. Banggat speel ek fotograaf en hou my lyf veilig en hoog op die Jeep.

BLOMMIE WOEL HAAR VINGERS DIEP IN ZERO SE HARE
BLOMMIE WOEL HAAR VINGERS DIEP IN ZERO SE MAANHAARDOS.

Blommie sou nooit kon droom dat sy eendag Zero se vel onder haar vingers mag  streel nie. Deel mag wees van ‘n kroning wat sal standhou vir die volgende 5 jaar.

Agterna wys sy my ‘n paar lang swart hare. Dié het sy vinnig uitgepluk terwyl zero geslaap het. ‘n Soewenier. Ek is verras oor die dikte en sterkte daarvan.

Rustig kiek ek voort terwyl die reuk van olifantmis en katpiepie my neus begin kreukel.

Die rivier is warm en droog. Soos ‘n dooie lê Zero oop-oog en staar na …’niks’. Om te voorkom dat sy oë uitdroog druk die veearts ‘n salfie daarin en vou ‘n pers handoekie om die kop vir koelte.

'N OOGSALFIE TEEN UITDROGING EN 'N BOSVELDKAPPIE TEEN DIE SON
‘N OOGSALFIE TEEN UITDROGING EN ‘N BOSVELDKAPPIE TEEN DIE WITSON

.

DIE KONING WORD WAKKER
Agterna het ek baie oor my “wat as …” getop. Julle weet mos: “wat as…”  iets skeefloop. In my gedagtes het ek voorbereidings getref en besluit om die groot coolerbox langs my vorentoe te gooi vir ingeval van ‘n noodgeval.  Agterna het ek gedink dat dit eintlik ‘n puik idee was. Want om die fotos te kon neem was ek by die Jeep se laagste openingskant en kwesbaar.

Terwyl Zero wakker word en in ons rigting storm, is ek werklik braaf genoeg om nog hierdie foto te neem. Wat met die kamera later gebeur het, weet ek nie, maar was ek duidelik bewus van my vingers wat om die koel werklikheid van die coolerbox se handvatsels geklem het.

'NOU IS DIT MY BEURT!" Zero word wakker.
” NOU IS DIT MY BEURT!” Zero word wakker.

Terwyl die afrikaanse Timo gil “I am too young to die!” trek oom Koos spinnend weg en ek voel hoe die Jeep diep in die riviersand vasval. Kletterende klippies en stof warrel in my neusgate en skielik wonder ek waar Mpho is. Vandag is hier groot sports.

Want ‘n halwe klap van só ‘n deurmekaar leeu kan jou maklik bokveld toe stuur. Gelukkig is daar ‘n dooie boom in die rivierloop en terwyl ek my oë hier sluit, sien ek weer hoe hy pootjie en hoe die tuimelende figuur van ‘n koning vernederd en diep ploeg, binne in die warm sand van die Makutswerivier.

Mpho is dadelik by!

Zero agterkant
‘N FOTO VAN ZERO ‘N PAAR MAANDE DAARNA.

GROOT SPORT
Die res van die geselskap, wat veilig aan die oorkant van die river as  toeskouers gesit het, het geskater van die lag. Vir hulle was dit groot sports.

Maar nog nooit was ek só bly om die agterkant van ‘n leeu te sien nie!

(Hierdie stukkie is ook ingeskryf vir Scrapydo se challenge: https://scrapydo2.wordpress.com/2015/01/22/toeka-tokkel-5-sport-en-volgende-5-onderwerpe/ )

Pa en die gespikkelde fenomeen

Die eerste poelpetater het laag oor die heining aangevlieg gekom. Op die plaaswerf het ek en pa in verwondering bly staan. Die voël was vreemd en het senuagtig en wankelrig ingesweef soos ‘n Boeing met wiele vorentoe geskop wat na vlerkbalans soek.

“Pa!” kraai ek opgewonde, “kyk die voël se blou rubber om sy nek.”

Pa het saggies gelag en sy wysvinger op my lippe gehou. “Sjuut – dis ‘n bosveldhoender.”

En so het ek kennis gemaak met die pers-grys pêrel-tarentaal. Pa het daagliks van die hoenders se gebreekte mielies vir die tarentale op die grondpad gestrooi. Terwyl hul pik, sou die wit-spikkels-op-swart my fassinerend betower. Ek het gebrand om die kolletjies van naby te sien of aan te vat, maar pa sou net ingedagte opmerk:

“Hulle wil vry wees …”

TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2012)
TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2013)

Die res van die tarentaal-familie het vermeerder. Tydens mielietyd tel pa my tot bo-op die 200Lt dieseldrom en leer my só omtrent geveerdes. Geduldig wag hy dan tot my 4-jarige lippe die woord duidelik vorm voor hy nuwes gee.

Vandag nog, kan ek die koue harde sade en pitte tussen my woelende vingers voel, diep in die kos-emmertjie. En alhoewel my strooi-armpie te kort was, het pa my gelos. Lang-lip sou ek toekyk hoe pa die gebreekte sade soos reënboogstrepe oor die dor aarde saai. Tot dáár waar die gesnawelde hongeriges trippelend rondspring.

Tarentaal Kop en nek 1‘n Paar jaar later, begin ék egter pa inlig omtrent hierdie gespikkelde fenomeen: “Het pa geweet: hulle is baie lief vir insekte, en bosluise is poeding. As ons Boela luisvry wil hou, moet ons sorg dat hy rustig naby hulle gaan lê.”

Ander keer was pá weer een voor: “Daar is ‘n interessante legende oor die naam van ons bekende Madagaskar-tarentaal. Hy word ook Numida meleagris genoem. Meleager was ‘n figuur in die Griekse mitologie en die seun van Odeus. Toe Meleager dood is, was sy suster so bedroef dat sy verander het in ‘n voël waarvan die vere met trane bedrup was. Hierdie voëls was die tarentaal.”

HOEPELROKKIES OP DIE WERF

Tussen die daaglikse tortelduifies, mossies en mak hoenders, was die tarentale met hul gespikkelde vere die aantreklikste en mees interessantste. Ek het begeer om die wit kolletjies te vryf of aan die gehelmde blou en rooi rubber te trek.

DIE VERE OM DIE LYF 'N TIPIESE HOEPELROK MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES
HOEPELROK-VERE MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES EN  HOëHAKSKOEN-POTE

.

Maar voor my grypende kinderhand het hulle wild gebly en nooit mak geword soos die hoenders nie. Hulle kon woester skrop, vinniger pik, ratser weghol en wild wegkoets agter bossies.

Dan sou die vlerke soos dames se rokke optrek sodat dit nie in die stof sleep nie. So sou hul hardloop met vlerke wat ‘n kenmerkende boog op die rug vorm.

Maar soms, wanneer hul voor my grypende handjie wegtol, sou daar tog iets agterbly:

Tarentaalveer swart-en-wit
Internet Flickr Foto

‘n Dwarrelende veer waarvan die spikkels aan my soveel kleiner vertoon het, want die stof van die aandwind sou alreeds die blink daarvan beroof het …

GESKAPE VIR NOSTALGIE
Maar natuurlik was die tarentaal geskape vir ‘n veel hoër doel. Ek onthou nog pa se woorde soos gister. Want saam het ons verknog geraak aan die grond en verlief op die gewemel en vrugbaarheid van die plaaswerf. Die gespikkelde fenomeen het ook húl kosbare vrug bygedra met gestreepte kuikens wat al pikkende en skroppende in ma se voetspore rondhop. Nooit wou hul maats maak met die mak hoenders nie, nog minder toelaat dat ek hul rondra of perfekte kolletjies afkrap.

Frustreerd en uitoorlê sou ek opruk en tranerig die huis instorm …

Nes pa gesê het is die tarentaal vry, en so sou hy bly, in ‘n klas van sy eie.

Tarentaal Slide 3(Fotos: Mafunyane 2013 – Blommie)

Van plonsput tot botterspinnekop

(Bos stories)

Rondomtaliedraai vertel van die nuwe Wilde Woordeboek wat  kostelike afrikaanse woorde bevat. Terwyl ek die vervangingswoorde vir “longdrop” lees, raak ek nostalgies en onthou mý ondervinding in so ‘n … plaaspardoems.

LONGDROP VOORBEELD - Internet: Rangitoto Iland
LONGDROP VOORBEELD – Internet: Rangitoto Iland

As skoolkind was my besoek aan die dieptroon gewoonlik vroeg, baie vroeg. Voor ligwording, nog voor ons die halwe kilometer tussen die lande na bo moes deurstrompel teerpad toe. Daar sou ons bibberend wag vir die skoolbus om ons op te pik. Menigmaal het ons afgekom op half gevriesde slange in die bospad wat vroegoggend agter warm sonkolletjies aanseil.

Die gemakgat was nie baie gemaklik nie en koud vir die ontblote boude. Want bo die sinkplate wat pa aanmekaar getimmer het was dit oop en kon die wind selfs van onder jou verras. Daarom het ek dié oggend sommer bloots op my hurke gaan sit, bo-op die plonsput.

Dis toe dat ek die fluisterende kielie-kielie op my boboud gewaar.  Ek frons – is dit verbeelding? Dit voel so liggies, saggies, hier in die  halwe skemerlig. Sonder om te dink vat my hand oor die kielie en ek voel die kraak van ‘n yskoue wawielspinnekop wat perfek in die grootte van my hand pas! Al wat ek verder kan vertel is dat ons albei deur die lug geplons het, soos ek soos wind die plonsput agter my verlaat het …

DIE GOUE WAWIELWEBSPINNEKOP  (Argiope cuspidata)

Die Wawielspinnekop se byt is nie giftig nie, alhoewel baie seer. Inteendeel, daar word vermoed dat die poli-amien toksiene potensieël terapeuties kan wees!

KARONGWE WAWIELSPINNEKOP langs die Makutsi rivier.
KARONGWE WAWIELSPINNEKOP langs die Makutsi rivier

Hulle het stewige, lang, ovaal, duidelike geel-en-swart agterlywe wat met verskillende patrone versier is. Met hulle lang bene kan hulle nogal vreesaanjaend voorkom. Dit is egter net die wyfie wat so groot word en koponderste- bo aan goue drade hang.

Die wawielspinnekop het baie natuurlike vyande en verskeie voëls, ander insekte en ook diere soos blouapies vang hulle.

‘n Nuwe spesie is onlangs ontdek wat as ‘n reus beskou word tussen die web-bewoners “Nephilakomaci.”

Hulle is egter baie skaars en is nog net in KwaZulu-Natal aangetref. Niks is bekend oor die gif van die nephilas vir mense nie. Die spinnekop kom min in aanraking met mense aangesien hulle vinnig wegvlug as gevaar dreig.

SPINNEKOPWEB langs die Makutsi 2013 (Foto: Blommie DMD215)
ANKERDRADE van ‘n spinnekopweb langs die Makutsi rivier 2013.  Let op die grootte van die wyfie reg in die middel van die web.   (Foto: Blommie DMD215)

GOUE WAWIEL-WEBNEPHILAS

As jy van naby na ‘n wawielweb kyk, sal jy dalk ‘n baan sigsagdrade van die middel af sien uitstraal – wetenskaplikes noem dit die stabilementum. Hierdie spinnekop is van ons grootste web-bouers wat met goudkleurige sy spin. Die grootte laat menig wildkykers vries omrede die sydrade besonder sterk is en tot klein voëltjies kan vang. Die wyfe sit gewoonlik heel opvallend in die middel en verlaat nooit die webhuis nie. Daar vang sy  daagliks vlieënde insekte op.

Nou ja, kom ons klim die Jeep en gaan soek botterspinnekoppe. Hoe nou? Nee dankie? Niemand wil saam ry nie?

Jeep Karongwe

Gedurende April span die wyfie haar web oor die pad en kan jy nie waag om sonder ‘n groot tak op die oop Jeep die bosse in te rits nie. Die voorste persoon steek dan die tak vooruit, sodat dit die spinnekop en web voor die tyd opvang en die drade of spinnekop nie binne in iemand se hemp beland nie. Chaos!

Glo my – sekere mense (mans ingesluit) is banger vir so ‘n spinnekop binne die Jeep dan ‘n leeu buite die Jeep. Gillend spring hul af of skuif op, en moet die spinnekop eers gevang word voordat hulle dit waag om terug te klim!

PROOIVANGER 'n Wawielspinnekop spin haar vangs toe om later aan te vreet
PROOIVANGER: ‘n Wawielspinnekop spin haar vangs toe om later aan te vreet

Moet dus asb nie volgende keer uit die Jeep spring wanneer hierdie spinnekop jou boud kielie nie. Hulle is pragtig en skadeloos!

Stem jy?

(Fotos geneem deur Blommie – DMD215)