Tag Archives: pa

Pa en die gespikkelde fenomeen

Die eerste poelpetater het laag oor die heining aangevlieg gekom. Op die plaaswerf het ek en pa in verwondering bly staan. Die voël was vreemd en het senuagtig en wankelrig ingesweef soos ‘n Boeing met wiele vorentoe geskop wat na vlerkbalans soek.

“Pa!” kraai ek opgewonde, “kyk die voël se blou rubber om sy nek.”

Pa het saggies gelag en sy wysvinger op my lippe gehou. “Sjuut – dis ‘n bosveldhoender.”

En so het ek kennis gemaak met die pers-grys pêrel-tarentaal. Pa het daagliks van die hoenders se gebreekte mielies vir die tarentale op die grondpad gestrooi. Terwyl hul pik, sou die wit-spikkels-op-swart my fassinerend betower. Ek het gebrand om die kolletjies van naby te sien of aan te vat, maar pa sou net ingedagte opmerk:

“Hulle wil vry wees …”

TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2012)
TIPIESE TARENTAALFAMILIE (Foto: Mafunyane 2013)

Die res van die tarentaal-familie het vermeerder. Tydens mielietyd tel pa my tot bo-op die 200Lt dieseldrom en leer my só omtrent geveerdes. Geduldig wag hy dan tot my 4-jarige lippe die woord duidelik vorm voor hy nuwes gee.

Vandag nog, kan ek die koue harde sade en pitte tussen my woelende vingers voel, diep in die kos-emmertjie. En alhoewel my strooi-armpie te kort was, het pa my gelos. Lang-lip sou ek toekyk hoe pa die gebreekte sade soos reënboogstrepe oor die dor aarde saai. Tot dáár waar die gesnawelde hongeriges trippelend rondspring.

Tarentaal Kop en nek 1‘n Paar jaar later, begin ék egter pa inlig omtrent hierdie gespikkelde fenomeen: “Het pa geweet: hulle is baie lief vir insekte, en bosluise is poeding. As ons Boela luisvry wil hou, moet ons sorg dat hy rustig naby hulle gaan lê.”

Ander keer was pá weer een voor: “Daar is ‘n interessante legende oor die naam van ons bekende Madagaskar-tarentaal. Hy word ook Numida meleagris genoem. Meleager was ‘n figuur in die Griekse mitologie en die seun van Odeus. Toe Meleager dood is, was sy suster so bedroef dat sy verander het in ‘n voël waarvan die vere met trane bedrup was. Hierdie voëls was die tarentaal.”

HOEPELROKKIES OP DIE WERF

Tussen die daaglikse tortelduifies, mossies en mak hoenders, was die tarentale met hul gespikkelde vere die aantreklikste en mees interessantste. Ek het begeer om die wit kolletjies te vryf of aan die gehelmde blou en rooi rubber te trek.

DIE VERE OM DIE LYF 'N TIPIESE HOEPELROK MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES
HOEPELROK-VERE MET AANTREKLIKE OUTYDSE KOLLETJIES EN  HOëHAKSKOEN-POTE

.

Maar voor my grypende kinderhand het hulle wild gebly en nooit mak geword soos die hoenders nie. Hulle kon woester skrop, vinniger pik, ratser weghol en wild wegkoets agter bossies.

Dan sou die vlerke soos dames se rokke optrek sodat dit nie in die stof sleep nie. So sou hul hardloop met vlerke wat ‘n kenmerkende boog op die rug vorm.

Maar soms, wanneer hul voor my grypende handjie wegtol, sou daar tog iets agterbly:

Tarentaalveer swart-en-wit
Internet Flickr Foto

‘n Dwarrelende veer waarvan die spikkels aan my soveel kleiner vertoon het, want die stof van die aandwind sou alreeds die blink daarvan beroof het …

GESKAPE VIR NOSTALGIE
Maar natuurlik was die tarentaal geskape vir ‘n veel hoër doel. Ek onthou nog pa se woorde soos gister. Want saam het ons verknog geraak aan die grond en verlief op die gewemel en vrugbaarheid van die plaaswerf. Die gespikkelde fenomeen het ook húl kosbare vrug bygedra met gestreepte kuikens wat al pikkende en skroppende in ma se voetspore rondhop. Nooit wou hul maats maak met die mak hoenders nie, nog minder toelaat dat ek hul rondra of perfekte kolletjies afkrap.

Frustreerd en uitoorlê sou ek opruk en tranerig die huis instorm …

Nes pa gesê het is die tarentaal vry, en so sou hy bly, in ‘n klas van sy eie.

Tarentaal Slide 3(Fotos: Mafunyane 2013 – Blommie)

Advertisements