Sy rill … tot binne in haar siel. Sien weer die honger swartkopdogtertjie wat deur die verbode doringdraad wurm om by die winkende soet nektar uit te kom.
Opgewonde pluk sy. Die vrugte laat haar mond water en maak sy sommer van haar rokkie se skoot ‘n mandjie. Terug by die draad moet die kosbare vrag eers neergegooi word, dan weer opgetel word, voordat sy vinnig kan terugvlug huistoe.
Sy voel hoe honderde onsigbare doringkies hul suiers diep in haar brose velletjie insteek. Selfs haar sagte binnebeen plekkies onder die kosbare vrag begin kriewel. Maar sy weier om haar oes weg te smyt. Voel dan hoe die sout van haar trane die dorings wat op haar bolip vergader, aan die brand steek …
“Gaan ons turksvye pluk?” dring manlief weer en my oë vlieg oop.
“Nee dankie!” Ek skrik vir die drif. Skielik voel dit of my hande oortrek word met hordes onsigbare stekels.
Almal spring op die Jeep. Ek wuifel: “Goed goed, ek gaan saam, maar net om fotos te neem …”
Weereens wink die buurman se vye deur die draad na my. Maar hierdie keer is daar oorgenoeg aan die binnekant.
Deur die lens vergru die vyand: “Rerig?” snork ek liggies, geen wonder – die stamdorings van die turksvy steek wild en wragtig na alle kante en is nie skaam om hulle prik te pronk nie.
Die Opuntia tuna is deel van die kaktus familie en is die dorings en distels op hierdie plante eintlik “verskrompelde blare” wat vir ’n ander doel toegerus is.
Pynlike ondervinding vanuit my kinderjare leer: Maak eers vir jou ‘n jamblikkie ordentlik vas aan ‘n lang paal. Pluk dan nét daarmee! En moet ook nie onder die wind staan waarheen die dorings waai nie, anders “sit jy met ‘n turksvy.”
Dan word die vrug in ‘n emmer met water gedompel en goed geroer sodat die dorings kan begin loswoel.
Turksvye is van Suid-Amerika na Suid-Afrika gebring, en word oor die algemeen as ‘n pes en bedreiging beskou.
Ek glimlag vir die sebra’s agter my wat nuuskierig nader staan. Selfs húlle wonder waaroor die commotion gaan.
Nou is dit die dames se beurt.
Terwyl sy oes sing die sonbesies: “Die oes is groot maar die arbeiders is min!” Ons raak vrolik want niks is so lekker soos ‘n yskoue turksvy vanuit die yskas nie.
By die Jeep word die vye weer oorgeskep in ‘n ander houer.
Ek adem die omgewing in. Hier tussen veldblommetjies en miskruiers kan mens ontspan. Dis lekker om te weet dat die swartkopdogterjie haar vrese oorwin het.
Sy was maar net deel van die spel-van-grootword in die woeste wildernis.