Tag Archives: Sabierivier

Skillie Skop Stof

Die Kruger Wildtuin is groen. Tangle-groen.

Satara Maart 2017

Selfs die langbeen-diere sukkel om kop bo gras te hou. Ek sug – die kans vir kolle in die sand of agter welige blare, is skraal. Die bosveld ruik egter vol avontuur.

My oë brand van al die stipkyk, soveel so dat die stoomende stofkol wat in die grondpad na ons aangerol kom spookerig voorkom.

Dis Skillie. En op ‘n mission! Hy marsjeer reguit op my af.

Die kar briek. Skillie bars in my lens in. Donker priemende kraalogies tuur tot diep binne in my siel.

“Waar is die marshmallows?”

“Wat?” skrik ek en tuur terug. Het die kruger-diere hul respek vir mense verloor?

Tandloos en papbek hap hy na my – en wag – en hap weer.

Ek vererg my vir die arrogansie. Ek meen – soek hy dalk ‘n pienke of ‘n witte? Realiteit skop egter in en ek antwoord beslis: “Jammer, ons is gehoorsame burgers, ons voer nie.”

Ons oë gom. Hy wag beslis, ek kliek gewis.

“Is jy verwant aan ‘n denosourus?” vra ek en verkyk my aan sy growwe skilferdobvel.

“Wel … ” skommel hy en lig sy skub-bedekte voorklou, “eet ‘n denosourus marshmallows?”

“Sorry, geen marshmallows,” snork ek en zip die kosmandjie toe.

“Sorry, geen fotos, ” wip hy en zip weg onder sappige groen gras.

Die Kruger is nat en die damme vol.  By die volgende laagwaterbrug woon ‘n mega-skilpadfamilie saam hul aangenome krok-ma.

Ons stop en begin kliek. My lens sien tot binne in die hart van ogies.

“Waars die marshmallows?” koor dit.

“Wat!?” blaas ek verontwaardig. Wat gaan aan met die Kruger diere. Nes die politiek ruk dinge handuit.

Dit voel of 20 paar oë my deurboor. Naby my, heelvoor troon die patriarg.

Hy is aantreklik en glibberig. Spog met 2 geel pêrels op sy onderlip. Deur die lens sien ek hoe die borrels uit sy ronde snoetgate stoot:

“Kom ek vertel jou die geheim …” brom hy onskuldig en swaai sy  volle lyf na my. Ek aanskou dit ondersoekend en skrik vir die vetterige rou wond deur sy dop wat na my gaap. Ek sluk.

“Die geheim is,” kom dit manipulerend, “as die marshmallows volop val, byt die krokodil nie na doppe nie.”

Ek hyg! Rondom raak die veld stil. Die krokodil knipoog na my. Op haar rug gewaar ek ‘n blinkding wat skree: “Help, help!”

Is dit wat mens ‘n Kruger-“bribe” noem? Ek smyt die kamera neer.

En voel  hoe my vingers diep in die sagte marshmallows woel.  Skielik hunker ek na die pienksoet daarvan op my bitter tong …

Water wat wink

Oktober, 2013.

Kameelperde knibbel langtand aan dor herfsblare, smagtend na eerste sappige bloeisels.

TYDENS UITERSTE DROOGTE VERTOON DIERE DIESELFDE KLEUR AS DIE BLEEK VELD (5 Okt 15 - 007)
WANNEER EERSTE REëNS KOPPIG WEGBLY SMELT DIEREKLEURE SAAM DIE BLEEK VELD.  (5 Okt 13, 007)

Rooistof klou aan buffelsweet terwyl die savannah haar grassade diep in die skoot koester.

Selfs die koning laat sy goue kroon onrustig sluimer. Saam die salige hitte wag sy gemoed op die dreun van die eerste donder. ‘n Belofte wat die groot dors kan les.

Leeu in hitte

Die renoster proe die bitter alg van stinkende modderpoele …

Renoster drink

voordat hy ‘n modderbad van die maerte daarvan maak.

Renoster modderbad

Die water kom!

Wanneer die hemel haar vensters oopgooi stoot stortreëns kabbelende voortjies na damme en riviere.

Kameelperd drink

Die kameelperd buig makliker terwyl ‘n saalbek-ooievaar hap-hap na die lewe in die water.

Buffels klouter na benede, terwyl waterlelies se spruite ontkiem en biesies met denamiet in sade spog.

Buffels in dam

Die saalbek se hap-hap vorm waterrimpels  wat al wyer-en-wyer hoepels kabbel.

Voël in water

Olifante stoom en rol en spuit koel water-strooitjies na mekaar.

Olifante bad

Buffels skep water met hul holtes en hoor die klotsing van bruisende golfies.

Buffels rol in water

Nou wonder ek … waarom het elke dam ‘n dooie boom? is dit juis van te veel water of die droogte?

Boom droog in water
SEEKOEIE ONDER ‘N DROë BOOM DROOM VAN SEISOENE WAARIN HULLE IN DIEP WATERS KAN WEGSINK.

Geen mens of dier kan sonder die water van die lewe nie.

(Hierdie stukkie is ingeskryf vir Scrappy2 se uitdaging oor WATER/BADTYD)

Kolle in die Sand

(Spesiale dank aan Sonel wat op my blog agtergekom het dat ek die volle storie omtrent die luiperdspoor-in-die-sand nog nie geplaas het nie.)

Terwyl ons afdaal na die laagwaterbrug, sien ek hoe die geelsand in die Sabierivier onder die sakkende son begin blink. Ons is vrolik – die kampplek is net om die draai en kan ons die tjoppies op die knetterende vuur al ruik.

Met ‘n rondborstige gevoel begin ons kameratoerusting wegpak. Ons dag was volmaak: die Groot Vyf is talle keer op film vasgeprent en het ‘n geheimsinnige Luiperd in ‘n hemelhoë boom ons die heel middag op ons tone gehad. Daar is niks beters wat nog kan gebeur nie…

Ek is verkeerd. Iets flits oor die brug en verdwyn agter ‘n sandbank. Skielik briek die Fortuner onder my boude.

“Luiperd!”

“Wat!?” koor dit om my en ek trek asem in.

SKUKUZA LUIPERD ROL EN SPEEL IN DIE WARM SABIERIVIER SAND
ONDER SABIE LUIPERD OP DIE H4-1 IN DIE WARM NAMIDDAG SABIERIVIER SAND
"PRRR - HANDE SKOONLEK VOOR DIE GROOT VANGS"
“PRRR…” LEKKER ROL EN SPEEL EN KRAP VOOR DIE VANGS VAN DIE NAG

Sowaar – daars “Kolle in die sand”. ‘n Luiperd is besig om te rol en te krap en te speel en homself te groom voor die nag se wilde vangs. Hy moes vanuit sy veilige skuiling gekom het en maak reg om ook sy tjoppie vir die nag te  jag.

 

Moeder Natuur het ons weereens verras en besluit om die hoogtepunt van die dag vir die aand-slot-toneel te bêre. ‘n Volmaakte dag wat agterna nog lank onthou sou word, want voor jy kon se ‘mes’, was al wat ‘n kamera en verkyker is stewig in die hand.

 

DIE NASIONALE KRUGERWILDTUIN bevat groot tuisvelde wat aan al die vereistes van Die Groot Vyf voldoen. Hier inspireer en fassineer die Luiperd jou met sy louter grootte en krag.

Luiperd 071

 

LUIPERD FEITE

SKUKUZA LUIPERD GROOM HAARSELF VOOR DIE VANGS
ONDER SABIE LUIPERD LEK HOMSELF VOOR HY DIE NAG INSTAP

1. Die Luiperd (Panthera pardus) word omtrent 70 – 80cm hoog en kan tot 70kg weeg.

2. Hulle is alleenlopende en geheimsinnige diere.

3. Gewoonlik jag hulle snags, en doen dit deur die prooi in ‘n lokval te lei.

4. Die luiperd se woonplek is in digte bosse, rotsagtige koppies of woude.

5.  Bedags slaap hulle meestal in ruig hoë bome vanwaar hulle die wêreld rondom kan bespied.

 

TYD OM TE GAAN:  Skielik spring die Luiperd op en stap dieper die rivier in. En dit voel asof een van my kinders besig is om my te verlaat…

SKIELIK SPRING SY OP - EN GAAN LE
ONDER SABIE LUIPERD STAP NA ‘N POEL WATER OM TE GAAN DRINK EN OP DIE NOG WARM SAND NEER TE STRYK

Met die blote oog kon ons hom nie meer gewaar, maar het die lens ons verseker daar is nog steeds: “Kolle in die sand.”

Luiperd 065 VollyfLet net op die grootte van die poot voor die luiperd se gesig. Dit kan maklik oor die volle gesig van ‘n mens klem …