Tag Archives: watervalletjies

Piesangs aan Pote

Toe die skoot klap, laat los die aapskind. Skreeuend gryp haar ma haar aan die hare en sleep haar die bos in. Daarna het ek nie weer die hartsgesiggies gesien nie. Dis asof die tarzantoue en kranse hulle ingesluk het.

Onder my skaats en brul die 4×4.  Magoebaskloof is mistig, die rooipad seepglad en die koue geweerloop wat ek tussen my bene vasknyp stuur rillings my ruggraat op. Die wapen is net ‘n afskrikmiddel, maar bly gevaarlik. Hier is ‘n oorlog aan die gang, tussen mens en dier, om eerste die nektar van die langwerpige groen gebuigde vingers te mag oes.  piesangs-aan-pote-2

By die stoor word die trosse  gedoop in ‘n diep enamelbad – dit verhaas die rypmaakproses – en dan aan hulle pote opgehang.  Die sagtevrug (genus musa) is baie gewild in Suid Afrika en ‘n genotvolle genieting.

Iets wink na my. Dit kom vanuit die eensame piesanghoek waar die oorryp uitskot weggegooi word. Ek skil die geelgoud los van die vrugvlees. Dit proe glad en verrassend soet! ‘n Ryp-gladde-smaak wat net aan dié behoort wat dit sal waag om die swart gedeeltes uit te spoeg.

piesangs-oes-2

Ek voel jammer vir die werkers. Die tropiese hitte suig taai aan jou  lyf en is die deurhandvatsel waaraan ek klou nat gesweet. Daar is geen genade terwyl ou swaer die wit esel in die piesangland inwurm om die trosse in te samel.

Die piesangplant is nie werklik ‘n boom nie, maar lyk soos ‘n klomp toegevoude blare en kan selfs tot 10m hoog groei. Nadat die tros gepluk is word die hele tak afgekap om plek te maak vir ‘n nuwe suier vanuit die wortelstok.

Ek hou asem in terwyl die oorlaaide 4×4  sy kosbare vrag stoor toe stoei. Langs my voel dit of die afgrond ons insluk en die bakkie se snoet bly neuk verkeerde kant toe.

piesang-2

Hier groei die piesangs goud en gesond en proe soos hemelsgoed. Bo my kop in die palmboom koer twee duifies: “kom tot rus, kom tot rus” en voer hul liefdes-ritueel uit.

Later die dag is ek veilig terug by my houthuis-nessie wat in die skoot van Magoebaskloof koester. Ek sug en adem die bekoring van die reënwoud in, ruik die reuk van lietjieblom en proe al die vlees van avokado’s.

magoeba-sonhoekie

Soos ou swaer, het ek nie groenvingers nie,  maar is die watervalletjies my genadig en skep self natuurlike inheemse tuintjies rondom my uilhoekie. ‘n Plekkie om die soet vrugte-oes van die liefde te vier.

Water wat wink

Oktober, 2013.

Kameelperde knibbel langtand aan dor herfsblare, smagtend na eerste sappige bloeisels.

TYDENS UITERSTE DROOGTE VERTOON DIERE DIESELFDE KLEUR AS DIE BLEEK VELD (5 Okt 15 - 007)
WANNEER EERSTE REëNS KOPPIG WEGBLY SMELT DIEREKLEURE SAAM DIE BLEEK VELD.  (5 Okt 13, 007)

Rooistof klou aan buffelsweet terwyl die savannah haar grassade diep in die skoot koester.

Selfs die koning laat sy goue kroon onrustig sluimer. Saam die salige hitte wag sy gemoed op die dreun van die eerste donder. ‘n Belofte wat die groot dors kan les.

Leeu in hitte

Die renoster proe die bitter alg van stinkende modderpoele …

Renoster drink

voordat hy ‘n modderbad van die maerte daarvan maak.

Renoster modderbad

Die water kom!

Wanneer die hemel haar vensters oopgooi stoot stortreëns kabbelende voortjies na damme en riviere.

Kameelperd drink

Die kameelperd buig makliker terwyl ‘n saalbek-ooievaar hap-hap na die lewe in die water.

Buffels klouter na benede, terwyl waterlelies se spruite ontkiem en biesies met denamiet in sade spog.

Buffels in dam

Die saalbek se hap-hap vorm waterrimpels  wat al wyer-en-wyer hoepels kabbel.

Voël in water

Olifante stoom en rol en spuit koel water-strooitjies na mekaar.

Olifante bad

Buffels skep water met hul holtes en hoor die klotsing van bruisende golfies.

Buffels rol in water

Nou wonder ek … waarom het elke dam ‘n dooie boom? is dit juis van te veel water of die droogte?

Boom droog in water
SEEKOEIE ONDER ‘N DROë BOOM DROOM VAN SEISOENE WAARIN HULLE IN DIEP WATERS KAN WEGSINK.

Geen mens of dier kan sonder die water van die lewe nie.

(Hierdie stukkie is ingeskryf vir Scrappy2 se uitdaging oor WATER/BADTYD)

Poort na ‘n paradys

Die rooi grondpad hierbo met die welige boog-van-groen is die laaste een waaronder jy deursweef voordat jy ons koester
houthuisie tussen bergpieke en miswolke
vind

Langs jou en rondom jou kabbel vrolike stroompies,
soos die aardkors vanuit haar oorvol pens
water spoeg

Druk jou oor teen die grond, en jy hoor die grasse en
plante kreungroei soos hulle wortels in diep
vrugbare grond inploeg

Magoeba waterval glad e natGLAD EN NAT

Wil jy ‘n entjie gaan stap in hierdie misterieuse reënwoud?
Moet dan nie vergeet om jou vastrap-tekkies en
stapstok in die hand goed vas te klem nie

Soms voel dit of jy fluister-in-‘n-paradys, want niks mag die katedraal stilte se gewyde atmosfeer steur nie

PIEPKLEIN ORGIDEE wat groei in 'n boomstam
PIEPKLEIN ORGIDEE wat groei in boomstam 2014

WARM VLAMME IN GEEL SONSKYN

Hier gesels die natuur in reënboogkleure
Waar orgideë se orange-vlamme warmer skyn
Terwyl jou voete in ‘n spons-en-blarekombers wegsak

En skoenlappers vrolik fladder buite jou gryp
in die warm stroom bokant die kloof

Magoebaskloof 2013
Magoebaskloof 2014

 SNEEU VIR ‘N BRUID

In Magoebaskloof onder die misreën is die bloeisels
bedruip met liefdes-trane

Dan is ek soos ‘n nimf in ‘n bos, dankbaar om ‘n stukkie paradys
in ons hartland se kloofwêreld te geniet

Geniet jou Kerstyd

Spokie